DA lê strafregtelike aanklagte teen Mkhize

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid. (Argieffoto: Elmond Jiyane/GCIS)

Die Demokratiese Alliansie het Donderdag strafregtelike aanklagte aanhangig gemaak teen die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, en die direkteur-generaal van gesondheid, dr. Sandile Buthelezi, oor die Covid-19-korrupsieskandaal van Digital Vibes ter waarde van R150 miljoen.

Mkhize het na bewering persoonlik die dokumente onderteken wat die kontrak bevat het dat dié maatskappy deur nabye vennote van hom bestuur en besit word. “As dit die waarheid is, is dit ʼn direkte oortreding van die Wet op die Voorkoming en Bekamping van Korrupte Aktiwiteite en spesifiek artikel 12 en 13 wat verband hou met dienslewering wat aangebied of aanvaar word in ruil vir regeringskontrakte en tenders,” het Siviwe Gwarube, die DA se skaduminister van gesondheid, in ʼn verklaring gesê.

“Die Wet op Openbare Finansiële Bestuur (PFMA) verbied buitendien ook uitdruklik dat kontrakte deur die rekeningkundige beampte onderteken moet word – nie die uitvoerende owerheid nie, soos na bewering die geval was vir minister Mkhize. Die DG, dr. Buthelezi, moet dus ook ondersoek word vir sy betrokkenheid en moontlike oortreding van die PFMA met growwe nalatigheid.”

Gwarube sê die bewerings teen Mkhize is uiters ernstig. “Dit is ondenkbaar dat pres. Cyril Ramaphosa nie stappe doen teen die minister nie – hangende die uitslag van die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) se ondersoek. Die minister kan nie ʼn speler en ʼn skeidsregter wees in die saak teen hom nie. As hy in sy pos aanbly terwyl die SOE-ondersoek voortduur, kan hy die integriteit van die proses ondermyn en moontlik onregmatige politieke invloed uitoefen. Dit is waarom die DA volhou die president moet hom skors hangende die uitslag van die ondersoeke.”

Volgens Gwarube is die DA ook van mening dat die prosesse deur die SAPD en die SOE gelyklopend kan en moet plaasvind. “Die twee bene van die strafregtelike stelsel kan saamwerk om agter die kap van die byl te kom. Die SOE het net gister bevestig dat hulle meer as R14 miljard se Covid-korrupsie ondersoek. Die persoon wat aan die bestuur staan van die land se reaksie op Covid-19 kan nie bewerings van dié aard teen hom hê nie.”

Die DA doen ʼn beroep op die SOE en die SAPD om hul ondersoeke sonder vrees of guns te voltooi. “Die bal is nou in die president se hande.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Persheks Adri ·

Laat hom ook maar opsy staan soos Ace klaar. As dit op toepassing is vir die 1 hoekom nie die ander nie? Skeer hulle oor dieselfde kam ongeag punt.

gatgogga ·

Mkhize, ek dink jy is nou geregtig op lidmaatskap van die RET faksie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.