D-dag vir e-tol breek eindelik aan

(Argieffoto: ANA)

Die omstrede e-tolstelsel in Gauteng word op 11 April 2024 om 23:59:59 gekanselleer. Lydia Sindisiwe Chikunga, die minister van vervoer, het ʼn kennisgewing in Donderdag se Staatskoerant gepubliseer.

Die infrastruktuur sal egter vir misdaadbekamping in plek bly.

E-tol is op 3 Desember 2013 ingestel om die skuld van die Gautengse hoofwegverbeteringsprojek (GFIP) te delg.

Enoch Godongwana, minister van finansies, het reeds in Oktober 2022 die einde van e-tol aangekondig, maar daar was sedertdien geen verdere inligting oor die beëindiging van die stelsel nie.

Jacob Mamabolo, LUR vir finansies in Gauteng, het vroeg vandeesmaand in sy provinsiale begrotingsrede gesê die Gautengse regering sal 30% van die totale skuldlas betaal en dat hy finansiële instellings genader het om aan die onderneming te voldoen. Die oorblywende 70% sal deur die nasionale regering betaal word.

“As deel van die proses om dit tot ʼn einde te bring sal statutêre owerhede op nasionale vlak, naamlik die tesourie, die departement van vervoer en die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral), die nodige stappe doen om die invordering van e-tolgeld te staak en dit behoorlik in die Staatskoerant af te kondig,” het Mamabolo op 5 Maart 2024 gesê.

Mamabolo het aangedui dat motoriste 14 dae ná die deregulering van die stelsel in die Staatskoerant afgekondig is, nie langer vir die gebruik van Gautengse hoofweë betaal nie.

Motoriste sal dus vanaf 12 April 2024 nie meer e-tol hoef te betaal nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.