Covid-19: Vrae, kommer oor syfers in Oos-Kaap

(Foto: Unsplash)

Daar is al hoe meer vrae – en kommer – oor die Oos-Kaap se werklike Covid-19-syfers.

Die DA in die provinsie sê die “onbevoegde” ANC-geleide provinsiale regering het weereens gewys dat hy onbevoeg is om betroubare data oor die stand van sake met die koronavirus in die provinsie te verskaf.

Volgens die syfers wat die provinsie aan lede van die Oos-Kaapse wetgewer beskikbaar gestel het, was daar op 21 Augustus 1 420 aktiewe gevalle in die provinsie. Op ʼn ander bladsy van dieselfde verslag wys ʼn kaart van die provinsie dat daar inderwaarheid 2 355 aktiewe gevalle in die provinsie is. Dit is byna 1 000 meer aktiewe gevalle.

Slegs drie van die agt distrikte het boonop dieselfde getal aktiewe gevalle as wat op die tabel in die verslag aangedui word.

Die verslag vir 23 Augustus bevat ook teenstrydighede en drie verskillende syfers vir die getal aktiewe gevalle word aangedui. In die hoogtepunt-afdeling van die verslag word 1 647 aktiewe gevalle aangedui, in die tabel staan dié syfer op 1 800 en op die kaart word dit as 1 796 gevalle aangedui.

“Dis geen wonder die provinsiale departement het die steun van drie verskillende spanne – ingevlieg van ander provinsies en selfs ander lande – nodig gehad om die reaksie op die pandemie te probeer bestuur nie,” het Cowley gesê.

Oos-Kaap*
Aktiewe gevalle1 399
Algehele gevalle85 625
Reeds herstel81 373
Landwye persentasie13,8
Sterftes2 853
*Syfers verskaf deur die nasionale departement van gesondheid op 27 Augustus 2020.

“Die jongste gekonsolideerde data wat aan lede van die Oos-Kaapse wetgewer verskaf is, is deurspek met teenstrydige inligting en gee twee baie verskillende weergawes van syfers oor aktiewe gevalle in die provinsie,” het Jane Cowley, die DA se woordvoerder oor gesondheid in die provinsie, gesê.

Cowley sê in die Wes-Kaap kan alle inwoners daagliks syfers kry oor Covid-19-gevalle op gemeenskapsvlak. “Hulle is nooit in die duister gehou of onjuiste statistieke oor die Covid-19-pandemie gegee nie.”

Die syfers in die Oos-Kaap is oënskynlik ʼn ander saak.

“Die Oos-Kaapse situasie is uiters kommerwekkend omdat akkurate data nodig is as ons die verspreiding van die siekte wil beheer en ʼn tweede golf wil voorkom wat tot verdere afsonderingsregulasies en ontwrigting van die ekonomie kan lei. Dit is ʼn situasie wat die provinsie kwalik kan bekostig.”

Cowley sê as die departement nie eens sy eie statistieke en verslae kan nagaan nie, is hy beslis nie bevoeg genoeg om ʼn belangrike provinsiale departement te bestuur waar foute en ʼn gebrek aan besonderhede letterlik mense se lewe kan eis nie.

Dit is nie die eerste keer dat die DA vra dat die provinsie akkurate daaglikse syfers oor Covid-19 in die provinsie beskikbaar stel sodat mense self ingeligte besluite oor hul gesondheid kan neem nie.

ʼn Digitale paneelbord met syfers is sedertdien bekend gestel, maar dit is nie toeganklik vir die breë publiek nie en vir diegene wat wel toegang daartoe het, sê dit bloot dat die data nog nie ten volle verwerk is nie.

“Ek gaan weereens aan die LUR skryf om te vra dat akkurate statistieke daagliks aan mense bekend gestel word.

“Die LUR vir gesondheid moet besef om vals inligting oor Covid-19 aan mense voor te hou, gaan nie die reaksie op die pandemie of openbare mening daaroor verbeter nie.

“Daar was reeds te veel lewensverlies.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Ferdie ·

Ag ons almal weet hulle praat nog die heletyd nonsens!!

Ons het klaar alles verloor so ek wonder of iemand nog omgee ? Altans ek gee nie meer om nie!!

Johanncb ·

Ek woon ‘n leeftyd in Port Elizabeth. Die ANC is 100% onbekwaam, en ek kan nie sien dat dit gaan verander nie! Die Stadsraad in Nelson Mandelabaai het ons in absolute chaos gedompel!

Persheks Adri ·

Ek sê dan elke dag hulle lieg so hul glo hulself regtig waar! Soek meer geld en kan nie tel nie soos altyd…

Riaan ·

Ai, shame man… As ‘n ou die syfers moet dokter, sal dit help as jy kan tel. Ek wag nog vir enige kamara span wat vir ons video materiaal kan voorsien van waar die pasiënte opgeneem word. ‘n Mens sien steeds net leë beddens op tv.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.