Covid-19: ‘Verwoestende impak’ op personeel se geestesgesondheid

Nomusa Dube-Ncube (Foto: ANA)

Nomusa Dube-Ncube, LUR vir ekonomiese ontwikkeling in KwaZulu-Natal, het Donderdag gesê sy het ʼn verslag ontvang wat die “verwoestende impak” onthul wat Covid-19 op die geestesgesondheid van werkgewers en werknemers het.

Die verslag is gebaseer op ʼn opname wat deur die departement, die KwaZulu-Natalse Kamer van Koophandel en die Universiteit van KwaZulu-Natal se nagraadse sakeskool onderneem is.

“Ons neem veral kennis dat 30,5% van werkgewers en werknemers geestesgesondheidsprobleme soos angs en depressie ervaar,” het Dube-Ncube gesê. Die opname is gedoen toe die nasionale landswye afsonderingsperiode van vlak 4 (15 tot 31 Mei) na vlak 3 (1 tot 15 Junie) aangepas is.

“Alle lede van die KwaZulu-Natalse ekonomiese raad neem met kommer kennis van die verslag wat die verwoestende impak van Covid-19 aandui,” het sy bygevoeg.

Die verslag het ook bevind dat 45,7% van werknemers en personeel “ernstig geraak word” deur salarisbesnoeiings en dat daar van 29,7% van werknemers in die provinsie vereis is om betaalde verlof te neem.

“Salarisse het slegs deur die WVF Ters-ondersteuning normaal gebly,” het die LUR gesê.

Daar was ʼn vinnige afname in die aanvraag na goedere en dienste tydens die afsonderingsperiode en ondernemings kon nie aan hul finansiële behoeftes voldoen nie. Verskeie entiteite binne die ekonomiese raad het ingestem oor stappe wat gedoen moet word om die provinsie se ekonomie weer aan die gang te kry.

“Groot ondernemings en maatskaplike vennote in die raad het ook ingestem om konkrete planne in te stel wat toegespits is daarop om die provinsiale ekonomie aan die gang te kry. Ons het ingestem dat ons ons energie en hulpbronne moet kanaliseer om plaaslike kapasiteit te bou. Die uitbreking van Covid-19 het ons ekonomie blootgestel en gewys dat ons slegs verbruikers is van goedere.”

Die uitbreking van die virus het opnuut die behoefte aan ʼn vaardige arbeidsmag uitgelig wat voldoende ondersteuning het om die vervaardiging van plaaslike goedere vir binnelandse verbruik en uitvoere te fasiliteer, het sy gesê. “Ek het gesê die afsonderingsriglyne, wat die wêreldwye waardeketting ontwrig het, moet beskou word as ʼn bedekte seën. Die afsonderingsperiode het mense die geleentheid gebied om selfstandig te raak en hul eie goedere te produseer. Ek het die departement opdrag gegee om die KZN-lokaliseringsraamwerk te finaliseer sodat ons kan seker maak plaaslike mense baat uit ekonomiese geleenthede op plaaslike vlak.”

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Sarel ·

Wat verwag julle wanneer jy mense hulle lewenslyn wegneem. Dat hy/sy gelukkig sal wees en dan word Regeringshulp gekoppel aan Raz

Sarel ·

Dien sommer ook studie van prrsoneel by Denel, Transnet , Eskom en Sadol.

tweeling ·

En nog steeds kan mense nie onderskei tussen psigiese gesondheid en geestes gesondheid nie, verstommend

JohanR ·

Tannie….moenie vir ons of die land se nie. Gaan se vir jou baas Nkosazana Dlamini-Zuma, en die klein baas Cyril Ramaphosa. Ek vat dit tannie dat jy sedert 26de Maart altyd jou VOLLE salaris gekry het, soe jy het in die tydperk van Covid-19 nie te veel gely nie?

Kokerboom ·

Einde laaste ‘n nugtere siening van nare ekonomiese realiteit van onnadenkende inperking. Die aksie moet Nasionaal aangepak word. Ondernemingsgees moet aangewakker word en Chinese invoere beperk word.

Scalla ·

Kyk ook sommer na die verwoestende impak op die ekonomie, hoekom moet sakeskole dit vir jul uitwys, tyd vir wakker skruk mag dalk te laat wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.