Covid-19: SAL kanselleer 162 vlugte

(Foto: Facebook)

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) het 162 vlugte gekanselleer weens ’n beperkte vraag na vlugte te midde van die nuwe koronavirus bekend as Covid-19.

SAL het Woensdag in ’n verklaring gesê die lugdiens het sy vlugskedule hersien, en 38 internasionale vlugte en 124 op die Afrika-vasteland het in die slag gebly. Dié vlugte sou in die volgende twee weke vertrek het.

Luidens die verklaring is daar besluit om te midde van die maatreëls rondom die virus slegs vlugte te bedryf waar alle faktore oorweeg en ten gunste van die skedule bevind is. Vlugte wat ’n hoë risiko inhou word eenvoudig van die skedule geskrap.

Philip Saunders, bedryfshoof van SAL, sê in die verklaring SAL sal sy skedule deurlopend hersien in ooreenstemming met die vraag na vlugte. Die lugdiens sal ook oorweeg of ’n vlug saam met ’n ander saamgevoeg kan word voordat dit bloot gekanselleer word.

Luidens die verklaring sal die lugdiens steeds passasiers tegemoet kom wat geen ander keuse het as om te reis nie. Vlugte na en van lande met geen reisbeperkings gaan ook in dié stadium voort.

“Ons prioriteit is om reisigers te help wat na hul tuislande gerepatrieer wil word en dit so vinnig en doeltreffend as moontlik te doen. Dit sluit uiteraard Suid-Afrikaanse burgers in die buiteland in wat wil terugkeer huis toe,” sê Saunders.

SAL kom sy passasiers verder tegemoet deur passasiers toe te laat om een gratis verandering aan ʼn vlug aan te bring, sou dit nodig wees om die vlug te skuif weens reisbeperkings wat nou ingestel word.

Kliek hier vir meer inligting rondom SAL se vlugte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Gawie ·

Is hierdie dalk die begin an die einde vir SAL?
FlyBe oorsee moes sy deure sluit nadat hulle self lank swaargekry het, en toe geknak het met Korona.

Johan Venter ·

Gawie, as dit maar was! Ek sien egter elders Pravin Gordhan is so in sy noppies, hy vertel ander lugrederye wat nou vlugte agv die virus gestaak het, nader nou die SAL om daardie passasiers te akkomodeer. So vir die SAL gaan dit om oorlewing.

SomeOne ·

en nog minder geld om hul skuld te betaal, dis dalk nou die einde van sal

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.