DA sê dié lesse is geleer uit bek-en-klouseer-uitbrekings

Argieffoto (Foto: Du Preez de Villiers/Maroela Media)

Die DA in die Vrystaat verwelkom die opheffing van die verbod op die verskuiwing van vee in die provinsie ná bek-en-klouseer in sommige distrikte opgemerk is. Alhoewel sommige gebiede nog onder kwarantyn is, kom dit voor of die siekte onder beheer is in die provinsie.

Maroela Media het vroeër berig die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het regulasies oor die verbod op die verskuiwing van vee in die Vrystaat verslap. Ingevolge ʼn verklaring van minister Thoko Didiza se kantoor, kan boere op Vrystaatse plase wat nie deur bek-en-klouseer geraak word nie, voortaan weer beeste verskuif. Plase waar daar ʼn positiewe geval van bek-en-klouseer was, of daar vermoedelik so ʼn geval is, bly onder kwarantyn.

Roy Jankielsohn, provinsiale leier van die DA, sê ʼn oorsigtelike besoek en interaksie met verskeie belanghebbendes in Harrismith met DA-raadslid Alison Oates, ook ʼn boer in die gebied, het die volgende kwessies uitgelig wat betref bek-en-klouseer:

  • Die regering se burokratiese prosesse om ernstige siektes in die landboubedryf te hanteer is omslagtig en vertraag reaksie om die verspreiding te beperk.
  • Fondse moet meer doeltreffend versprei word om uitbrekings van siektes onder vee te beperk en te isoleer. Staatsfondse moet ook op ʼn gelyke vlak versprei word om die ekonomiese impak van siektes te verlig en boere op ʼn regverdige wyse te vergoed vir verliese wat hulle gely het en om hulle te help met bioveiligheid op plase.
  • Die SAPD se reaksie is stadig, sporadies en ondoeltreffend. Plaaslike boere moes self padblokkades op sekondêre paaie reël om die verskuiwing van diere en verwante produkte te beheer.
  • Daar is ernstige gebreke in interprovinsiale samewerking en kommunikasie.
  • Die regering se kommunikasie met opkomende en handelsboere oor die siekte was stadig.
  • Die gebrek aan gemeenskaplike grondbestuur op munisipale vlak verg ingryping van die provinsiale regering.
  • Inligtingstegnologie oor die verskuiwing van vee kan in die provinsie gebruik word om die verskuiwing van vee te monitor en die verspreiding van siektes en veediefstal te beperk.

Jankielsohn sê die DA sal die betrokke kwessies met die departement van landbou en landelike ontwikkeling aanroer tydens gesprekke in die Vrystaatse wetgewer en ʼn plan van aksie versoek om kommer oor toekomstige uitbrekings te takel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.