DA sê ook onwettige besetters moet Airbnb-eiendom verlaat

Kampsbaai (Foto: Max Lipa/Pixabay)

Die Demokratiese Alliansie ondersteun die regte van die LGBTQIA+-gemeenskap, maar die party verwerp die voortgesette onwettige besetting van ʼn Airbnb-eiendom in Kampsbaai deur ʼn klein groepie queer-aktiviste.

“Dit is skynheilig om aan te voer dat ʼn regte-gebaseerde agenda bevorder word terwyl die regte van ander geskend word. Ons ondersteun Airbnb se eis dat die onwettige besetters die perseel vandag teen 17:00 moet ontruim,” het Zakhele Mbele, DA-LP, gesê.

“Die onwettige besetters van hierdie eiendom is eenvoudig nie die slagoffers wat hulle beweer hulle is nie. Hulle ondermyn die regmatige struggle van talle wat LGBTQIA+-regte wil bevorder. Hulle optrede benadeel dié pogings en hulle stel hul eie belange bo die regte van die eienaar van die eiendom en die toerisme- en gasvryheidsbedryf waarvan die deel vorm – ʼn bedryf wat verantwoordelik is duisende poste in Suid-Afrika.”

Mbele het gesê die reg om ʼn eiendom te besit word beskerm deur artikel 25(1) van die Grondwet.

“Ons het simpatie met hulle poging om die lot van kwesbare queer mense, vroue en kinders in Suid-Afrika te bevorder, maar om onwettig iemand se eiendom te beset, lei die aandag af van hul doelwit. Hulle onwettige optrede sal slegs ʼn nadelige uitslag hê vir hul saak en vir die toerisme- en gasvryheidsbedryf, en dit kweek nie goedgesindheid onder die publiek nie.”

Mbele het daarop gewys dat die werkloosheidkoers in Suid-Afrika op byna 40% staan ná talle ondernemings talle personeellede moes aflê of hul deure permanent moes sluit. “Die land se ekonomie sal nog lank sukkel om te herstel. Die optrede van hierdie groep plaas die bestaan van mense verder onder druk in ʼn bedryf wat slegs onlangs weer kon oopmaak en dit kan slegs as selfsugtig beskryf word.”

Mbele het bygevoeg kriminele optrede wat die regte van ander skend – selfs al word dit met goeie bedoelings gedoen – sal en kan nooit die oplossing wees nie. “Die LGBTQIA+-gemeenskap gaan reeds gebuk onder erge diskriminasie en geweld, selfs in Suid-Afrika waar hul regte in die Grondwet beskerm word. Dit is geregverdig om die fokus te plaas op hierdie ongeregtighede, maar die optrede van hierdie besetters kan nie geregverdig word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Snowball ·

Hierdie mense het die eiendom vir ‘n naweek gehuur met die doel om daar te ‘squat’. Hulle doel was besetting. Hulle tree onwettig op en glo hulle het ‘n reg tot die eiendom; een het tydens ‘n onderhoud beweer hulle neem hulle land en dit wat aan hulle behoort bloot terug en boonop ander wat dieselfde voel aangemoedig om ook so te doen. Die toerismebedryf is op sy knieë en hierdie gedrag gaan die uithuur van vakansie verblyf baie skade doen. SA word daagliks ‘n groter mishoop en ‘n broeiplek vir alle en enige tipes kriminele.

Persheks Adri ·

Plaas plak hulle by unie gebou en Cyril en kie se eiendom

Johanncb ·

Dit is nie hulle eiendom nie! Wat is so moeilik om te begryp?

LANA is ELANè ·

Hier is baie ander wonderlike groepe mense in ons land wat bedrieg, verkrag, vermoor, verwaarloos, mishandel word, maar wat nooit ooit enige publisiteit geniet nie, en ook nooit ooit op ‘n ander se koste gaan plak net om hul sg punt te maak nie. Hierdie” gemeenskap” is rerig nie so spesiaal dat daar voortdurend aandag aan hulle in die media gegee moet word nie ‼️ Inteendeel. Waarom dring hulle aan op bevoorregting in allerhande fasette vd lewe?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.