Covid-19: Toedraai van liggame, doodskiste in plastiek ‘onnodig’

(Foto: Leon Lestrade/ANA)

Dit is nie nodig om doodskiste van Covid-19-slagoffers met plastiek toe te draai, grafte te ontsmet of om persoonlike beskermende toerusting by ’n begrafnis te dra nie. Só het die departement van gesondheid Woensdag gesê ná ’n vergadering met belanghebbendes betrokke by die bestuur van menslike oorskot.

Die vergadering volg nadat die departement talle berigte ontvang het dat doodskiste van mense wat aan Covid-19 gesterf het, met plastiek toegedraai word. In sommige gevalle word die menslike oorskot ook in plastiek toegedraai en kiste voor ’n begrafnis met biogevaarlike plakkers gemerk.

Popo Maja, woordvoerder van die departement, sê die departement het die vergadering met die belanghebbendes gereël om te bepaal watter maatreëls ingestel moet word in die bestuur van menslike oorskot.

Volgens Maja dui die hersiene riglyne van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) aan dat Covid-19-oordrag van menslike oorskot aan mense wat nog lewe, nie bewys is nie.

Daarom is dit tydens die vergadering duidelik gemaak dat die volgende voorsorgmaatreëls onnodig is: die bedekking van kiste met plastiek, die gebruik van biogevaarlike plakkers, die dra van volledige persoonlike beskermingstoerusting deur begrafnisondernemers of die ontsmetting van die grafte of klere van mense wat die begrafnis bywoon.

“Al wanneer hierdie maatreëls geld, is wanneer dit deur die betrokke munisipaliteit – in ’n gebied met ’n hoë watertafel – as bykomende maatstaf voorgeskryf word. Maar sulke bykomende maatreëls is dan van toepassing op alle begrafnisse – en nie net dié van mense wat aan Covid-19 gesterf het nie,” sê Maja.

“Lede van die publiek en die bedryf moet ook daarop let dat die voorgeskrewe maatreëls op getuienis berus en dit kan verander wanneer nuwe bewyse vorendag kom.”

Die departement is ook in die proses om die gebruik van ’n liggaamsak om iemand in te begrawe te hersien – in ooreenstemming met die huidige bewyse. Menslike oorskot kan in ’n liggaamsak begrawe word, of in ’n kombers toegedraai word. Die sak kan om mediese redes gebruik word of as die gesin dit so verkies.

Volgens Maja reguleer die departement ook die aantal mense wat begrafnisse bywoon om die verspreiding van Covid-19 te bekamp.

Hoewel die departement toegee dat dit nie bewys is dat menslike oorskot Covid-19 kan oordra nie, beveel die departement steeds aan dat die oorskot van Covid-19-slagoffers eers op die dag van die begrafnis na die oorledene se huis gebring word en die besigtiging van die liggaam slegs in ’n beheerde omgewing in ’n lykshuis of begrafnisonderneming toegelaat word.

Maja het bygevoeg dat opgrawings of ’n tweede begrafnis slegs met die betrokke magtiging gedoen kan word of as ’n hofbevel uitgereik word.

“Onwettige opgrawing van menslike oorskot is verbode en volgens wet strafbaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Johann ·

“belanghebbendes”? So nie wetenskaplike kenners nie! Waarskeinlik bygeloof besete tradisies van the people wat alles anders troef?

Johan ·

En kan hul nie self dink nie altyd WGO sê dit of sê dat…wie is die WGO nou regtig.

Dirk Mostert ·

Die WGO word hoofsaaklik gefinansier deur Bill Gates (met groot farmaseutiese belange en wat lank voor die “pandemie” reeds daarvoor voorbrand gemaak het) en China, wat self entstof op groot skaal produseer en lekker lag oor hoe hulle die weste met ‘n slap riem gevang het.

Suzette ·

En die departement van gesondheid baseer dit op watter feite???? Watter “deskundige” het tot hierdie slotsom gekom???

Deon ·

Wat n deurmekaar spul!! As liggame van mense wat daaraan gesterf het, nie die virus het nie.. “konflikterend” waaraan het die persoon dan gesterf en waarvoor dan al hierdie ontsmettery van skole en werkplekke en so aan?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.