Daar’s lig in beurtkragtonnel – Ramokgopa

Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit (Foto: GCIS)

Die volgehoue verbeterde opwekkingskapasiteit by Eskom kan toegeskryf word aan die verbetering in opwekkingsvermoë, asook die dalende vraag na krag, het dr. Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit, Dinsdag in die parlement oor die inwerkingstelling van die regering se energie-aksieplan gesê.

Die minister is positief oor die vordering in opwekkingskapasiteit en sê Eskom word tot hoër vlakke van bedryfsdoeltreffendheid herstel.

Boonop is vandag Suid-Afrikaners se vyfde dag sonder dat beurtkrag in een of ander stadium ingestel moes word.

“Ons kyk na opwekking-finansieringsopsies om die kragnetwerk uit te brei en te versterk om Suid-Afrika se nuwe energie-opwekkingsbronne te ondersteun en energiesekerheid te waarborg.”

Volgens die minister is daar in Oktober tot dusver volgehoue verbeterde opwekkingskapasiteit met ʼn toename van 27 410 MW tot 28 883 MW. Die opwekkingskapasiteit het verlede week die 30 000 MW-kerf oorskry.

Dit is grootliks te danke aan opwekkingseenhede 3 en 1 van die Kusile-kragstasie wat die afgelope maand weer in diens gestel is. Ramokgopa het dit as ʼn groot prestasie beskryf dat die voltooiing van herstelwerk van dié eenhede twee maande voor die beoogde spertyd afgehandel is.

Eenheid 2 sal na verwagting in November herstel wees, ook vroeër as verwag. Eenheid 5, wat ook opgepak het, sal volgens beplanning in Desember vanjaar weer in diens gestel word.

“Die twee eenhede wat herstel is, het die afgelope maand ʼn bykomende 1 600 MW tot die kragnetwerk gevoeg, terwyl eenhede 2 en 5 nog 1 600 MW sal byvoeg. Dit beteken die vier Kusile-eenhede sal ʼn algehele basislading van 3 200 MW teen Desember vanjaar verskaf.

“Die beplanning is dat die laaste Kusile-eenheid, eenheid 6, in Augustus volgende jaar herstel sal wees.”

ʼn Tussentydse oplossing is ook gevind om die terugkeer van Medupi se eenheid 4 van Augustus volgende jaar tot April te bespoedig; dit sal nog 800 MW basislading by die netwerk voeg.

Volgens Ramokgopa het verbeterde opwekking en ʼn laer vraag na krag ʼn eksponensiële toename in sogenaamde beplande onderbrekings, of behoorlike instandhoudingswerk, moontlik gemaak.

“Die verhoogde beplande onderbrekings beteken dat ons die algehele prestasievermoë van ons opwekking, asook betroubaarheid en doeltreffendheid verbeter en voortdurend verseker dat ons na ʼn ewewig tussen vraag en aanbod stuur – gebuffer deur ʼn gesonde reserwemarge.

“Die toename van beplande instandhoudingswerk sal na verwagting vir die res van die somermaande volgehou word, met die doel om die winter volgende jaar in te gaan met ʼn opwekkingskapasiteit wat veel gesonder en meer betroubaar is.”

Ramokgopa sê die daling in die vraag na krag word grootliks toegeskryf aan die suksesvolle inwerkingstelling van verhoogde vraagkantbestuur-intervensies in Julie vanjaar.

Hy sê die fenomenale groei in sonkrag en kleinskaalse ingeboude opwekkingsoplossings speel ook ʼn groot rol in die daling.

“Sonkrag in Suid-Afrika het sedert Julie 2022 meer as verdubbel tot meer as 4 500 MW.”

Hoewel daar ʼn lig in die tonnel is in verband met die opwekking van krag, is daar nog nie goeie nuus oor die miljarde rande wat munisipaliteite Eskom steeds skuld nie. Eskom verskaf krag aan 238 munisipaliteite, waaronder volgens verskaffingskontrak aan 158 gebiede in grootmaat, 72 in nie-grootmaat en aan agt metro’s.

“Dit het geblyk dat ʼn aansienlike aantal munisipaliteite in ʼn toestand van ‘verlamming’ is en nie hul pligte kan nakom nie. Vanaf Julie vanjaar het die algehele agterstallige munisipale skuld aan Eskom op R63,2 miljard gestaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Delia ·

WANT, ek het o.a n solar stelsel op my dak vir water. So ek sit byna nooit my geyser aan. En so baie ander mense.

Casper ·

Die minister is bewus van munisipaliteite wat eskom miljarde rand skuld maar hy sê nie wat hulle gaan doen om die skuld in te vorder nie.Om die skuld af te skryf gaan die probleem net vererger.

Piet 6 ·

Die lig in die beurtkragtonnel is die aantal sonkragstelsels wat deur besighede en privaat huishoudings ge-installeer word met minder elektrisiteit verkoop deur ESKOM en minder inkomste vir Eskom. Tariewe moet dus weer astronomies verhoog word.

Die gevolg is dat mense wat nie sonkrag kan bekostig nie, meer vir eliktrisiteit moet betaal.

Casper ·

Piet 6,in die kol.Ek het ‘n gas geyser en stoof geinstaleer en gebruik net die nodige elektriese toestelle.Ons mun. Rekening wys die verskil,daad is gemoedsrus wanneer etes voorberei moet word,ons hetaltyd warm water en gas is goedkoper.Ons kom 3 maande uit met ‘n 19kg gasbottel wat R500 kos en die stoof se 9kg bottel hou 4 maande teen R250.

M ·

Julle, die anc (sic) het seker ‘n Vuurtoring – lig in die hande gekry en aan ‘n krag-opwekker gekoppel en toe aan die eindpunt van die tonnel gaan neersit. Onthou net, so ‘n lig werk op reelmaat …… dan aan, dan af…. dan aan, dan af … presies soos julle Eskom bedryf ….. dan aan…. dan af…. dan aan… dan af.

Papsak ·

Ag jy sien eidlik lig waar donkerte is maar ja se maar liewers niks !!!!!!

JohanR ·

Dis nou die verkeerde woorde om te kies…..daar is lig in die beurtkragtonnel. Ons hou maar ons kerse en lampe naby want nou werp die ANC alles in die stryd sodat daar vir hulle in 2024 vir hulle stem. Jammer ANC nog nooit vir julle gestem, en as ek ANC sien op die stembrief gaan ek verby.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.