Covid-19-samevatting: VSA nou nuwe episentrum

Die Amerikaanse president Donald Trump spreek Donderdag die media in Washington toe oor die nuwe koronavirus. (Foto: Alex Brandon, AP)

Die VSA het nou meer bevestigde gevalle van die nuwe koronavirus as enige ander land ter wêreld. Meer as 85 500 pasiënte in die land het positief getoets vir Covid-19.

Luidens syfers saamgestel deur die Johns Hopkins-universiteit het die VSA nou China (81 782) en Italië (80 589) verbygesteek met die getal gevalle van Covid-19.

Byna 1 300 mense in die VSA het reeds weens die virus omgekom. Die land se sterftesyfer is aansienlik minder as dié van China (3 291) en Italië (8 215).

Volgens Mike Pence, die Amerikaanse visepresident, het die land reeds meer as 552 000 toetse uitgevoer. Toetstoestelle vir Covid-19 is ook nou in meer as 50 deelstate beskikbaar.

Geen motors is Vrydagoggend op die snelweg in Kaapstad opgemerk nie. (Foto: Nardus Engelbrecht, AP)

Covid-19 in Suid-Afrika

Op tuisbodem is die algehele afsondering nou van krag.

Teen Donderdag 14:00 het meer as 10 000 maatskappye registreer as maatskappye wat noodsaaklike dienste tydens die landwye afsondering moet lewer.

Die departement van handel en nywerheid het in ’n verklaring bevestig dat die webwerf waarop maatskappye moes registreer nou ten volle in werking is nadat dit Donderdag ure voor die sperdatum vir registrasie, probleme gegee het.

Luidens die verklaring kan maatskappye steeds registreer hoewel die afsondering reeds van krag is.

“Ons vra vir ondernemings om geduldig te wees tydens die registrasieproses aangesien die webwerf tans ’n groot aantal aansoeke moet verwerk. Geen onderneming sal deur ’n vertraging op die stelsel benadeel word nie,” het die departement verseker.

Die laaste mense Donderdagaand by Bosmanbusstasie in Pretoria voor die algehele landwye afsondering. (Foto: Oupa Mokoena/ANA)

Die Stad Kaapstad het intussen ’n omvattende maatskaplike pakket van meer as R3 miljard van sy begroting vir die 2020-’21-boekjaar voorgestel om kwalifiserende inwoners en pensioenarisse van 60 jaar en ouer in hierdie tyd by te staan.

Inwoners sal aan verskillende kriteria moet voldoen om in aanmerking te kom vir dié finansiële hulp. Die kriteria sluit in hoeveel ’n kandidaat maandeliks verdien, die aard van die kandidaat se werk, of hulle ʼn pensioen is of ʼn maatskaplike toelae ontvang en of hulle ʼn heeltydse bewoner van die huis is waar hulle woon.

“Ons maatskaplike pakket is daar om ons meer kwesbare inwoners te help met tariewe en diensheffings. Dit is deel van ons verbintenis tot ʼn goed bestuurde stad wat omgee vir sy inwoners,” lui ’n verklaring deur die stad.

Luidens die verklaring kan kommentaar rakende dié voorstel voor of op 2 Mei ingedien word. Besoek die Stad se webwerf vir meer inligting.

Bykomende bronne: BBC, ANA

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Johan Venter ·

Episentrum (haard) = ‘n geografiese punt waar die oorsprong geleë is en vandaar af verder versprei.

Ek dag die episentrum was in Wuhan, China, van waar dit na die res van die wêreld versprei het.

Gawie ·

Johan, dis hoekom hulle praat van die NUWE episentrum. Wuhan is lankal nie meer die verspreidingspunt nie. Dis hoe ek dit verstaan.

Johan Venter ·

Nuwe episentrum?? Ek lees wat die mense probeer sê, en dan moet ek aanvaar dat die virus nie van China na Amerika versprei het nie, maar nou kan rondspring soos ‘n kat op ‘n warm plaat. Ek aanvaar wel dat die gevalle elders, soos nou in Amerika daardie in China/Wuhan kan verbysteek, maar die episentrum of geografiese punt waar die OORSPRONG geleë is verander mos nou nie, die episentrum bly mos Wuhan, wel mens weet nooit, dalk verskuif die punt van geografiese oorsprong een of ander tyd na ‘n volgende land.

Johan Venter ·

Ek lees elders die volgende:

“More coronavirus cases are reported each day outside of China than China reported at the peak of its epidemic, the World Health Organization said Friday. Europe has now become ‘the epicenter’ of the pandemic, with MORE REPORTED CASES and deaths than the rest of the world combined, apart from China,”

Nou weer oorskry die aantal gevalle van die pandemie wat na Amerika toe versprei het en daar teëgekom word, daardie wat in Europa ondervind is, en nou word dit uitgedruk as synde Amerika weer die ‘nuwe episentrum’ geraak het.

Ek sien in die Engelse pers gebruik hulle daardie woorde in aanhalingstekens, terwyl die eintlike bedoeling nie is om die werklike oorsprong (geografiese punt of episentrum) van die pandemie te verskuif nie, maar om wel die NUWE GEBIED/LAND/ens waar die pandemie in getalle oorgeneem het te beskryf. Nou praat hulle van die NUWE episentrum, terwyl dit in effek nie korrek is nie.

charmaine ·

Al daai studente wat so arrogant op die strand vir summer break was! Se vir hulle dankie !

Nadia ·

En almal wat die laaste week gaan kos koop het? Ek dink regtig nie mens kan tans vinger wys na een groep nie…

Gawie ·

En dan bly Trump nog steeds die virus afmaak as iets redelik onbenullig! Hy is baie duidelik heeltemal uit voeling met die ware toedrag van sake. Hy is meer bekommerd oor die toestand van die aandelebeurs as oor die gesondheid van sy mense.

Cherokee ·

The epicentre of an earthquake is the place on the Earth’s surface directly above the point where it starts, and is the place where it is felt most strongly.
The earthquake had its epicentre two-hundred kilometres north-east of the capital.
Die laaste sin dui dus daarop dat elke aardbewing ‘n eie episentrum het.
In hierdie geval word logies gesproke ivm die VSA gepraat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.