Covid-19: ‘KZN nou in derde golf,’ sê premier

Sihle Zikalala.

KwaZulu-Natal is tans in die derde golf van die Covid-19-pandemie en het die afgelope drie dae daagliks meer as 3 000 nuwe gevalle aangemeld.

Volgens die premier van KwaZulu-Natal, Sihle Zikalala, blyk die oplewing in nuwe infeksies grootliks die gevolg te wees van die onlangse onluste en plundering in die provinsie sowel as ’n toename in interprovinsiale reis en groot byeenkomste by kroeë en restaurante.

Talle gevalle word ook by skole in die provinsie aangemeld. In die afgelope 24‑uur-rapporteringsiklus het KwaZulu-Natal 3 445 nuwe Covid-19-gevalle aangemeld en is daar tans 42 267 aktiewe gevalle in die provinsie. Meer as 12 500 mense is reeds in die provinsie dood en meer as 373 000 het herstel.

KwaZulu-Natal het in die afgelope week ’n toename van 31% in die aantal nuwe gevalle waargeneem. Die aantal hospitalisasies neem ook geleidelik toe in sowel openbare as private gesondheidsfasiliteite. Daar was die afgelope week ’n styging van 16% in die aantal sterftes in vergelyking met die vorige week.

Volgens Zikalala het die provinsie genoeg hospitaalbeddens beskikbaar en is die veldhospitale wat tydens die eerste twee golwe ingespan is, ook steeds beskikbaar.

Al minder mense registreer egter vir Covid-19-inentings in KwaZulu-Natal. Tans word sowat 30 000 mense per dag ingeënt.

“Dit is in ons hande om soos ander lande te wees, waar die lewe weer normaal voortgaan met Covid-19 wat onder beheer gebring is en geen inperkings nodig is nie. Dit kan ook hier gebeur as ons ingeënt word.”

Volgens Zikalala het dit onder die provinsiale regering se aandag gekom dat ’n aantal kroeë en restaurante nie aan die vlak 3-regulasies voldoen nie. Hy het wetstoepassingsagentskappe opdrag gegee om ondersoek hierna in te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johanncb ·

Sou dit nie dalk die “vierde golf” moet wees nie?! Of beplan die Regering die vierde golf vir komende Desember? Dan moet almal met siekverlof wees!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.