DA beplan regsaksie oor entstofprogram

Die DA-leier John Steenhuisen. (Foto: Courtney Africa/ANA)

Die DA sal eersdaags regstappe begin om die regering te dwing om alle besonderhede en inligting omtrent sy Covid-19-entstofplan bekend te stel.

John Steenhuisen, DA-leier, het Maandag tydens ʼn mediakonferensie besonderhede bekendgemaak oor beplande regsaksie weens die regering se versuim om inligting te verskaf rondom die verkryging en verspreiding van Covid-19-entstowwe.

“Indien Ramaphosa nie hierdie inligting kan verskaf nie, gaan ons die hof moet nader om hom te dwing om hierdie inligting te verskaf,” sê Steenhuisen.

Die DA se regspan het vandag ʼn brief aan pres. Cyril Ramaphosa gestuur waarin uiteengesit word hoe die regering se strategie nie aan die grondwetlike vereistes vir ʼn omvattende inentingsprogram voldoen nie. Luidens dié brief oortree die regering verskeie grondwetlike bepalings.

“Die versuim om een of meer Covid-19-entstowwe betyds aan te skaf, terwyl dié entstowwe beskikbaar is, is ʼn skending van die regte van mense, ingevolge artikel 27 (1) van die Grondwet, om toegang tot gesondheidsdienste te hê.

“Dit is ook ʼn oortreding van die regering se verpligting ingevolge artikel 27 (2) om redelike maatreëls te tref om die reg tot toegang tot gesondheidsorg te verwesenlik, asook ʼn skending van die reg op lewe, soos vervat in artikel 11 van die Handves van Menseregte.”

Steenhuisen sê hierdie mislukking sal ongetwyfeld deur die regering gebruik word om die uitbreiding van die ramptoestand en sy regulasies te regverdig, wat inbreuk maak op byna elke mensereg.

“Laastens is daar geen rede vir die regering se versuim om voldoende entstowwe aan te skaf nie, aangesien hulle lank reeds weet hoe belangrik dit is vir mense om toegang tot dié entstowwe te hê.”

Ramaphosa het sewe dae om op die brief te reageer en te verduidelik waarom hy dink die regering nie hierdie grondwetlike bepalings oortree het nie.

Die DA versoek ook dat Ramaphosa volledige inligting verskaf rondom die onderhandelings met verskaffers en die tyd en plek van ontmoetings met dié verskaffers. Die party wil ook ʼn duidelike uiteensetting van die regering se begroting rondom die aanskaffing en uitrol van die entstof sien.

“Indien die president bevredigend antwoord op al die vrae in die brief, sal ons saam met hom werk om te verseker dat die program ʼn sukses is. Indien hy nie voldoende antwoorde gee nie, sal ons verdere regstappe oorweeg.”

Die president se antwoord sal die volledige implementerings- en toedieningsprogram moet bevat, asook ʼn uiteensetting van die soorte entstowwe wat verkry sal word, die aantal dosisse wat nodig is, die datums waarop dit beskikbaar sal wees en hoe dit gestoor en vervoer sal word.

Die DA meen dit is duidelik daar is geen konkrete plan vir die verkryging van die entstof nie, óf die regering weerhou belangrike inligting.

“Geen duidelike syfers word verskaf nie en inligting rondom die entstofplan is vaag,” het Steenhuisen tydens die konferensie gesê.

Ramaphosa het verlede Maandag in sy TV-toespraak gesê dat 20 miljoen entstofdosisse reeds verseker is en deur die loop van die eerste helfte van die jaar beskikbaar gestel sal word. Tydens fase 1 sal die entstof beskikbaar wees aan sowat 1,2 miljoen voorstelinie-gesondheidswerkers. Tydens fase 2 beoog die regering om die entstof aan sowat 16 miljoen hoërisikopersone beskikbaar te stel, onder wie onderwysers en bejaardes. Tydens fase 3 sal die oorblywende volwasse bevolking van sowat 22,5 miljoen mense ingeënt word.

Só wil die regering 64% (sowat 40 miljoen) van die bevolking teen die einde van die jaar inent.

“Om hierdie kudde-immuniteit teen die einde van die jaar moontlik te maak, beteken sowat 115 000 mense moet per dag vir 347 dae ingeënt word.”

Die DA sê hy is skepties of hierdie syfer haalbaar is.

Die party meen 64% van die land se bevolking moet verkieslik vroeër reeds ingeënt wees, voor ʼn moontlike derde golf van Covid-19-infeksies die land tref. Steenhuisen sê dit kan slegs gedoen word indien verskeie entiteite, en nie net die staat nie, voorraad in grootmaak kan bestel en so spoedig moontlik laat aflewer.

“In die Wes-Kaap het die provinsiale regering sy eie verkrygingprogram begin ontwikkel. Dit is nie om teen die regering te gaan nie, maar omdat die provinsiale regering  ʼn verantwoordelikheid teenoor sy burgers het om behoorlike gesondheidsorg te bied.

“Die privaatsektor is ook al gereed om in te tree en te help waar hulle kan. Daar is geen rede waarom hulle dit nie behoort te doen nie. Ons benodig entstowwe, maak nie saak wie dit bekom nie.”

Steenhuisen sê die regering se bewering dat sy begroting beperk is, is nie ʼn genoegsame rede vir die vertraagde aanskaffing van entstowwe nie.

“Om tweederdes van die bevolking in te ent, sal tussen R8 miljard en R16 miljard kos. Elke dag wat ons land in vlak 5 van inperking was, het ons byna R13 miljard uit die sak gejaag. Dit is gelykstaande aan die koste van ʼn volledige daaglikse inentingsprogram. Die verbod op alkohol het die alkoholbedryf weekliks R2,5 miljard gekos en die verbod op sigarette het R3 miljard aan belastinggeld gekos.”

“Geld is nie in hierdie geval die probleem nie, maar eerder prioritisering. Die regering het sy grootste toets gefaal – om die lewens van sy burgers se prioritiseer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Fedup ·

The da can tantrum and drag this circus to court each and everyday.
Almost 60% of the white population will not be taking this jab.
We are God’s children.
No one on this earth will change what, who and how He made us.
Soda, suck it up and move on.

Baardman ·

John Steenhuisen, sê tog asb hoe beplan jy om jou verkrygingsplan te implementeer as die regering die monopolie dmv wetgewing het. Of gaan jy weer hof toe sonder sukses en nog meer geld mors.

Anel ·

Ek gaan nou ‘n klip in die bos gooi. Hie weet ons dat CR en sy gespuis nie al klaar met die beste enstif gespuit is nie? Nou het hulle nie meer’ n saak nie. Nie dat dit my enigsins pla nie want ek sal weier om gespuit te word. Het maar net gewonder.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.