Covid-19 kortwiek steeds talle eiendomstransaksies

(Foto: pixabay)

Die meeste verkopers, kopers, eiendomsagente, banke en prokureurs was verheug toe aangekondig is dat die aktekantore op 4 Mei weer kan open onder vlak 4 van die afsonderingsregulasies om Covid-19 te bekamp.

Dit sou beteken eiendomtransaksies kon afgehandel word: kopers kon die opbrengste op die verkoop van hul eiendom kry, kopers kon verhuis sodra die eiendom in hul naam geregistreer is en eiendomsagtente kon weer kommissie op hulle verkope verdien. Banke kon ook weer lenings uitreik en rente ontvang en prokureurs hulle fooie verdien.

Lethabo Mashishi, ʼn prokureur by Adams & Adams, sê sake het ongelukkig nie heeltemal so glad verloop as wat aanvanklik verwag is nie.

“Die aktekantoor het in werklik eers op 13 Mei geopen na die openbare aankondiging van die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming op 12 Mei in die Staatskoerant verskyn het. Die aktekantore het ook gewag om persoonlike beskermende toerusting van die regering te ontvang en die nodige reëlings moes getref word sodat personeel veilig na die werk kon terugkeer,” verduidelik Mashishi.

Sedert die heropening is die aktekantore in Kaapstad, Johannesburg en Pietermaritzburg ook weer in ʼn stadium gesluit sodat die geboue ontsmet kon word nadat van die personeel positief vir Covid-19 getoets het. In werklikheid is die aktekantoor in Kaapstad tans vir ʼn tweede keer gesluit.

“Dit, tesame met die feit dat slegs ʼn beperkte aantal personeellede in kantoorruimtes toegelaat word, het die vertraging in die ondersoek van talle aktes veroorsaak,” sê hy.

Die situasie in Kaapstad het in so mate vererger dat die Kaapstadse Prokureursvereniging en ander instansies genoop was om dringende regstappe teen die aktekantoor te doen om ʼn hofbevel te kry wat dié kantoor dwing om sy werksaamhede hervat.

Mashishi sê dit is egter nie die enigste kommer vir die partye wat by eiendomstransaksies betrokke is nie.

“Oordragprokureurs is afhanklik van eksterne rolspelers soos die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) en munisipaliteite. SAID moet ʼn hereregtekwitansie uitreik en munisipaliteite moet uitklaringsyfers en sertifikaat ten opsigte van die erfbelastings op ʼn eiendom uitreik. Dit is dokumente wat by die aktekantoor ingedien moet word om uiteindelik ʼn eiendomstransaksie te registreer.

“Daar word van alle rolspelers verwag om hul deel te doen om ʼn eiendomstransaksie so gou as moontlik suksesvol te registreer en die oordragprokureur moet die hele proses aandryf.

“Tans sukkel oordragprokureurs om die nodige syfers en sertifikate van munisipaliteite te ontvang, wat vertragings en frustrasies by al die betrokke partye veroorsaak, veral by diegene wat finansieel van die registrasie van die transaksie afhanklik is.”

Onder normale omstandighede neem dit ʼn week om die uitklaringsyfers van ʼn munisipaliteit te kry, en ʼn verdere twee tot drie dae om ʼn sertifikaat te ontvang as die uitstaande diensterekening en erfbelasting vereffen is.

“Op die oomblik is daar egter steeds klaringsyfers uitstaande wat aan die begin van Mei versoek is,” sê Mashishi.

Die Wet op Munisipale Stelsels bepaal dat ʼn klaringsertifikaat slegs geldig is vir ʼn periode van 60 dae vanaf die datum van uitreiking. Dit beteken die eiendomregistrasies wat met die afsonderingtydperk gereed was vir registrasie se sertifikate het reeds verval en nuwe syfers moet nou eers weer aangevra word.

“Dit lyk nie of die verskillende afdelings van die munisipaliteite tuis gewerk het met die instelling van die inperking nie. Dié personeel begin nou eers stadigaan sake hervat om die nodigste dienste op vlak 3 van afsondering te lewer.

“Die agterstand wat geskep is, tesame met die beperkte aantal personeellede wat by die kantoor toegelaat word om aansoeke vir uitklaringsertifikate te verwerk, het ernstige gevolge vir die eiendomsbedryf.”

Volgens Mashishi het verskeie munisipaliteite gelukkig hierdie probleem erken en met verteenwoordigers van verenigings binne die regsgemeenskap gesels om die vertragings te oorkom.

“Die Tshwane-metro het byvoorbeeld met lede van die Pretoriase Prokureursvereniging en die Gautengse Prokureursvereniging vergader om te kyk hoe hulle saam die vertragings kan uitskakel.”

Hy sê dit wil voorkom om die munisipaliteite daartoe verbind is om die probleem te hanteer, wat die hoop skep dat daar wel ʼn lig aan die einde van die tonnel is.

“Tot tyd en wyl die uitklaringsyfers en sertifikate binne aanvaarbare tydlyne uitgereik word, sal partye wat betrokke is by eiendomstransaksies geen ander keuse hê nie as om die vertragings te verduur,” voeg Mashishi by.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

gehasie ·

Wanneer gaan ingeligtes met die werklike statestieke voorendag kom? Wanneer Dr. Gray volgens die ANC moet omverskoning vra vir wetenskap gerugsteunde waarhede dan is daar hoeka ‘n slang (ANC) in die gras! Maroela Media span asb jul beste ondersoekende joernaliste in om die saak te ondersoek!

Die Wolf ·

Glo nie hulle sal dit doen nie. Julle behoort te weet hoekom.

JJ ·

Die probleem is die argaiese metode waarop eiendomsreg oorgedra word. Die tyd het het aangebreek om die bedryf te ontwrig met blokketting tegnologie. Daar is geen rede waarom transaksies nie binne 7 dae afgehandel kan word nie. Die feit dat ons vir 99 jaar in die dusiternis geloop het, beteken nie dat ons in die duister moet loop vir die volgende 99 jaar nie. My advies aan rolspelers in die bedryf- verander self, bestudeer blokketting tegnologie en innoveer. As julle dit nie doen nie, gaan buitestaanders dit doen en gaan julle net toeskouers wees en groot trane stort in die proses.

LANA is ELANè ·

Nes by al die ander kantore is almal traag om tot aksie oor te gaan! Dit is ‘n gesukkel om iets so eenvoudigs soos jou bestuurderslisensie te hernieu, met die dat niks gebeur het toe ons in inperking 1 en 2 was nie. Nou is al die amptenare uit oefening wat “kom ons werk nou” betref. Daar word voete gesleep terwyl die publiek soos uitvaagsels behandel word omdat daar ingemeng word met koffietyd.

lekkerdink ·

Ek is n eiendoms agent by n bekende maatskappy .
Ek stem saam met JJ . Argaies is nie die woord nie . Ek het 3 transaksies wat sedert November in die Tshwane munisipaliteit le omdat hulle ons nie glo dat daar geen geboue op die erwe is nie nadat fotos en wat nog aangestuur is . Die probleem is datdaar geen tosig oor enige dept is nie want soos die regering , is ons in beheer en sal ons maak soos ons wil en almal moet net verlief neem . Die artikel wat mnrMashishi geskryf het is presies reg . Kom ek roer sommer nog iets aan . Waarvoor moet daar 2 prokureurs wees om een oordrag te hanteer . Die arme kopers betaal deur hulle nek om ‘n eiendom te kan koop . As ek op die platform n uiteensetting gee van kostes koop niemand n huis nie . Die tydsfaktor wat JJ noem is ook nonsense . oorsee registreer hulle n eiendom in 7 dae en dit kos omtrent 98% goedkoper.

Ek se weer in SA is geen besigheidsetiek nie . 90% van alle besighede neem soveel as hulle kan met so min as moontlike diens .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.