Covid-19: Indië-, Engeland-variante in SA opgemerk

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid. (Foto: Twitter)

Daar is geen rede tot kommer nadat die Covid-19-variante wat die eerste keer in Indië en Brittanje beskryf is, in Suid-Afrika opgemerk is nie.

Volgens dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het die netwerk vir genomiese waarneming in Suid-Afrika bevestig dat twee ander variante, die B.1.1.7-variant (wat die eerste keer in Engeland beskryf is) en die B.1.617.2-variant (wat die eerste keer in Indië beskryf is), nou ook in Suid-Afrika aangemeld is.

Daar is vier gevalle van die sogenaamde Indiese variant aangemeld. Twee van die gevalle is in Gauteng en die ander twee in KwaZulu-Natal. Al die mense het onlangs uit Indië in die land aangekom.

“Hulle is geïsoleer en kontakopsporing is uitgevoer om die verspreiding van dié variant te beperk,” het Mkhize gesê.

Die 11 gevalle van die sogenaamde Britse variant is in die Wes-Kaap (8), KwaZulu-Natal (1) en Gauteng (2) opgespoor. Twee van die agt gevalle in die Wes-Kaap is by mense wat onlangs van Bahrein in die land aangekom het.

Volgens Mkhize is die variant in gemeenskapsmonsters waargeneem wat daarop kan dui dat gemeenskapsoordrag reeds aan die gang is.

“Namate die epidemie vorder, is die opsporing van nuwe variante onvermydelik. Genomiese waarneming help ons om die variante op te spoor en hul gedrag te verstaan, asook om entstowwe te verfyn sodat dit doeltreffend bly.”

Daar is ook ʼn aantal ander monsters van mense wat onlangs in Suid-Afrika aangekom het wat nog getoets word en die resultate word oor die volgende paar dae verwag.

“Ons wil herhaal dat daar geen rede tot paniek is nie, aangesien toetsing, kontakopsporing, isolasie en kwarantyn steeds voortgaan. Ons het almal die verantwoordelikheid om voorkomingsmaatreëls na te kom om die verspreiding van Covid-19 in Suid-Afrika te beperk.”

Mkhize het gesê daar is wel kommer oor die moontlike bedreiging van variëteite. “Reisbeperkings moet gebalanseer word teen die wetenskaplike werklikheid om die ekonomie te beskerm. Dié bevindings word dringend deur die regering verwerk en aankondigings rakende reisregulasies sal gedoen word nadat alle nodige samesprekings deur die kabinet onderneem is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

SwartBees ·

Met die anc aan die stuur van sake kan ek nie help om myself in n ander bloed groep in te bekommer nie.

Manda ·

Vroëer die week het die einste minister die absolute versekering gegee dat die variant uit Indië NIE hier is nie….hoewel hulle nog die uitslae moes kry. En nou? Nou is dit ‘onvermydelik’ dat mutasies sal voorkom en versprei. Natuurlik ja. Hoekom nie van die begin af die regte info deurgee nie? Ai nee

Wonder net ·

Suid Afrikaners mag nerens heen gaan nie want almal is bang vir ons variant. Maar al die ander risiko lande se mense word hier toegelaat! Laat mens net wonder… wie se belange het ons regering op die hart.. of gaan dit oor held wat inkom? n week terug het die einste mamparra die mense die versekering gegee dat dit onwaar is dat daar mense met die nuwe variant hier is nie. Nou is daar al 4… gemeenskap oordrag is klaar aan die gang. Wat van doe vragskip van indie met die 14 of wat siek mense op? Hulle voer ons net vals inligting. Familie vergadering Maandag of Donderdag.

Kompas ·

Ditto. Ons mag nêrens heen reis nie , omdat meeste lande ons verbied, maar ons grense is oop vir almal. Op die ou end vd dag gaan daar net meer en meer variante in SA aangetref word.

Thom ·

Dan skryf jy gereeld van die twak wat jy kwytraak . Hoe vergelyk jou kwalifikasies met die van die minister ?

Jan ·

Ha ha almal dink steeds dat hulle virusse kan “bestuur” en “beheer” maar al wat beheer word is die vryheid van mense.

Dirk Mostert ·

Word alle monsters nou vir variante getoets? Met dieselfde ou toets of met verskillende toetse vir al die beweerde variante?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.