DA begin petisie om moedertaalonderrig aan US te beskerm

Universiteit Stellenbosch. (Foto: Facebook)

In die gees van Menseregtedag, het die Demokratiese Alliansie (DA) Maandag met ‘n petisie begin om die reg tot moedertaalonderrig aan die Universiteit Stellenbosch (US) te beskerm teen aanhoudende aanvalle deur die universiteitsbestuur.

“Elke handtekening op hierdie petisie dui ook op ‘n persoon wat die DA se kommentaar op die Maart 2021-konsepbeleid ondersteun,” sê dr Leon Schreiber, die DA se kiesafdelingshoof in Stellenbosch. Die DA sal die petisie, die kommentaar, tesame met die lys van alle persone wat dit ondersteun, direk by die US indien.

Die US-bestuur se oorlog teen moedertaalonderrig het oor die afgelope paar weke selfs meer fel geword, nadat eerstejaarstudente aan verskeie koshuise verbied is om Afrikaans te praat in hul koshuiskamers en selfs op parkiebanke op kampus.

“Die huidige US-bestuur, onder leiding van rektor Wim de Villiers, se anti-Afrikaanse onderrok het selfs verder uitgehang weens die universiteit se weiering om op te tree ter verdediging van die betrokke studente se grondwetlike reg tot moedertaalonderrig en om hul eie taal te praat. De Villiers het tot op hede nog nie ‘n enkele woord gerep oor die skending van hierdie studente se menseregte nie,” voeg Schreiber by.

Die universiteit het Vrydag ook ‘n verdere afwyking van die 2016-taalbeleid goedgekeur wat geheel en al wegdoen met die laaste bietjie Afrikaanse versierings in lesinglokale. “Enige persoon wat glo dat hierdie slegs-Engels beleid tydelik van aard gaan wees, hou hulle blind vir die aanhoudende aanvalle deur die De Villiers regime op Afrikaans. Dit is gister gevolg deur die publisering van die US se nuwe konseptaalbeleid, wat die Afrikaanse aanbod selfs verder afwater.”

Schreiber sê omdat die reg tot moedertaalonderrig as net so belangrik beskou word as enige ander mensereg, het die DA reeds ‘n klag by die Menseregtekommissie (MRK) aanhangig gemaak. “In die klag versoek ons ook dat die MRK die rol van die universiteit se 2016-taalbeleid ondersoek, aangesien hierdie beleid amptelik aan Afrikaans ‘n mindere status gegee het wat skynbaar bygedra het tot die huidige atmosfeer van diskriminasie teen Afrikaanse studente.”

Gegewe die menseregtevergrype wat onder die 2016-taalbeleid teen Afrikaanse studente gepleeg is, dring die DA se petisie daarop aan dat die taalbeleid hersien word met die doel om aan Afrikaans gelyke status naas Engels in alle aspekte van die universiteitslewe te waarborg. Ons moedig elke Suid-Afrikaner wat verbind is tot ons Grondwetlike bestel aan om hierdie petisie te onderteken.

“Die petisie gaan aan die bestuur oorhandig word, en word ook vergesel van omvattende voorgestelde wysigings aan die nuwe konseptaalbeleid. Elke persoon wat die petisie teken sal dus ook hul steun toesê aan die voorgestelde wysigings. Hoe meer mense die DA se kommentaar ondersteun, hoe moeiliker gaan dit wees vir die US-bestuur om voort te gaan met hul planne om weer van Afrikaans ‘n kombuistaal te maak.”

Weens die DA se toewyding aan die taalregte en ander menseregte soos vervat in die Grondwet, en weens die party se diepe kommer oor die uitsluiting van miljoene behoeftige Afrikaanssprekendes van hoër onderwys, eis die DA dat:

  • die eerste konsep van die nuwe taalbeleid van Maart 2021 onomwonde verwerp word omdat dit Afrikaanse studente selfs verder gaan uitsluit. Die US behoort die proses om die taalbeleid te hersien van voor af te begin deur onmiddellik ʼn openbare konferensie te reël waar alle belanghebbendes ʼn geleentheid gebied word om die tekortkominge van die 2016-taalbeleid te bespreek met die oog op ʼn nuwe taalbeleid wat ʼn gelyke plek aan Afrikaans sal waarborg;
  • enige nuwe taalbeleid ‘n regverdige taalbedeling tot stand sal bring wat aan Afrikaans en Engels gelyke status waarborg as primêre tale van onderrig, leer en leef in alle ruimtes – insluitend aanlyn ruimtes – van die universiteit;
  • indien die universiteit bekommerd is oor die kostes hieraan verbonde, die universiteit ‘n omvattende en onafhanklike oudit laat doen oor die kostes verbonde daaraan om gelyke status te waarborg aan Afrikaans, die uitslae van die oudit openbaar maak, en aan skenkers, die privaat sektor en die breër gemeenskap die geleentheid bied om ʼn gedeelte van die kostes te finansier;
  • die US die moontlikhede wat gebied word deur moderne digitale tegnologieë, waaronder aanlyn hulpmiddels en “spraak-na-teks” tegnologie, ten volle benut om akkurate vertaling tussen verskillende tale te verseker;
  • gegewe die wyse waarop die Afrikaanse aanbod in die leer en leefruimtes van die universiteit afgeskaal is oor die afgelope jare, die universiteit se nuwe taalbeleid uitdruklik onderneem om die Afrikaanse aanbod opwaarts aan te pas om volle toegang te verseker aan alle verdienstelike voornemende studente wat verkies om in Afrikaans te studeer terwyl volle toegang vir Engelssprekende studente gehandhaaf word; en
  • die nuwe taalbeleid die universiteit daadwerklik daartoe verbind om finansiële sowel as praktiese ondersteuning te verskaf aan leerders in Afrikaanse skole in laer inkomste gebiede, met die doel om ‘n pyplyn te bou wat Afrikaanssprekende studente uit hierdie skole na die US bring en sodoende die deelname en slaagsyfer van behoeftige Afrikaanssprekende studente aan die US dramaties verhoog.

Ondersteun die petisie hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

JohanR ·

Al wat ek kan se oor die laaste twee weke by US is “now you’ve opened a can of worms!”

Andrew ·

Ek weet nie of ek regtig my kind in so plek wil plaas nie. Die universiteite is vervrot van marxistiese denke en die beleid is maar net n uitvloeisel van daai idiologie. “Cancel culture” het twee kante. Dalk tyd om die “cancel” te begin “cancel” . Met hulle idiologie moet hulle maar meer van die staat verwag en minder van skenkeings en betalende studente.

Nici ·

Hul het nooit die reg gehad om die taal van die meerderheid in die Wes-Kaap as hooftaal te verwyder by US nie.

Pappa Beer ·

Dis nou dieselfde da wat n koalisie met die anc wil begin?

Thom ·

Verkramptes sal die woorde ” prioriteit ” en ” blatante leuen ” nooit verstaan nie .

Pieter ·

As ons taal nie goed genoeg is nie dan is ons geld ook nie goed genoeg nie

petro ·

wie is die Wim de Villiers hoekom neuk hy nie Engelland toe dan kan hy mos engels praat soveel hy wil hulle kan nie die kolonialiste verdra nie maar is mal oor hulle taal so skoert

Dries ·

Daar is niks wat my meer walg as iemand wat sulke verraad teenoor sy eie volk en taal pleeg soos de Villiers nie. ‘n Nasie kan sy gekke of selfs ooryweriges oorleef maar kan nie verraad van binne oorleef nie. N Vyand soos Malema voor die poorte is minder gevaarlik want hy herken hom want hy wys sy kleur openlik, maar die Verraaier beweeg vrylik tussen ons binne daardie poorte. WANT die verraaier skyn geen verraaier te wees nie. Hy praat met n aksent waaraan sy slagoffer gewoond is. Hy besmet die siel van sy slagoffer sodat ons nie meer weerstand kan bied nie. So hoop ons hy sal uiteindelik betaal vir sy wandaad.

Wakkerslaper ·

PPPFFFFT!!!! Groot hoe-ha! Waar was die DA toe Afrikaans op ander kampusses soos Tukkies en Kovsies verwyder was….?

Wakkerslaper ·

O ja…. die DA was voor in die gespuis se koor wat geskreeu het “weg met Afrikaans (en Afrikaner erfenis) op kampusse…”

KB ·

Bring daai petisie…ek wil dit onder oë kry.
Die US se regterhand weet nie wat sy linkerhand doen nie. Dis tyd dat die US kom verduidelik aan ons Afrikaners.

Sarel ·

Stemwerwing…want waar val hulle nou uit terwyl sommige
net Engels praat.

Theo ·

Daar moet onderskei word tussen taalbeleid en die toepassing daarvan. Stellenboch se probleem is die toepassing daarvan. Die beleid word deur die Grondwet en die interpretasie van art. 29, asook die Wet op Hoer Onderwys bepaal. Daar is min of geen beweegruimte vir eie beleid. Mense wat die US oor sy beleid aanval, maak ‘n fout.

Die toepassing word deur transformasie, regstellende aksie en Swart bemagtiging bepaal. As die demografie van die bestuur en personeel verander, verander die toepassing van beleid. Dis wat besig is om te gebeur

Elmarie ·

Ipv die DA nou weer kritiseer Doen liefs iets soos om petisie te teken. Of as die leunstoel kritici beter planne het laat ons hoor

Blikkies ·

Is Wim De Villiers bang hy verloor sy cushy job en groot salaris, daarom verkoop hy sy siel aan die duiwel. Staan op vir jou Afrikaans Wim De Villiers, kry ruggraat……

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.