DA wil diefstal van infrastruktuur pak

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: Unsplash)

Die DA het ʼn taakspan gestig om die diefstal van openbare infrastruktuur, wat wydverspreid oor Suid-Afrikaanse stede en dorpe voorkom, te bekamp. Die DA voer aan dat hierdie taakspan broodnodig is aangesien die regering versuim om die krisis op ʼn sinvolle manier te hanteer.

Telkom, Eskom, die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) en Transnet het verlede jaar in ʼn gesamentlike verklaring gesê dat kabeldiefstal en die voortslepende vandalisme van infrastruktuur ʼn jaarlikse verlies van R7 miljard tot gevolg het. Die uitwerking daarvan op die ekonomie beloop jaarliks bykans R190 miljard.

Verder beïnvloed hierdie misdrywe plaaslike regerings se vermoë om elektrisiteit en ander basiese dienste te lewer wat daartoe lei dat talle mense dikwels sonder hierdie basiese dienste moet klaarkom.

Volgens Bobby Stevenson, die DA se woordvoerder vir veiligheid en sekuriteit in die Oos-Kaap, het die aangemelde gevalle van vandalisme van noodsaaklike infrastruktuur in Nelson Mandelabaai in die Oos-Kaap tussen 2020 en 2022 verdubbel. Hierdie soort misdrywe het in Nelson Mandelabaai van 143 tot 292 gevalle gestyg, terwyl gevalle in Buffalo City met meer as 76% (van 146 tot 258) toegeneem het.

Die LUR vir gemeenskapsveiligheid, Weziwe Tikana-Gxothiwe, het in antwoord op ʼn parlementêre vraag van die DA ook onthul dat meer as 1 200 gevalle van vandalisme van noodsaaklike infrastruktuur oor die afgelope vier jaar in hierdie munisipaliteite aangemeld is

Mat Cuthbert, DA-LP en woordvoerder van die taakspan, sê die span bestaan uit sy skaduministers van polisie, openbare ondernemings, handel, nywerheid en mededinging, vervoer, asook uitvoerende beamptes van munisipaliteite waar die DA in beheer is.

“Saam het ons ʼn stel plaaslike, provinsiale en nasionale ingrypings ontwikkel wat ons weet kan help om die krisis op hande doeltreffend te takel,” sê Cuthbert.

Voorgestelde nasionale ingrypings:

  • Gee koperdiefstal sy eie misdaadkode en maak dit ʼn prioriteitsmisdaad by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD).
  • Skep ʼn gespesialiseerde SAPD-eenheid.
  • Stel teikens vir die vermindering van koperdiefstal by semi-staatsinstellings.
  • Noue samewerking tussen wetstoepassers en metaalherwinnaars om te help met die opsporing van metale waarmee onwettige handel gedryf word.
  • Bemagtig die Komitee vir die Bestryding van Diefstal van Nie-ysterhoudende Metale (NFTCC) deur wetgewing en ʼn toegewyde begroting.
  • Vestig ʼn beloningsblitslyn.
  • Die agterstand van skroothandelaarlisensies moet uit die weg geruim word.
  • Teken skrootmetaalverkope op gestandaardiseerde wyse aan.

“Elkeen van die betrokke skaduministers sal die nasionale ministers versoek om ʼn kosteberekeningsoefening te onderneem om te sien hoeveel geld hulle aan die voorgestelde stel ingrypings – binne die bestek van hul departement – kan toewys,” sê hy.

Voorgestelde provinsiale ingrypings:

  • Provinsies moet brandpunte uitwys wat gebuk gaan onder vandalisme en diefstal sodat wetstoepassingsagentskappe veiligheidspersoneel kan aanwys om die gebiede te beskerm.
  • Provinsies moet reaksieplanne ontwikkel om beter op sulke voorvalle te reageer.

Voorgestelde plaaslike ingrypings:

  • Gespesialiseerde eenhede moet binne metro’s en dorpe se wetstoepassingsowerhede opgestel word.
  • Onuitwisbare kentekens moet op alle elektriese infrastruktuur aangebring word.
  • Die gebruik van alternatiewe metale om die gebruik van koper te vervang moet ondersoek word.
  • Alarmstelsels moet by infrastruktuur geïnstalleer word wat dan direk met plaaslikewetstoepassingsowerhede gekoppel word.
  • Plaaslike departemente moet doeltreffend begroot vir die nodige sekuriteit om terreine soos substasies te beveilig.

Volgens die DA gaan hy plaaslike regerings versoek om hierdie ingrypings formeel deur die betrokke raadsprosesse aan te neem en dit by hulle begrotingsoorwegings in te sluit.

Daarbenewens sal die DA ook die speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, versoek dat debat dringend oor hierdie saak gevoer word.

“Die regering kan nie stilsit terwyl ons land se infrastruktuur gestroop en geplunder word nie,” sê Cuthbert. “Om ons ekonomie te beskerm, moet ons ons infrastruktuur beskerm.”

Die Kaapstad-metro het onlangs aangekondig dat hy beplan om die stad se spoorpassasiersdienste by die nasionale regering oor te neem en dié diens self aan te bied. Dit kom nadat hierdie spoordiens al jare lank onder diefstal en vandalisme gebuk gaan wat daartoe gelei het dat sy sentrale lyn, wat die gewildste en nodigste lyn is, tans nie eens in werking is nie.

Die berig is gewysig sedert dit aanvanklik gepubliseer is – RED.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Marius ·

Kom ons hoop op sukses. Dit kan werk as dit konsekwent deur die bank toegepas word…

Frank ·

Misdaad is lonend, veral koper diefstal, en die beste manier is om bestryding van misdaad ook lonend te maak. Miljoene rande word afgeskryf en selfs net 10% daarvan in ‘n fonds wat belonings uitbetaal vir die suksesvolle inhegtenisname van diewe sal amper elke jan rap en sy maat laat spring om diewe te rapporteer en ‘n belonging te kry daarvoor

Reinald ·

Verklaar gepeuter met infrastruktuur en die aankoop van sulke toerusting nasionale sabotasie, en eskaleer fonnise!

domheks ·

die begroting is te min – dan is daar nie genoeg vir salarisse nie…

Keelvol ·

Julle kan nie eers die Krag krisis in Kempton Park uitsorteer nie. Wat nog te Sê op n nasionale vlak.

Jacobus ·

Klomp terroriste regeer die land, so dit gaan nie maklik wees nie.

Sarel ·

1. Bietjie laat Infrastruktuur klaar vernietig..
2. Waaru is julle Leier wanneer mens hom nodig het
Kirkwood of Ukraiene

Di ·

Begin deur al die onwettige immigrante te vind en terug te pos waar hulle vandaan kom en pas beter grensbeheer toe. Meeste kriminele dade word deur hulle gepleeg

Harley Davidson ·

Die DA moet druk uitoefen om ‘n referendum te kry om die weskaap afgestig te kry van SA .

Kobus ·

Hoekom prosesse instel en dit so gekompiseerd maak. Hulle kan nie eers ‘n brief aflewer in Centurion nie. Maak slegs ‘n wet wat die beskadiging van infrastrukttur as sabotasie kwalifiseer en die verkoop van koperafval verbied. ‘

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.