DA-LP’s gewaarsku oor sosialemediaboodskappe

John Steenhuisen, hoofsweep van die DA. Foto: Twitter

Parlementslede van die DA het ’n kwaai brief van die party se hoofsweep, John Steenhuisen, ontvang om hul gedrag op sosiale media te verbeter, of dissiplinêre optrede in die gesig te staar.

Luidens die brief, wat aan Maroela Media gelek is, klap Steenhuisen die sweep omdat die DA se pogings om positiewe mediadekking te kry, deurgaans beduiwel word deur ondeurdagte insette van LP’s op sosiale media.

In die brief wys Steenhuisen daarop dat hy en die DA-leier, Mmusi Maimane, tydens die party se eerste koukusvergadering na die verkiesing klem daarop gelê het dat LP’s moet let op hul gedrag op sosiale media.

“Ten spyte hiervan het die nuwe parlementêre sessie afgeskop met mediadekking wat gedomineer word deur afwysende reaksie van die publiek oor ’n verskeidenheid twiets deur LP’s. Elke keer dat die party die geleentheid kry om op die voorvoet te tree op kwessiegedrewe sake, word ons gefnuik deur ondeurdagte twiets. Dit kan nie en sal nie so voortgaan nie,” lui die brief.

Steenhuisen wys uit dat joernaliste deesdae DA-LP’s se kommunikasie op sosiale media volg en dat ysere dissipline nodig sal wees as die party sy uitslae in die munisipale verkiesing van 2021 wil verbeter.

Volgens Steenhuisen moet DA-LP’s hulself telkens vier vrae vra voor hulle twiet:

* Gaan die twiet die DA se goeie naam bevoordeel of benadeel?

* Gaan die twiet die LP se beeld bevoordeel of benadeel?

* Gaan die twiet die DA se boodskap en kernwaardes uitdra?

* Is die twiet toondoof?

Volgens Steenhuisen se brief kan sosiale media ’n baie positiewe hulpmiddel wees as dit reg gebruik word, maar dit kan baie skade aanrig as dit onoordeelkundig gebruik word.

Die brief sluit af met ’n waarskuwing: “Indien enige LP nie optree binne die reëls van die DA se beleid oor sosiale media nie, of as LP’s se plasings op sosiale media toondoofvervreemdend of skadelik is, sal ek geen ander opsie hê as om toepaslike stappe te doen nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Siener ·

Wat gaan die DA nog probeer instel om van Zille ontslae te raak?
Zille is 99% korrek met die dinge wat sy twiet maar die DA hou nie daarvan nie.
Sies DA.

$ ·

Maimane moet vee voor sy eie deur en bietjie gaan besin oor sy eie twiet van drie manne met groot klippe wat staan en wag om ‘n hoek.

Elmarié Booyens ·

Stem 100% saam ook die vele ander tweets van hom wat net so steurend is….

KrokodilBotha ·

Minder twiet twiet. Ry liewers Pretoria middestad toe.

marous ·

Wat die hart van vol is loop die mond / media van oor . Hy moet dalk versoek dat sy volgelinge liters tippex drink om ontslae te raak van hul gedagtes wat nie met hul politieke agenda strook nie .

Magda ·

Asb en waarsku ook sommer julle RAADSLEDE ek het 100de emails gestuur aan die DA
WAAR HOOR JY DAT DIE DA RAADSLID SÊ DAT HULLE NIE MY STEM NODIG HET NIE .. Daarom het my stem gegaan vir die VF

piet piet ·

Die DA is n party vol leuens en diskriminasie teen minderhede of soos hulle bekend staan die anc lite ,Mev de lille gaan nog hulle alie skop in die wes kaap

Grys ·

Meer vryheid van spraak in die ANC as die DA, ou Tito kon gemaklik die Uni uitwys oor die verwydering van afrikaans as medium taal, dit terwyl hy ń minister is, al is die meederheid van sy party ten gunste daarvan. Dit gaan net oor mag, al wat hulle soek is mag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.