DA bekom puntelyste midde vrae oor toekenning van visvangregte

(Foto: Christel Cornelissen/Maroela Media)

Die DA se versoek om toegang tot puntelyste wat verband hou met die toekenning van kommersiële visvangregte, is toegestaan.

Die opposisieparty het verlede jaar ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) ingedien om toegang tot dié puntelyste te bekom nadat talle ervare vissers wie se aansoeke om kommersiële visvangregte misluk het, toegang daartoe geweier is.

Daar heers baie vrae oor die aansoekproses nadat talle maatskappye, wat jare lank regte gehad het om onder meer stokvis en tuna te vang en uit te voer, se aansoeke geweier is. Dit terwyl ander, wat nie eers oor ’n boot of fabriek beskik nie, se aansoeke toegestaan is.

Dave Bryant, die DA se skaduminister van omgewingsake, bosbou en visserye, sê baie van diegene wie se aansoeke onsuksesvol was en toe geappelleer het, is nie toegang toegestaan tot die vorms wat deur suksesvolle aansoekers ingedien is nie en het dit dus moeilik gevind om suksesvol te appelleer.

Bryant sê die DA sal nou namens hulle deur hierdie puntelyste werk om teenstrydighede te identifiseer en sal dit ook beskikbaar stel aan enigiemand uit die bedryf wat toegang benodig.

Maroela Media het net vroeër vandeesmaand berig dat tientalle maatskappye die minister van bosbou, visserye en omgewingsake hof toe sleep nadat dié maatskappye se aansoeke om kommersiële visvangregte afgekeur is.

Sommige van hierdie aansoekers het die afgelope 15 jaar al regte om onder meer stokvis en tuna te vang en na Europa en Amerika uit te voer.

Die departement het meer as 2 400 aansoeke om visvangregte ontvang. Die 12 maatskappye wat hulle nou tot die hof wend, is deel van 1 213 applikante wat teen die toekenning van ander applikante geappelleer het, maar onsuksesvol was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johann ·

Absolute KLUG! En iemand het dit bedink en beplan en gedoen. Sonder ‘n gewete!

Republikein in die Wes Kaap ·

Laat ons werk vir die afstigting van die Wes-Kaap. vissers! Ons ekonomie word geleidelik en subtiel afgetakel deur die heersers in die Uniegebou. Om kwotas aan Johannesburgers toe te ken is deel van die plan. Net soos die chaos met ons spoorlyne en Kaapstad hawe. Om nie eers te praat van onbemande polisiestasies nie.

Cassie Carstens ·

Afstigting van die Weskaap sal NIE werk NIE. Dink net mooi daaroor, veral wat finansies betref.

Republikein in die Wes Kaap ·

Cassie, die Wes-Kaap dra 15% by tot die nasionale BBP. Dis die derde meeste van al die provinsies, maar ons gaan KZN binne twee jaar verbysteek vir die tweede plek. Ons huisves net 11% van die bevolking, maar 15% van al die belastingbetalers. Ons dra 16% by tot die nasionale fiscus. Dis die tweede meeste. In ruil ontvang ons minder as 10% terug van regeringsfondse wat aan provinsies toegewys word. Ons kan beter doen op ons eie. Ons het nie steenkool nie, maar wel vis, koring en vrugte. Die ANC is jaloers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.