DA-leier in sop oor twiet van presidensiële brief   

Lede van die polisie en weermag op patrollie in Mithcells Plain in die Wes-Kaap tydens die afsonderingstydperk. (Foto: SA Polisie/Twitter)

Die DA-leier, John Steenhuisen, kan dalk by die speaker van die Nasionale Vergadering verkla word vir onbehoorlike gedrag. Dit nadat hy ʼn foto van ʼn brief wat pres. Cyril Ramaphosa aan die parlement gestuur het, getwiet het. In dié brief lig Ramaphosa die parlement in dat die hele Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) ontplooi gaan word om die regulasies van algemene afsondering te help afdwing.

Die besluit om Steenhuisen te verkla, is Woensdag deur die parlement se staande komitee vir verdediging geneem.

Die brief is Dinsdag wyd versprei en Steenhuisen het ʼn foto van die brief op Twitter geplaas met ʼn beskrywing dat hy die president gevra het om die inhoud daarvan te bevestig.

“Dit is betreurenswaardig dat ons deur die media gelei is in ʼn saak wat eers deur die komitee oorweeg moes word,” het Charles Xaba, voorsitter van die komitee, gesê. “Ons sal dalk die voorval na die nasionale speaker moet verwys, aangesien dit neerkom op onbehoorlike gedrag.” ANC-LP’s het ook Steenhuizen se twiet as “moedswillig” bestempel.

John Steenhuisen (Foto: Twitter)

Steenhuisen meen egter die besluit om hom te verkla is “heeltemal misplaas”.

“Dis pateties. Jy kan nie ʼn brief lek wat reeds in die openbaar rondgegaan het nie,” het hy Woensdag aan die African News Agency gesê.

“Hierdie is duidelik ʼn poging om die feit te verdoesel dat die brief aan die voorsitter en ander mense uitgestuur is, eerder as om die korrekte kanale te gebruik en dit by die speaker in te handig.”

Steenhuisen sê die komitee moet eerder fokus op oorsig van die ontplooiing van lede van die SANW, oorsig wat tot dusver heeltemal afwesig was.

Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging en militêre veterane, het ook die lek van die brief veroordeel en gesê die saak behoort ondersoek te word.

Die minister het die ontplooiing van meer as 73 000 weermaglede Woensdag bevestig.

Weermaglede in Johannesburg gedurende die algehele landwye afsondering. (Foto: Jerome Delay, AP)

Die komitee het ook Woensdag gehoor dat die militêre ombudsman reeds 33 klagtes van wangedrag deur weermaglede ontvang het sedert lede se ontplooiing om regulasies van die algehele afsondering af te dwing.

Verskeie daarvan is egter bloot video’s wat die publiek aangestuur het sonder enige aanduiding van waar of wanneer dit geneem is. Verskeie van dié video’s is boonop in die buiteland geneem. Dit word dus as ‘n vals klagte teen die SANW beskou en as die verspreiding van fopnuus hanteer, wat tot die vervolging kan lei van diegene wat dit aangestuur het.

Die komitee het ook gehoor dat militêre veldhospitale landwyd ingerig word om te help met die verwagte toeloop van koronavirus-gevalle. Twee van die grootste veldhospitale word ingerig by die Bluff in Durban en die skougronde in Pretoria-Wes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Raadslid ·

Baie onverantwoordelik.
Nog ‘n bewys van die onkunde in die DA….

Pierre ·

Die kruks van die saak is dat die dokument reeds gelek was. Hy het net die korrektheid daarvan probeer bevestig.

MakersMark ·

Verstaan jy die artikel ? Die onkunde is nie by die DA nie maar by die ANC omdat die brief reeds uitgelek het.

Deon ·

Waarvoor wil hulle so baie mense ontplooi? Verduidelik vir ons dat ons kan probeer verstaan asb Mnr die president

Fedup ·

Well, i saw that letter on news24 about 2 hours before steehuisen posted in on twitter. I cannot stand politics. It’s a pathetic childish games. But one thing i absolute despise is unfairness. The anc is grasping at straws for a mistake their president made. So, go scold him instead.

donsie ·

Ek dink nie die SANDF het eers 73000 permanente lede nie, hy sal die reserwe magte ook moet oproep

Michael 1 ·

Die DA hou hulle besig met allerlei simpel dingetjies maar ontwyk altyd die belangrikheid van druk op die regering om diskriminerende wetgewing teen wit mense te skrap dink Steenhuizen hy is n afrikaan

Piet ·

Die DA het nie geleer uit Zille se episode nie. Die ANC soek sulke geleenthede om die DA te takel.

Hans ·

Dit sal baie beter in die land gaan as almal hul werk begin doen en twietery vir voels los…… Verdomp man!!!!!

Mellie ·

Mense wie se tonge so los is oor die DA is seker VF+ ondersteunders. Snaaks dat die VF+ skitter in hul afwesigheid in hierdie tyd (behalwe om donasies te vra en om Viljoen se dood te betreur). John Steenhuisen laat ten minste sy stem hoor. Skiesie, hoor!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.