DA eis onafhanklike forensiese oudit van Eskom

Argieffoto: GCIS

Die Demokratiese Alliansie het Dinsdag ʼn “volledige onafhanklike forensiese oudit” van die nasionale kragvoorsiener Eskom versoek.

“Gegewe die haglike toestand van Eskom, die effek op die ekonomie en die lewens van gewone inwoners, versoek die Demokratiese Alliansie ʼn volledige onafhanklike forensiese oudit van Eskom,” het Ghaleb Cachalia, die DA se skaduminister van openbare ondernemings, gesê.

“Die stelsel van begunstiging en politieke terugbetalings duur voort, en dringende stappe moet gedoen word om die situasie te beredder. Hierdie verrotting kan nie bloot voortgaan soos die afgelope paar dekades onder die ANC se regering nie.”

Cachalia se uitlatings kom ná ʼn mediaonderhoud waar Jan Oberholzer, bedryfshoof van Eskom, gesê het Eskom is “gekaap” en die kaping is “deurtrek deur die hele organisasie”.

Hy het gesê dit is nie voldoende om ʼn “energie-oorlogskamer” op die been te bring, onder leiding van adjunkpres. David Mabuza nie. Die oorlogkamer sluit finansiesminister Tito Mboweni, energieminister Gwede Mantashe en minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, in.

Cachalia het gesê die vier mans is “dieselfde kwartet wat die kragvoorsiener uitgelewer het en die land in dié verknorsing laat beland het”.

“ʼn Deeglike ondersoek oor die wanadministrasie en verrotting binne dié sleutel-entiteit is nodig. Huidige maatreëls wat die presidensie aangekondig het, insluitend die versnelde aanstelling van André de Ruyter as Eskom se nuwe uitvoerende hoof, laat vrae ontstaan oor die aanstelling en of dit sal insluit dat sy huidige kontrak met Nampak uitgekoop sal word.”

Die regering het Vrydag die vinnigste en goedkoopste opsies versoek om die kragprobleme op te los.

“Daar is tans immergroen kontrakte van meer as 20 jaar wat die land ongeveer R1,4 biljoen (“trillion”) uit die sak sal jaag en die voormalige minister het geweier om die 27 IPP-eienaars bekend te maak. Die versuim om belangrike inligting bekend te maak, skep verdere twyfel en ʼn groter kommer dat diegene wat by staatskapping betrokke was, nog steeds voordeel trek daaruit ten koste van gewone Suid-Afrikaners en die ekonomie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

John ·

Gordhan is ook nie ‘n heilige koei nie… hy was nog nooit ‘n ingenieur nie. Onkundiges word maklik geflous. Daar was onlangs glo ‘n span buitelandse kundiges by Medupi. Waar is die verslag? Die kommunistiese handves wat die ANC ook aanhang, glo alles moet tot die proletariaat se voordeel strek… wat wheel en deal heilig… al stort alles oor die krans. Die Super Six sit almal voor in die bakkie… by die bestuur-ders van Eskom. Dis bietjie te vol vir oorlewing en die spoed waarteen kerse moet byhou…

Anti Da ·

Die DA kan nie eers hulle eie stoep skoon hou nie. Nog praat en beloftes en dans dit vakansie.

Leon ·

Jaaaa, neef Anti-Da… nou ook nie, dat jý of jou party, enigsins iets meer sinsvols kan doen, of voorstel nie… maar mor en brom, dié kan jul!

Gedink ·

BEE op sy beste. Die land se staatsinstellings is terminal siek en die skuld raak elke dag meer, maar onafhanklike kragvoorsieners word verbied. Hoe red jy ESKOM as die meeste verbruikers van elektrisiteit nie daarvoor betaal nie? Jy kan oudit tot jy blou is en oorlogkamers inrig, maar hoe gaan jy verbruikers kry om te betaal vir elektrisiteit?

Griet ·

Welll… darem PROBEER die DA “iets” dóén… ten minste, wat die ander nié eers probeer, behalwe as om te grom en mor nie!!

Seker-Maar Beter-As Niks ·

Dis maklik omi DA te kritiseer, maar dis seker beter as om niks daaromtrent te doen

Carel ·

Niks in SA is meer nuut onder die son nie. Die ANC en oud president Zuma het sonder slag of stoot daarin geslaag om op die ekonomiese slagveld die SA ekonomie te vernietig sonder dat ‘n enkele skoot afgevuur is. Die gevolg daarvan is dat vanaf die hoogste vlakke tot die laagste ‘n rowers en boewe paradys geskep is wat geen grense ken nie en waaraan selfs personeel van die polisie deel het soos wat die jongste berigte aandui. Een ding staan soos ‘n paal bo water, die swart elite skep ten koste van die armes, die werkendes en les bes die land. ‘n Al groter wordende bodemlose put waaruit daar selfs in dekades wat kom nie uitgekom sal word nie. Suid Afrika, jy is net nog ‘n Zimbabwe, Kongo, noem maar op die res van Afrika, stadig maar seker besig om te verarm tot net nog ‘n smerige staat in Afrika, beroof en vernietig deur sy eie mense, die sogenaamde agtergeblewenes wat nou in die regeringstoele van die land sit. SUID AFRIKA, ADIEU!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.