DA-vrou het vertroulike inligting laat uitlek

(Foto: Demokratiese Alliansie/da.org.za)

ʼn Vrou wat vertroulike inligting uitgelek het, se lidmaatskap by die Demokratiese Alliansie is Vrydag opgeskort ná ʼn drie jaar lange regsproses waartydens sy skuldig bevind is.

Nkele Molapo se skuldigbevinding is ook tydens ʼn appèlproses bekragtig.

Mike Moriarty, voorsitter van die DA in Gauteng, het in ʼn verklaring gesê Molapo se lidmaatskap aan die party word onmiddellik opgeskort en daar is nie enige verdere moontlikhede vir interne appèlaansoeke nie.

Molapo het in 2017 vertroulike inligting van die DA Tshwane-regering aan die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) uitgelek.

“Bewyse is in daardie stadium voorgelê aan die burgemeester van Tshwane in daardie stadium, Solly Msimanga, en hy het ʼn saak aanhangig gemaak by die DA se federale regskommissie.” Die kommissie het gesê alle bewyse is noukeurig oorweeg en getuienis, verduidelikings en tydlyne het geklop.

Molapo het egter alle bewerings ontken en het aangevoer dat iemand gepoog het om haar as die skuldige voor te doen. “Sy het egter nie enige verduideliking gee vir die motief of waarom sy die teiken sou wees van só komplot nie en kon ook nie sê wie die meesterbrein sou wees agter só komplot nie,” het Moriarty bygevoeg.

Molapo het vandeesweek ook ʼn saak van seksuele teistering teen Msimanga aanhangig gemaak. Moriarty het egter gesê die tydsberekening vir die aantygings is verdag. Msimanga het die bewerings ontken en beskou dit as ʼn poging deur Molapo om sy naam in oneer te bring in die aanloop tot vandag se uitsprake teen haar en die beëindiging van haar DA-lidmaatskap.

Deel van die getuienis en bewyse wat die kommissie oorweeg het, was boodskappe wat Molapo direk aan senior EFF-leiers gestuur het.

“Die paneel, wat uit drie persone bestaan, het Molapo eenparig skuldig bevind dat sy politieke strategie in Tshwane aan die EFF uitgelek het.”

Nadat sy appèl aangeteken het teen die skuldigbevinding, het vyf persone die appèlaansoek aangehoor en gevolglik haar skuldigbevinding bekragtig.

“Die bewyse is duidelik: boodskappe en skermgrepe van boodskappe is ontvang en aangestuur. Dit was ʼn waterdigte saak.”

Moriarty sê die uitlek van vertroulike DA-inligting en politieke strategie aan die EFF was die oorsaak van groot onstabiliteit in die koukus, regering en Stad Tshwane. Me. Molapo is skuldig daaraan dat sy taktiese politieke voordele aan die EFF oorhandig het en dit het ons werk ondermyn. Ná die inligting uitgelek is, het die Pretoriase hooggeregshof in sy uitspraak oor onstabiliteit in Tshwane bevind dat die EFF en die ANC se suksesse om tydens sleutel-oomblikke nie ʼn kworum te bereik nie, daartoe gelei het dat die werk van die raad gesloer het. Dié taktiek, om nie ʼn kworum te bereik nie, was gebaseer op inligting wat die EFF gehad het oor die DA se politieke strategie.”

Moriarty het gesê hy is baie tevrede met die uitslag van die saak. “Die DA duld nie persone wat inligting uitlek om die party te destabiliseer of ons werk en pogings ondermyn om verandering in Suid-Afrika teweeg te bring nie. Sulke oortredings moet vervolg word.”

Molapo verbeur ook haar setel in die Gautengse wetgewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

JohanR ·

Lyk my die DA kaders gaan maar ook vinnig agteruit, maar sy sal seker nou by Herman Mashaba gaan inval! ‘n Politikus is ‘n gemors ding!

Blikkantien ·

So kenmerkend van sekere lede van die samelewing. Ontken alles al wys dit op kamera of selfoon dat jy skuldig is. So asof dit die oorweldigende getuienis gaan verander. Idioties.

Theuns ·

Gewonder waar Solly Msimanga is! Hy is ‘n baie goeie kandidaat vir leierskap vs die Ntuli wat skielik op die horison is. Hy praat Afrikaans en is gebore leier.
. Hoekom neem dit DA in Gauteng 3 jaar om ‘n oneerlike lid te skors? Swak bestuur en gebrek aan poloitike wil by Moroati.
Mense loop oor na die DA vir geld omdat sommer dadelik raadslede word om “balans” te skep. Beste kandidate wat meestal with of bruin is, word nie stadsraadslede nie omdat inkommers bevoordeel word. Die inkommers kom vir die geld nie omdat hul beginsel ondersteun, of vertsaan nie.
Mmusi was net so mislukking en agteruitgang.
Good riddance! Daar is nog baie sulke oneerlikes in die DA op munisipaliteite, provinsiaal en nasionaal.
Wannneer word die leuenaar wat die onderwyseres beledig het uitgeskop? Solank mense beloon word vir sleg weees omdat DA bang is hul word beskuldig, sal dit ‘n grap party bly.
HELEN ZILLE vir leier!

Chris dupreez ·

Die anc en die da moet besef malema het spioene in hulle partye.

Piet ·

Natuurlik eff spioen,,, Jy kan hulle GLAD NIE vertrou nie,,,

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.