CR ver voor Mkhize in leierskapstryd

Pres. Cyril Ramaphosa tydens die ANC se beleidskonferensie in Johannesburg. (Foto: Rajesh JANTILAL / AFP)

Pres. Cyril Ramaphosa loop tans ver voor in die ANC se leierskapstryd in aanloop tot die party se 55ste nasionale verkiesingskonferensie, wat na verwagting tussen 16 tot 20 Desember by Nasrec in Johannesburg sal plaasvind. Tydens dié konferensie sal die nuwe president, die topses-leierskap en die nasionale uitvoerende komitee (NUK) van die ANC verkies word.

Ramaphosa het altesaam 2 037 benoemings van ANC-takke landwyd ingepalm, terwyl sy mededinger, Zweli Mkhize, altesaam 916 gekry het.

Die ANC het Dinsdag bevestig dat 89% (3 543 uit 3 982) van alle takke aan die benoemingsproses deelgeneem het, wat die vereiste 70%‑drumpel om ʼn kworum te behaal, gemaklik verbysteek.

Statistieke dui aan Ramaphosa is veral die voorkeurkandidaat onder takke in die Oos-Kaap en Limpopo. Mkhize het hom slegs in KwaZulu-Natal geklop – waar hy 643 benoemings teenoor Ramaphosa se net 60 gekry het.

Ramaphosa het die meeste benoemings (420) in die Oos-Kaap behaal, gevolg deur 400 in Limpopo.

So lyk sy benoemings in die ander provinsies:

 

Paul Mashatile, tesourier-generaal, het sover die meeste benoemings vir adjunk-president van die ANC verwerf, waarvan die meeste in KwaZulu-Natal (521).

Sy mededingers is Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, en Oscar Mabuyane, premier van die Oos-Kaap. Mashatile het altesaam 1 791 benoemings, Lamola 427 en Mabuyane 397.

Mabuyane het wel 390 benoemings teenoor 110 vir Mashatile en slegs een vir Lamola in die Oos-Kaap gekry, maar swak gevaar in die res van die provinsies waar hy altesaam net sewe benoemings gekry het.

Stanley Mathabatha, premier van Limpopo, blyk die voorkeurkandidaat vir die ANC se nasionale voorsitter te wees met 1 492 benoemings.

Maroela Media het vroeër berig dat die kandidaatlyste vandeesmaand gefinaliseer sal word, en dat dié lyste die topdrie-benoemings vir elk van die topses-kategorieë en die top-200-benoemdes vir die NUK sal insluit.

Die takke word nie op die dag van die verkiesingskonferensie deur die provinsiale benoemingslys voorgeskryf vir wie om te stem nie. Die afgevaardigdes kan egter steeds ʼn mandaat kry om vir die tak se oorspronklike benoemings te stem. Dit is omdat die leiersverkiesingskonferensie nie saamgestel word deur die provinsies nie, maar deur die takke self – die takke se voorkeure moet dus die uitslae bepaal.

Lees meer oor die verkiesingsproses hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Rama is bra ongewild in KZN. En dis mooi so. KZN gaan nog onafhanklik word voor die Wes Kaap.

Kokerboom ·

Dis nuttelose inligting vir diegene wat nie ANC meelopers is. Dit bly ‘n nagmerrie vir SA

Nie Verbaas ·

Beide korrup en hopeloos so wat maak dit saak watter korrupte wen?

Andries ·

Dit help nie SA gaan nog steeds op sy knieë bly soos altyd????

annie ·

Dit baat mens skynbaar om jou kussings eerder met papiergeld op te stop; slaap sagter en pomp en ceremony volg. Is CR of Mandela vereer? Of glo Brittanje hy is steeds SA se baas-van-plaas: Kyk wat het ons alles vermag het met jul skatte. Hier is ‘n bietjie peanuts as blyk van waardering. Oë van jaloesie bekyk die teatrale show vanuit SA. Cyril se teëspoed wag tuis.

Blom ·

Al wat ek nie kan verstaan nie, is Mkhize en die Digital Vibes skandaal. Hoe kan hy vir die leierskap staan? Die storie het ‘n stille dood gesterf.

Boer ·

Dit maak nie saak wie wen tussen die twee nie, ons land se Titanic sink en dit sonder ligte wat brand.!!!

Di ·

Ek wens die hele spul wil net verdwyn! Ons het genoeg gehad van hierdie klomp skelms vir meer as 20 jaar!

JohanR ·

Nog 5 jaar van ‘n nuttelose Cyril Ramaphosa tensy die land die ANC in 2024 uitstem. Sal dit nou nie lekker wees nie?

Jakes ·

Is dit nou goeie nuus? Hulle albei hoort agter tralies saam met al hul kader maatjies.

Swerwer ·

Geld en tyd mors op sy beste. Daar is al soveel twee spalk en oneenigheid en dit sal nooit ophou nie, maak nie saak wie gekies gaan word nie, daar is altyd maar ‘n kinkel in die kabel. Mag Zuma net daardie tyd al terug wees in die tronk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.