DA dien klagte in oor sukkelwater op Kai !Garib

(Foto: Kai !Garib-munisipaliteit)

Die DA het ʼn strafregtelike klag teen die Kai !Garib-munisipaliteit in die Noord-Kaap aanhangig gemaak vir sy voortdurende versuim om op waterverwante behoeftes van die gemeenskap te reageer.

Die naam Kai ǃGarib kom uit die Khoi-Khoi-taal en beteken “die groot rivier” wat na die Oranjerivier –  wat deur die gebied vloei – verwys.

Volgens Reinette Liebenberg, kiesafdelingshoof van Benede-Oranje, kom die strafregtelike klag nadat die DA in Februarie reeds ʼn memorandum oor water-eise by die munisipaliteit ingedien het “en geen reaksie” ontvang het nie.

“Die afgelope jaar het water-uitdagings op Kakamas en Keimoes al meer ontwrigtings vir die plaaslike gemeenskap veroorsaak.

“Inwoners sukkel al vir ses agtereenvolgende maande met ’n gebrek aan water. Water word kort-kort aan- en afgeskakel, met sommige mense wat glad nie water het nie. Dit word vererger deur uiterse warm weerstoestande,” sê Liebenberg.

Sy sê ten spyte van die verslegtende watersituasie, is geen noemenswaardige stappe al gedoen ten opsigte van die instandhouding en opgradering van Kai !Garib se waterstelsels nie. Daar is wel al kontrakte aangegaan vir die verspreiding van water met tenkwaens.

(Foto: Kai !Garib-munisipaliteit)

“’n Aantal DA-inspeksies aan waterinfrastruktuur-terreine in die gebied het stukkende, vervalle en verouderde water-infrastruktuur gewys.

“Watervloeireguleerders in Keimoes werk nie behoorlik nie, wat veroorsaak dat filters dikwels water in die straat laat afloop weens versuim om watervloei te isoleer.

“Die gebied waarin die noodpomp geleë is, is toegegroei en onveilig, wat verhoed dat die personeel die pomp kan aan- en afskakel, veral snags en tydens beurtkrag.

“Die wateroutomatiseringstelsel wat watervlakke by die reservoir meet, is stukkend en personeel moet op- en af​​klim om die watervlakke te monitor.

“Daarbenewens maak die afwesigheid van ʼn standaardmaatstaf ten opsigte van waterkwaliteit en rekords van die watertoetsresultate die dosering van water met chemikalieë twyfelagtig,” s

Sy sê Kai !Garib se vervalle infrastruktuur en onvoldoende dienslewering is die uitwerking van “langdurige interne bestuursmislukkings”.

“Die waterkrisis demonstreer die desperate behoefte aan voldoende batebestuur in die munisipaliteit. Terwyl die munisipaliteit die afgelope twee opeenvolgende jare versuim het om sy finansiële state betyds by die ouditeur-generaal (OG) in te dien, het die munisipaliteit in die laaste OG-verslag vir die 2019-’20-boekjaar ʼn verwerpte bevinding ontvang wat onder meer gegrond is op swak bestuur van finansiële en infrastruktuur-bates, sowel as die bateregister.”

Liebenberg sê die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur (MFMA) bepaal dat die rekenpligtige beampte van ʼn munisipaliteit strafregtelik aanspreeklik gehou kan word indien hy opsetlik of op ʼn nalatige wyse versuim om sy pligte na te kom.

“Dit is om hierdie rede dat die DA ʼn kriminele klag ten opsigte van oortredings van die MFMA aanhangig gemaak het.

“Die toekenning van begrotings vir infrastruktuurontwikkeling, terwyl die onderliggende en onopgeloste bate-instandhoudingskwessies geïgnoreer word, sal hoogs onwaarskynlik munisipale prestasie verbeter.

“Die DA sal aanhou om vir die inwoners van Kai !Garib se reg op volhoubare en skoon watervoorsiening te veg,” sê Liebenberg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hettie ·

Daar is nie meer ‘n dorp wat nie sukkel met water nie! Rustenburg is meer sonder water as met water!

Bolandse Nooi ·

Ek wil net weet waar dié dorpie Kai! Garib is, want ekke het nog nooit van so ‘n dorpie gehoor nie. Issie ‘n wonder hulle hettie water nie, want dasie so ‘n dorpie nie!

Cassie Carstens ·

Die mense met kennis van waterbestuur is mos weggejaag en kaders wat min weet is aangestel. Die gevolge is nou heel duidelik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.