Regulasies oor bek-en-klouseer verslap

(Argieffoto)

Die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het regulasies oor die verbod op die verskuiwing van vee in die Vrystaat verslap.

Ingevolge ʼn verklaring van min. Thoko Didiza se kantoor, kan boere op Vrystaatse plase wat nie deur bek-en-klouseer geraak word nie, voortaan weer beeste verskuif. Plase waar daar ʼn positiewe geval van bek-en-klouseer was, of daar vermoedelik so ʼn geval is, bly onder kwarantyn.

Die regulasies moet egter eers in die Staatskoerant afgekondig word voor dit van krag word.

Nadat die aanvanklike verbod op die verskuiwing van beeste ingestel is, het die minister onderneem om maandeliks ʼn hersiening oor die verspreiding van bek-en-klouseer in die geraakte provinsies te doen.

Siektebeheermaatreëls in KwaZulu-Natal en Limpopo geld steeds en sal weer op ʼn maandelikse grondslag heroorweeg word.

Georganiseerde landbou het vroeër gepleit dat die gebiede wat by die verbod ingesluit word, verklein word. Die verbod het ʼn ernstige uitwerking op talle boere se kontantvloei. Hulle sukkel om voor te bly om weiding aan hul diere te verskaf en kan ook nie ʼn inkomste verdien as hulle nie hul diere kan verkoop nie.

Die Vrystaatse departement van landbou het vroeër die nasionale departement gevra dat die bestaande siektebeheergebiede in die provinsie heroorweeg word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.