Covid-entstof: Solidariteit bekommerd oor gesondheidswerkers

‘n Gesondheidswerker in Johannesburg maak gereed om ‘n Covid-19-toets te doen. (Foto: Luca Sola/AFP)

Deur Reon Janse van Rensburg

Volgens die nasionale instituut vir oordraagbare siektes (Nios) het byna 500 gesondheidspersoneel sedert 5 Maart 2020 aan Covid-19 gesterf. Nios het ook genoem dat sedert die begin van die pandemie 5 424 gesondheidspersoneel in hospitale opgeneem is, van wie 846 in waakeenhede behandel is.

Meer as 450 van die personeel wat opgeneem is, moes suurstofbehandeling ontvang, 255 personeellede het ventilators benodig en 577 van die gesondheidswerkers wat by verskillende hospitale en ander mediese instellings daagliks hul eie lewens in gevaar gestel het om die lewens van ander Suid-Afrikaners te red, moes self gebruik maak van suurstofbehandeling asook ventilators om hul stryd teen Covid-19 te oorwin.

Van die byna 15 000 mense wat tans in hospitale reg oor Suid-Afrika veg om oorlewing teen die Covid-19-virus, is meer as 400 gesondheidswerkers.

Solidariteit is veral bekommerd oor elke gesondheidswerker wat midde die pandemie, in baie gevalle sonder die nodige beskerming, steeds hul daaglikse take uitvoer om te verhoed dat die sterftesyfer verder styg en dit terwyl hulle hul eie gesondheid op die spel plaas.

Die Solidariteit se Gilde vir Gesondheidspraktisyns het reeds verlede jaar in Maart in ʼn skrywe aan die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, geëis dat strenger en duideliker maatreëls getref word om gesondheidswerkers se gesondheid en veiligheid te verseker. Volgens Henru Krüger, sektorhoof van die professionele gildes, het die minister van gesondheid nog nie op die skrywe gereageer nie.

Met die Covid-19-entstof wat reeds in verskeie lande beskikbaar is, kon die Suid-Afrikaanse regering nog nie daarin slaag om een enkele persoon in te ent nie. Die VSA het reeds in Desember begin om sy burgers in te ent en het reeds die 10 miljoen-kerf verbygesteek, terwyl Israel noem dat hulle op koers is om elke burger bo die ouderdom van 16 in te ent. Dit sal ook irrelevant wees van die ANC-regering om met verskonings vorendag te kom oor armoede, veral omdat opkomende markte vanuit armer lande soos Argentinië reeds deur behoorlike beplanning en sonder enige finansiële hulp aan onnodige staatsinstellings en entiteite 0,2% van hul bevolking teen Covid-19 kon inent.

Die minister van gesondheid het ook vroeër aangekondig dat gesondheidswerkers heel eerste die entstof sal ontvang sodra die eerste besending later die maand vanaf Indië arriveer.

President Cyril Ramaphosa kon egter nie tydens sy laaste toespraak waar hy Suid-Afrikaners die nuus meegedeel het dat 20 miljoen dosisse entstowwe aangekoop word en dat “onderhandelinge tans plaasvind”, werklik verder daaroor uitbrei nie. Hy het ook nie melding gemaak van wanneer hy meer besonderhede sou hê nie.

Volgens Solidariteit is daar geen duidelikheid of die private sektor, wat volgens die wet die reg het om entstowwe aan te koop, enige toegang tot Covid-19-entstowwe sal hê nie. Solidariteit voer verder aan dat die gevolg hiervan sal wees dat die staat totale beheer sal kan uitoefen en dus toegang tot entstowwe vir die private sektor, waaronder apteke, mediese fondse en private hospitale, en veral die breër publiek sal beperk.

Connie Mulder, hoof van Solidariteit se navorsingsinstituut, sê dat die Suid-Afrikaanse regering aan hulself die reg toegeëien het om die enigste aankoper van entstowwe in Suid-Afrika te wees.

“Dit is dieselfde regering wat tot dusver oor en oor hul onbevoegdheid tydens die pandemie bewys het. Dit is onwaarskynlik dat hulle die kundigheid of kapasiteit tydens die uitrol van ʼn massiewe entstofprogram ten toon sal kan stel. Deur aankope te beperk vertraag hulle die proses. Veral mediese werkers en ander sektore met oordrewe blootstelling, sal nou vir die regering moet wag in stede daarvan om die opsie te hê om hulself of deur hul eie mediese fonds te laat inent,” het hy bygevoeg.

Solidariteit en AfriForum het intussen regstappe ingestel teen die regering se voorgestelde monopolie op die aankoop en verspreiding van Covid-19-entstowwe en eis dat die minister van samewerkende regering, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, en die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, dringend antwoorde aan Solidariteit verskaf oor die regering se uitrolplan ten opsigte van die Covid-19-entstowwe.

Solidariteit en AfriForum wil albei verseker dat mense wat die entstof wil ontvang, nie verhoed word om die entstof te kry nie.

Volgens Mulder maak dit nie sin waarom die regering doelbewus die proses vertraag en daarop aandring om ʼn alleenverkoper van die entstof te wees nie. Hy voer aan dat Solidariteit en AfriForum nie daarteen is dat die regering die entstowwe mag aankoop nie, maar beklemtoon die feit dat Suid-Afrika in die middel van ʼn pandemie is en hoe meer entstowwe die land kan inkom, hoe beter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Boerkind ·

Met my beperkte kennis kan daar nie enige teenmiddel teen virusse gemaak word nie… Geen! Daarom bestaan griep steeds vandag en so ook alle ander virusverwante siektes. Die inspuiting teen bv. griep is SLEGS om jou liggaam te help om teenliggaampies te ontwikkel. Sou jy bv. ‘n griepinspuiting neem en dit is nie vir daardie spesifieke “griep” nie, beteken dit nie veel nie! Dit word BAIE duidelik gesê dat daar GEEN waarborg is dat mense wat C19 gehad het se eie teenligaampies hulle teen ‘n ander variant of selfs ‘n tweede infeksie sal beskerm nie… Wat is in die C19 inspuitings? Waarom is mense so uiters verdag hier teenoor? Watter waarborg het mense dat dit sal werk as jou eie liggaam dan nie eens doeltreffende teenliggaampies kan maak nie? Waarom die enorme regeringteenstand teen bv. Iverpektin wat goedkoop is en bewese resultate teen C19 gelewer het (soos baie onlangs hier in MM gepubliseer is)??

Francois Le Cochon ·

Dis maar ‘n tipe van versekering, Ek betaal al jare aan versekering, maar het nog nooit ge-eis nie. Pik Botha het destyds gese^”Daar is geen waarborg wat ‘n waarborg waarborg nie”

Boerkind ·

Ek wil steeds besluit of ek die “versekering” wil hê of nie… in hierdie geval beslis nee – daar is net te veel bewyse van vuilspel.

Harry ·

Die gevaar van hierdie virus is die skade wat dit agterlaat. As inenting slegs kan help om hierdie skade te help herstel is dit reeds positief.

Boerkind ·

Daar is GEEN bewyse dat dit werk of skade beperk nie. Dit is steeds nie getoets nie. Die proefkonyne gaan nou verplig word en die sheeple sal gelate instem.

Persheks Adri ·

Ek hoop van harte dat hulle BAIE duidelik sal wees oor die stelling, want ek soek dit NIE!

“Solidariteit en AfriForum wil albei verseker dat mense wat die entstof wil ontvang, nie verhoed word om die entstof te kry nie.”

Boerkind ·

Ek vereis dat Afriforum (as ‘n betalende lid) ook my reg om die ongetoetste inspuitings te weier sal verdedig…..

Andries ·

Ek hoop Solidariteit ywer vir almal se vryheid van keuse!

christo ·

Hierdie is ‘n sprekende voorbeeld dat die ANC net nog verder besig is om SENTRALE BEHEER op ons afdwing. Totsiens ‘ demokrasie ‘.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.