DA sê John Moodey vlug van sy dade

John Moodey. Foto: DA

Volgens die DA was sy Gautengse leier, John Moodey, wat Woensdag onverwags uit die party bedank het, op die punt om dissiplinêr verhoor te word weens van die ergs beweerde politieke vuilspel in die party se geskiedenis.

Die inligting is Donderdag op ʼn DA-nuuskonferensie bekend gemaak deur die party se waarnemende leier, John Steenhuisen, wat gesê het dit is laakbaar dat Moodey maak asof hy die DA verlaat om werklike politieke redes, terwyl hy eintlik net bang is om verantwoording te doen vir beweerde skandelike gedrag.

Moodey was 22 jaar lank ʼn DA-lid en 16 jaar lank die party se Gautengse provinsiale leier. Hy was trouens een van drie kandidate vir die landwye leierskap van die party toe hy Woensdag op verrassende wyse besluit het om die party te los. Met sy bedanking het hy aangevoer die DA is in die verkeerde rigting op pad en dat hy hom nie meer by die party tuis voel nie.

Die DA-leier John Steenhuisen. (Foto: Courtney Africa/ANA)

Die DA sê dit is nie waar nie – die ware rede vir Moodey se onverwagse bedanking is dat hy weet die party het klankopnames waarin Moodey verskeie DA-raadslede probeer oortuig om valslik te beweer ʼn senior DA-lid (wie se naam aan Maroela Media bekend is) sou hulle poste aanbied in ruil vir seks.

Die senior DA-lid wat valslik hiervan beskuldig sou word, is al jare lank ʼn doring in Moodey se vlees.

Boonop beskik die DA oor verdere klankopnames waarin Moodey die twee stadsraadslede belowe dat hy persoonlik sal inmeng in die nominasieproses vir aanstaande jaar se munisipale verkiesing sodat hulle hoog op die party se proporsionele lys sou verskyn en daarvan seker kon wees dat hulle as raadslede herkies sou word, met die inkomste wat daarmee gepaardgaan.

Moodey sou binne die volgende paar weke voor die DA se federale regskommissie verskyn het om sy onskuld te probeer bewys.

Tydens die nuuskonferensie het Steenhuisen gesê die ware rede vir Moodey se bedanking is bloot om te ontkom aan die gevolge van sy optrede – noudat hy nie meer ʼn DA-lid is nie, hoef hy nie aan die wêreld te verduidelik wat hy gedoen het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

annie ·

Die DA hanteer skynbaar ook sy probleme interm en dis die uitloop. Wie kan nou geglo word?

Anoniem ·

Maak dit asb bekend, want deur dit nie te doen nie lyk die DA soos die swape en stap Moodey diknek anderkant uit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.