Covid-pandemie gooi skadu oor kinders se geestesgesondheid

Argieffoto.

Ongeveer een uit sewe kinders het ʼn behandelbare geestesgesondheidstoestand, maar die meeste kinders sal dié las tot volwassenheid dra weens Suid-Afrika se kroniese tekort aan fasiliteite en kundiges om hulle behoorlik te help.

Boonop het die Covid-19-pandemie die reeds sukkelende geestesgesondheidstelsel selfs verder gepootjie en die land se 22 miljoen kinders en tieners se vermoë om tot produktiewe volwassenes te ontwikkel, in gevaar gestel.

Dr. Alicia Porter, ʼn lid van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Psigiaters (SASOP), sê kinders en tieners is nie die uitwerking van die Covid-19-pandemie op mense se geestesgesondheid gespaar nie.

Wêreldwyd het angs- en depressiesimptome onder kinders jonger as 18 byna verdriedubbel.

“Die openbare gesondheidsorgstelsel misluk reeds om te voldoen aan Suid-Afrikaanse kinders se reg op goeie geestesgesondheid en reg op toegang tot ouderdomsgeskikte geestesgesondheidsorg. Die situasie is verder deur die Covid-19-pandemie vererger,” sê sy.

“Ons psigiaters vra al lank vir dringende ingryping hieroor.”

Daar is sleg sowat 30 spesialispsigiaters vir kinders en adolessente in die land en die meeste van hulle is in private praktyk. Bekostigbaarheid beperk ook toegang tot dienste.

In Gauteng is daar slegs vier staatsfasiliteite vir hierdie spesialissorg. In KwaZulu-Natal is daar ʼn enkele fasiliteit, en in die Wes-Kaap twee fasiliteite wat spesialiseer in die geestesgesondheid van kinders en adolessente.

“Weens hierdie nypende tekorte aan hulpbronne, word geraam dat slegs 10% van kinders en tieners wat geestesgesondheidsbehandeling benodig, toegang daartoe het,” sê Porter.

“Ons moet nou optree om die volgende geslag te beskerm en die sosio-ekonomiese gevolge van swak geestesgesondheid te voorkom.”

Geestesgesondheidsprobleme is die hoofoorsaak van siektes by kinders en tieners, en tussen 50% en 80% van volwasse geestesgesondheidsversteurings ontstaan in die kinderjare. Dit het weer ʼn uitwerking op mense se liggaamlike gesondheid, verhoog die risiko vir dwelmmisbruik en beperk geleenthede vir verdere onderrig en ʼn stabiele werk.

Kenners verwag dat die ontwrigting van gesin- en skoolroetines, die vrees om Covid-19 op te doen of die dood van ʼn geliefde, isolasie en die gebrek aan sosiale kontak wat met die pandemie gepaard gegaan het, op lang termyn ʼn negatiewe uitwerking op kinders se geestesgesondheid gaan hê wat tot volwassenheid sal duur.

Intussen veroorsaak ʼn gebrek aan begrip en aanvaarding van probleme dat gesinne wat wel hulp soek, dikwels binne hul uitgebreide familie en gemeenskap gestigmatiseer word. Die probleme word bestempel as “net ʼn fase” of aan sogenaamde swak ouerskap toegeskryf.

“Ons het ʼn nasionale geestesgesondheidsbeleid wat voorsiening maak vir die behoeftes van kinders en tieners, maar dit word nie met die nodige hulpbronne toegerus en op provinsiale vlak in werking gestel nie en is ook nou redelik verouderd,” sê Porter.

“Die geestesgesondheid van kinders en tieners word nie geprioritiseer nie en dit word weerspieël in die gebrek aan toegewyde finansiering, menslike hulpbronne, fasiliteite en die gereelde onbeskikbaarheid van psigotropiese medikasie. Dit word vererger deur die gebrek aan insig en begrip van wat kinders en tieners se geestesgesondheid behels en watter dienste benodig word om dit te behandel.”

Porter sê die regering maak ook hopeloos te veel staat op niewinsgewende organisasies om te vergoed vir sy eie gebrek aan dienste.

“Die regering is geneig om in silo’s te werk, wat dit moeilik maak om gevalle te bestuur wat samewerking van die departement van gesondheid, onderwys en maatskaplike ontwikkeling vereis,” sê sy.

“Suid-Afrikaanse kinderregte in die geestesgesondheidsfeer sal slegs ten volle verwesenlik word as ons verby beleid beweeg en oorgaan na volle inwerkingstelling met belegging in opleiding, personeel en fasiliteite wat gepaste behandeling toeganklik maak vir die kwesbaarste lede van ons samelewing.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eden ·

Nou ja, wat ‘n verrassing. Sluit mense vir maande in hul huise toe, maak skole toe en vaardig dekrete uit oor wie wat mag koop ens. Kinders sit nou nog met maskers op hul gesiggies in die skool, vir meer as 2 jaar. Die sielkundige skade van al die inperkings gaan vir baie jare nog met ons wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.