Covid-19-statistieke: Byna 8 000 nuwe gevalle

‘n Gesondheidswerker in Johannesburg maak gereed om ‘n Covid-19-toets te doen. (Foto: Luca Sola/AFP)

Terwyl talle Suid-Afrikaners asem ophou oor moontlike strenger beperkings wanneer pres. Cyril Ramaphosa die land Maandagaand toespreek, bly Covid-19-getalle steeds skerp styg.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het Sondagaand gesê altesaam 7 999 nuwe gevalle is bevestig. Tot dusver het 860 964 mense in Suid-Afrika positief vir die virus getoets en 761 011 mense het reeds van die siekte herstel.

Mkhize het ook nog 170 sterftes bevestig. Hiervan was die meeste – altesaam 94 – in die Oos-Kaap. Elf sterftes is in die Vrystaat aangemeld, drie in Gauteng, vier in die Noord-Kaap en 54 in die Wes-Kaap.

Die algehele sterftesyfer weens Covid-19 staan tans op 23 276.

Die Wes-Kaap het in hierdie stadium met 24 054 die meeste aktiewe gevalle van die virus. Die provinsie word gevolg deur KwaZulu-Natal met 17 708 aktiewe gevalle, die Oos-Kaap met 16 287 aktiewe gevalle en Gauteng met 9 240.

Die LUR vir gesondheid in die Oos-Kaap – een van die provinsies waaroor daar besonder baie kommer is weens die verspreiding van die virus – het intussen Sondag positief vir Covid-19 getoets.

Sindiswa Gomba het ʼn beroep gedoen op enigiemand met wie sy in direkte aanraking was, om ook ʼn Covid-19-toets te laat doen. Gomba is asimptomaties en is in hierdie stadium in self-isolasie by haar huis.

Gomba het weereens ʼn beroep op mense gedoen om hul maskers te dra, ʼn sosiale afstand te handhaaf en hande gereeld te was ten te ontsmet.

Ramaphosa spreek die land vanaand toe te midde van groot kommer dat daar opnuut streng afsonderingsregulasies ingestel gaan word in ʼn poging om die stygende virusgetalle in bedwang te bring. Die tyd is nog nie bekend gemaak nie. Baie Suid-Afrikaners se Kersplanne hang in die weegskaal, terwyl ʼn provinsie soos die Wes-Kaap reeds gewaarsku het dat ʼn hernieude streng afsonderingstydperk dodelik vir sy ekonomie gaan wees.

  • Hierdie berig is gewysig nadat dit aanvanklik gepubliseer is. Red.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Leon ·

MM, 7999 nuwe is “byna” 8000, nie byna 9000 nie.
Die positiewe gevalle het ‘n direkte verband met die aantal toetse gedoen. Let op dat die aantal toetse gedoen aansienlik gedaal het na die eerste sg “golf”. Van tussen 20 000 en 30 000 p.d na ongeveer 10 000 p.d. Nou is dit weer op na meer as 20 000 p.d.

Christel Cornelissen ·

Dagsê Leon
Baie dankie vir jou boodskap. Daar het inderdaad ‘n tikfout ingesluip. Ons vra om verskoning vir die oorsig en het die fout reggestel.
Groetnis
Christel
nms. Maroela Media

annie ·

Mens sou wonder hoeveel toetse negatief is. In Britanje word mense wat erge allergiese reaksies toon aangeraai om 2x te dink oor Covid-entstof. Wat van verwagtende vroue en diegene wat antibiotika weens ander infeksies gebruik? Het die strenger maatreèls ook te make met die struwelinge en dreigende tweespalt in die ANC (die Kerk follow suit); ‘n soort staatsgreep onder ‘n sondige dekmantel?

Die Wolf ·

Ek bevraagteken nog steeds Gauteng Stats. Die populasie is by verre groter. Seker omdat ons kaders daar woon wil hulle bewys, hoe goeie beheer daar is.

OW ·

Ek stem Wolf.Hier is groot probleme in Gauteng.Die Gauteng premier skitter in sy afwesigheid.Gauteng se statistiek is al vir maande onder die radar.Dit lyk ook nie of Gauteng meer ‘n voltydse TV nuus verslaggewer het nie.Alles gebeur deesdae in die Wes en Oos Kaap.

Snowball ·

Ek sien ook hier in Gauteng hoe die vol taxi’s verbykom dan sit daar een met ‘n masker en die ander daarsonder, daar word nie meer saniteerder aangesit voor hulle inklim nie; die maatjies is nou almal houtgerus en g’n polisie of metro om Covidpatrollie te hou nie. Daai getalle kan nie reg wees nie, of almal hier het tropimmuniteit, wat ek sterk betwyfel.

Die Wolf ·

Hulle het dalk n geheime entstof wat gebruik word. Koop dit dalk by die shebeen.

Allop ·

Die regering kan maar maatreels instel soos hulle wil maar as die bevolking van die land hulle nie daaraan steur nie, sal niks verander nie.

Pietie ·

Sluit die provinsies. Elkeen bly in sy provinsie en by sy huis. Mense is hardhorend gee nie om dis mos n groot grap. Als behalwe n grap mense om my gaan dood of raak baie siek. Loop sonder maskers en praat dat die spoeg spat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.