DA reg om hof te nader oor Mapisa-Nqakula se regskoste

Nosiviwe Mapisa-Nqakula in ‘n argieffoto van haar termyn as minister van verdediging. (Argieffoto: Jonisayi Maromo/ANA)

Die DA sal nie huiwer om stappe te doen sou die minister van verdediging en militêre veterane haar voorganger, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, se versoek om regshulp toestaan nie.

Mapisa-Nqakula, voormalige parlementêre speaker, staan tereg op 12 aanklagte van bedrog en een van geldwassery. Sy word daarvan beskuldig dat sy vroeër, as minister van verdediging en militêre veterane, sowat R2,3 miljoen in omkoopgeld ontvang het.

Maroela Media het vroeër berig die versoek het deur die hoof van regsdienste in die weermag, genl.maj. Eric Mnisi, gekom. Mnisi het dit goedgekeur sonder dat hy eers die advies van die minister van verdediging en militêre veterane, Thandi Modise, óf die sekretaris van verdediging, dr. Thobekile Gamede, ingewin het.

Gamede is ook die rekenpligtige beampte, “veral wat betref kwessies wat ʼn finansiële uitwerking op die departement het”.

Modise het reeds ʼn ondersoek gelas na die hantering van die kwessie.

Sy sê in ʼn verklaring nietemin dat sy Mapisa-Nqakula se versoek sal oorweeg en die besluit op wetgewing sal grond.

Kobus Marais, die DA se woordvoerder oor verdediging, meen egter Modise moet dit nie eens oorweeg nie.

“Die minister behoort geen oorweging te skenk aan die uiters buitengewone en moontlik onwettige versoek om finansiële hulp wat die voormalige speaker by die departement ingedien het om haar regskoste in die korrupsieverhoor te betaal nie,” sê hy.

“Die misbruik van staatshulpbronne vir persoonlike gewin het ʼn deurlopende tema in die korrupte ANC-regering geword. Mapisa-Nqakula is desperaat om voort te gaan met die verwerplike gebruik en die DA is gereed om te verseker dat sy dit nie doen nie.”

Nosiviwe Mapisa-Nqakula, bedrog, hof, Baleka Mbete, Charles Nqakula, ANC, Nasionale Vergadering, Pretoria, speaker

Nosiviwe Mapisa-Nqakula. (Foto: Isabel Venter / Maroela Media)

Marais sê sou Modise dus instem dat die departement van verdediging Mapisa-Nqakula se regskoste betaal, sal die DA “nie huiwer om stappe te doen om dit te laat hersien en ter syde te stel nie”.

“Daar is absoluut niks wat Mapisa-Nqakula geregtig maak op finansiële steun van die departement nie en enige stappe om dit goed te keur, sal verkwistende uitgawes en ʼn misbruik van belastingbetalergeld wees,” sê hy.

Mapisa-Nqakula staan tereg op misdade wat na bewering tydens haar ampstermyn as verdedigingsminister gepleeg is. Haar veronderstelling dat die belastingbetaler dus haar regkoste moet dra, is “moontlik die belaglikste toeëiening wat die kenmerk van die ANC se ontplooide kaders geword het”.

Belastingbetalers word gedwing om miljoene rand op te dok vir die private regsverteenwoordigers vir almal van oudpres. Jacob Zuma, tot voormalige Openbare Beskermer Busisiwe Mkhwebane en oud-SAUK-hoof Hlaudi Motsoeneng.

“Mapisa-Nqakula word in haar private hoedanigheid aangekla vir beweerde korrupsie en behoort dus nie regshulp van die staatskas te vra wat sy so minagtend in die uitvoering van die beweerde misdade misbruik het nie,” sê Marais.

Hy meen nie net moet Modise die versoek eenvoudig verwerp nie, Mnisi moet ook voorlopig geskors word hangende ʼn tugverhoor. “Mnisi het sy posisie as rekenpligtige beampte misbruik en moet ten volle verantwoordelik gehou word vir die ernstige vertrouensbreuk”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Di ·

Wat my stomslaan is dat ANC kaders MINISTERS kan word in verskillende Departemente waarvan hulle geen kennis, ondervinding of kwalifikasies het nie. Van hulle is kort kort in “ander poste” maar GEEN BENUL hoe om die werk te doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.