Cyril se Noordwes-migraine

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: ANA

Pres. Cyril Ramaphosa se interne probleme in die ANC van Noordwes is so omvattend dat die provinsie tans die enigste een in die land is waar die provinsiale meerderheidsparty nie ʼn premierskandidaat kan aanwys nie.

Die ander agt provinsies – waarvan sewe onder ANC-beheer is en een deur die DA beheer gaan word – weet nou almal wie aan die roer van sake sal staan, en daar is min verrassings.

Maar in Noordwes, waar die ontsetelde oudpremier Supra Mahumapelo steeds die magtigste politikus is, al het die ANC hom verlede jaar verwyder, sukkel dit.

Sedert Mahumapelo – ʼn hegte ondersteuner van oudpres. Jacob Zuma onder wie se leiding die provinsie nie ʼn enkele skoon oudit in enige departement of munisipaliteit kon kry nie – deur die ANC uit die premierskap in Mahikeng verwyder is, is die provinsiale ANC onder administrasie (die strukture word dus nasionaal bestuur en geen demokratiese besluite word geneem nie) en die Ramaphosa-ondersteuner Job Mokgoro is die premier.

Maar die ANC se reëls sê elke provinsie se strukture moet drie name van moontlike premiers aan die ANC-top-leierskap verskaf en dan word een gekies. Die probleem is dat Noordwes se ANC weens die feit dat die organisasie onder administrasie is nie hul drie kandidate kan aanwys nie – en as die ANC-takke in die provinsie die geleentheid sou kry om dit te doen, is die kanse goed dat hulle nie vir Mokgoro as ʼn opsie sal stel nie, maar eerder iemand in Mahumapelo se dampkring.

Mahumapelo self is op pad na die nasionale parlement – en waar Ramaphosa hom op die nasionale verhoog gaan ontplooi, is ʼn ope vraag. Sy senioriteit in die ANC veronderstel ʼn kabinetspos, maar so ʼn aanstelling sal Ramaphosa se aandrang op ʼn sogenaamde skoon kabinet redelik laat skipbreuk ly.

Voordat Ramaphosa egter oor sy problematiese kollega kan besluit, moet Noordwes teen ongeveer volgende Woensdag ʼn premier kry – en die vraag is hoe en wie?

Job Mokgoro (Foto: ANA)

Dit lyk tans asof die nasionale ANC-leierskap eenvoudig self sal besluit, wat beteken Mokgoro is in die binnebaan, maar hy sal weet hy is ʼn inkommer sonder die mandaat of vertroue van diegene wat hy moet lei.

Die Wes-Kaap se proses is die verste gevorder. Omdat die DA, anders as die ANC, sy premierskandidate vooraf aankondig, weet die provinsie se kiesers dat die mandaat wat hulle aan die DA gegee het, beteken die sakeman Alan Winde is die premierskandidaat van die meerderheidsparty.

Hy sal Helen Zille opvolg, en sou reeds gister sy voorgestelde provinsiale kabinet aan die DA se federale dagbestuur voorgelê het vir goedkeuring, maar tans is die samestelling van daardie kabinet ʼn verstommend goed bewaarde geheim.

Wat die ANC-beheerde provinsies betref sal verskeie bekende gesigte die leisels in die provinsiale hoofstede hou.

In Bhisho word premier Phumulo Masualle as Oos-Kaapse premier vervang deur die provinsiale leier van die ANC, Oscar Mabuyane.

Daar is geen verandering in Vrystaathuis, die premierswoning in Bloemfontein, nie. Sisi Ntombela, wat verlede jaar daar oorgeneem het toe haar voorganger, Ace Magashule, tot sekretaris-generaal van die ANC verkies is, word gesien as so ʼn getroue ondersteuner van Magashule dat baie mense meen hy slaan maar eintlik nog die kitaar.

Die premier met die kleinste volstrekte meerderheid – ʼn skamele een setel – is Gauteng se David Makhura, wat sal aanmeld vir sy tweede termyn. Dit gaan uiters goeie bestuur van die bewindhebbers in die provinsiale wetgewer in Johannesburg verg om effektief te regeer, want van die wetgewer se 73 lede is 37 nou van die ANC en 36 van die opposisiepartye.

Sihle Zikalala. (Foto: African News Agency/ANA)

Die bewind van premier Willies Mchunu in die KwaZulu-Natalse wetgewer in Pietermaritzburg is iets van die verlede. Hy word vervang deur die KwaZulu-Natalse ANC-leier, Sihle Zikalala.

Limpopo gaan geen verandering beleef nie – premier Stan Mathabatha bly aan die stuur van sake met die provinsiale wetgewer in Lebowakgomo as sy standplaas.

Ook in Nelspruit bly dinge in die premierskantoor konstant want premier Refilwe Mtsweni is weer eens die ANC se kandidaat om Mpumalanga te lei. Soos in die geval van die Vrystaatse premier is Mtsweni so ʼn getroue meeloper van haar voorganger as premier – sy het verlede jaar oorgeneem toe David Mabuza die land se adjunkpresident geword het – dat Mabuza in praktyk steeds die pas aangee in die ANC in Mpumalanga.

Die land se mees uitgestrekte en yl bevolkte provinsie, die Noord-Kaap, kry ʼn nuwe premier. Zamani Saul vervang Sylvia Lucas wat tydens haar ampstermyn berug geraak het weens die hoeveelheid braaihoender wat sy laat koop het. Die nuwe politieke baas van die plaas in die wetgewer in Kimberley gaan nie net premier wees nie, hy is ook die provinsiale leier van die Noord-Kaapse ANC.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.