Covid-19: ‘SA kon kurwe afplat’

Salim Abdool Karim (Foto: Motshwari Mofokeng/African News Agency)

“Suid-Afrika kon daarin slaag om die kurwe af te plat en ons sal dit nog vir maande, selfs jare, moet doen totdat ’n entstof beskikbaar gestel word.”

Só het die epidemioloog prof. Salim Abdool Karim, voorsitter van die ministeriële raadgewende komitee, Vrydagaand gedurende ’n virtuele mediakonferensie gesê.

Dít enkele dae voordat die land na vlak 3 van die afsonderingstydperk sal oorskuif. Sowat 8 miljoen mense in Suid-Afrika sal na verwagting eerskomende Maandag terugkeer werk toe wanneer dié vlak ingestel word.

Karim het verduidelik dat die aantal bevestigde gevalle van Covid-19 voor die instel van die algehele landwye afsondering in Maart elke twee dae verdubbel het. Die aantal bevestigde gevalle het onlangs slegs elke twee weke verdubbel hoewel dit weer vinniger begin verdubbel.

In dié stadium verdubbel die aantal bevestigde gevalle van Covid-19 in Suid-Afrika elke 12 dae.

Volgens Karim lyk die prentjie egter anders in die Wes-Kaap wat tans die episentrum van die virus in Suid-Afrika is. Dié provinsie se aantal gevalle het voor die afsondering elke 18 dae verdubbel.

(Foto: Brian Inganga/AP)

Die aantal gevalle in die Wes-Kaap verdubbel egter nou byna elke nege dae vergeleke met elke 24 dae in Gauteng, elke 26 dae in KwaZulu-Natal en elke 12 dae in die Oos-Kaap.

Karim het verduidelik dat ál meer toetse in die Wes-Kaap gedoen word wat beteken dat ál meer gevalle in die Wes-Kaap aangemeld word. “Dit sê vir ons dat die Wes-Kaap ’n verskillende situasie as die res van die land ervaar.”

Volgens Karim versprei die koronavirus baie vinnig in die Wes-Kaap teenoor die res van die land waar dit tans stadiger versprei. Dit is omdat die Wes-Kaap onlangs uitbrekings beleef het wat in brandpunte ontaard het.

Ander provinsies sal egter na verwagting binnekort nes die Wes-Kaap uitbrekings beleef. Karim voorspel dat die Oos-Kaap moontlik volgende gaan deurloop, het hy verduidelik.

Toetsvermoë

Kamy Chetty, uitvoerende hoof van die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdiens (NHLS), het Vrydagaand gesê die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, het nou gevra dat pasiënte in die Wes-Kaap se toetsmonsters geprioritiseer word.

(Foto: Itumeleng English/ANA)

Die toetsmonsters van gesondheidswerkers en diegene wat in ’n hospitaal opgeneem word, word reeds in dié stadium geprioritiseer.

Chetty het erken dat Suid-Afrika ’n agterstand in Covid-19-toetsmonsters beleef wat tot ’n vertraging in die uitslag van toetse lei.

Volgens Chetty word ál meer Covid-19-toetse gedoen met meer as 232 000 toetse vandeesmaand uitgevoer – sowat 39 000 toetse is vandeesweek tussen Maandag en Donderdag uitgevoer.

Die toenemende aantal toetsmonsters oorskry egter nou laboratoriums se kapasiteit, het Chetty verduidelik.

Maroela Media het vroeër berig 96 480 monsters wat getoets moet word vir die nuwe koronavirus was teen Maandag nog nie in ’n laboratorium verwerk nie. Die agterstand in toetsuitslae neem skynbaar ook elke week toe.

Volgens Chetty het die vraag na die verwerking van toetsmonsters gedurende die eerste week van Mei die aanbod oorskry weens logistieke redes en ’n tekort aan toetstoestelle. Dít het tot die groot agterstand in toetsuitslae vandeesmaand gelei, het hy verduidelik.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Willem ·

Die Karim is die eerste ou wat eerlik is oor die toetsins. Mkhize gaan baie kwaad wees vir hom omdat hy die verkeerde syfie gebruik het

'n Simpelman ·

Behalwe vir die opmerking van “meer gevalle omdat meer toets”, weet ek nie wat rook die man. My en wêreld se syfers wat ons daagliks kry, verskil drasties van sy siening.

Nota:
Geen toetse, geen gevalle, so sit ons op fase 1.
????☕

Trotse Boervrou ·

Almal weet waarom die Wes-Kaap se syfers so lyk. Dit is die enigste provinsie wat moeite doen en daad by die woord gevoeg het. In leketaal, sodat ALMAL verstaan, beteken dit die Wes-Kaap doen hul werk en gee om vir hul mense. Natuurlik reflekteer die syfers in die res van die land nie wat die ware toedrag van sake is nie en ons almal weet waarom. Ons is glad nie verbaas nie. Dankie Wes-Kaap, julle is ‘n voorbeeld vir die res van die land. Ek sou, ten spyte van jul syfers, baie veiliger in jul provinsie gevoel het aangesien jul “hands-on” is met jul aanslag om die virus te beveg.

Gawie ·

Dit mag miskien so wees, maar hoe verklaar jy dan dat die Wes Kaap amper 65% van die land se sterftes ook het? Die sterftesyfer kan glad nie aan die toetssyfer gekoppel word nie, so dit beteken daar is ‘n werklike besmettingprobleem in die WesKaap.

Dirk Mostert ·

Vir wat die statistieke werd is. Mense sonder simptome, – presies dieselfde simptome as vir laasjaar se griep – ‘n boerbok en ‘n papaja (toetse deur die president van Tanzanie) toets positief. Daar word skynbaar nie onderskeid gemaak tussen sterftes WEENS en sterftes VERWANT AAN Covid-19 nie. In Italie is die gemiddelde ouderdom van Covid-sterfgevalle en die gemiddelde lewensverwagting beide in die 80’s. Laat mens wonder! Soos ek die wereldwye statistieke die afgelope maande gevolg het, lyk dit nie of die inperkings ‘n kinkel in die grafieke gemaak het nie. Uiteraard, hoe meer toetse hoe meer gevalle. Verwag ‘n eskalasie in die winter (griepseisoen).

Jan ·

Ons het niks kurwe afgeplat nie . Wag tot hulle reg begin toets dan praat ons weer

pokkel ·

en net die 80 000 of so onvoltooide toetse se uitslae ook nog byvoeg, Gauteng sal sekerlik ‘n reuse sprong nog iewers toon, maar nou kan die skuif na vlak 3 seker blameer word vir enige skielike toenames in infeksies, die lockdown was ‘n reuse ‘sukses’, bonusse vir al die NCCC ministers

JohanR ·

Die ding vir die ANC het miskien begin by Covid-19, maar toe begin die skelms met hulle skelm streke. En DIT sal ons die publiek van Suid Afrika nog vir jare onthou! Waaneer julle in enige verkiesing nou julle krusie gaan trek dink aan die pyn van afsondering…..and pass the ANC by. Daai foto van die kind by Cradle of Hope wat ‘n grondboontjie toebroodtjie en ‘n piesang ontneem is, en dan nog met ‘n polisie kar wat wag hou by die kompleks terwyl die ANC vetgate iewers hulself seker dik vreet, sal my altyd bystaan!

pokkel ·

Ek ook, ek dog afgeplat beteken daar is drasties minder nuwe infeksies, snaaks hoe ons na weke van ‘n ‘suksesvolle’ harde ‘lockdown’ met groter getalle infeksies sit

Mieke ·

Sou ons nie beter statistiek kon hê as ons meer na die sterftes sou kyk? Dis ‘n gegewe? Wonder maar net!

koos10 ·

Jip, ons kon, maar toe meng die regering mos in met ons regte, en daar begin die gemors mos.

Frans ·

Wat die inperking bereik het is dat waar mense wel die reëls gevolg het infeksies beperk is aangesien die virus ook geïsoleer is.Waar dit verontagsaam is, soos in baie plakkerskampe en ander het die virus vinnig versprei.
Die grootste probleem wat opgetel is tydens outopsies deur Italiaanse dokters is die groot aantal bloedklonte (trombus) wat hul gevind en dat dit tot die dood van talle mense veral met ander onderligende gesondheidprobleme gelei het,omdat bloedsomloop ernstig belemmer is.Nou lyk dit dat bv ernstige gevalle van varkgriep ook tot bloedklonte kan lei maar dat dit meer gebeur met mense wat deur covid-19 besmet is.

Dit is dalk die verskil tussen hierdie virus en ander waaraan die mensdom al gewoond is en gewoonlik as jy gesond is kan oorkom.Ek sou dus nie hierdie virus net aflag nie Die aantal gesondheidwerkers by bekende hospitale is ‘n waarskuwing.

marius ·

Die kurwe is suksesvol afgeplat maar gevalle neem toe met meer as 5 persent per dag ? Verduidelik asseblief in leke taal wat dit beteken geagte dokter .

Maroela Burger ·

Ek wonder net hoekom werkers van die toets labratoriums minder ure werk as voor die corona uitbreek? Hoekom is daar te min toets stelle? Hoekom word die verkoop van sigarette meer gemonitor as die veiligheid van beskermings toerusting by skole? aan die begin van die grendel staat was daar ‘n groot samewerking van almal af maar die leuens en onbeholpenheid van die verantwoordelike persone het begin om persoonlik te raak soos die verkoop van tabak produkte en drank.

Alida ·

Ek is nie n wetenskaplike nie maar die regering kon al hierdie verwarring voorkom het om nie te praat van die miljarde wat spandeer is nie. CR kon ons op 15 Mei in kennis gestel het dat ons op 1 Junie toemaak en weer op 1 Aug oopmaak. Dit is die griep seisoen. Dan kon mens jou voorraad drank en rookgoed opvul sonder dat daar nou al hierdie onwettighede en hofsake is. Die kinders en ouers sou dan tuis wees. Tenminste was ons dan voorbereid en die ministers kon dan sinvolle maatreels in plek kry. Nou is dit een groot gemors en hulle hardloop soos afkop hoenders rond.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.