Herstel van Kusile ‘vroeër as verwag’

Dr. Kgosientsho Ramokgopa, die minister van elektrisiteit (Foto: Ntswe Mokoena/GCIS)

Dr. Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit, is tevrede met Eskom se volgehoue verbeterde opwekkingsprestasie nadat die Kusile-kragstasie se een opwekkingseenheid Maandagaand weer in diens gestel is. Die voltooiing van herstelwerk is eers teen Desember verwag.

Die minister is positief dat die verbetering in die opwekkingskapasiteit die einde van beurtkrag kan beteken. Beurtkrag is tans deur die dag opgeskort, met fase 2 wat van 16:00 tot 05:00 van krag is.

Kusile se eenheid 1 het saam met eenheid 2 en 3 in Augustus verlede jaar onklaar geraak.

“Die herstel van die eenheid is nou twee maande voor beplan afgehandel en voeg 800 MW by tot die kragnetwerk,” sê Tsakane Khambane, woordvoerder van die minister.

Eskom se Kusile-kragstasie. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Eenheid 3 is op 29 September weer in diens gestel, ook vroeër as wat verwag is, met eenheid 2 wat na verwagting in November herstel sal wees. Eenheid 5, wat ook opgepak het, sal volgens beplanning in Desember vanjaar weer in diens gestel word.

“Die herstel van Kusile se eenhede verteenwoordig ʼn belangrike mylpaal in ons strewe om Suid-Afrika se ekonomie te herstel, werksgeleenthede te beskerm en burgers se lewensgehalte te verbeter.

“Die minister bly gefokus op die versterking van die land se elektrisiteitsopwekkingskapasiteit deur aandag te gee aan die uitbreiding en versterking van opwekkingsinfrastruktuur om nuwe hernubare opwekkingskapasiteit te akkommodeer.”

Ramokgopa het die opwekkingspan geprys vir hul harde werk om “stabiliteit en geloofwaardigheid” na Eskom se kragstasies terug te bring en die impak van beurtkrag te help verminder.

Stryd teen korrupsie dra vrug

Eskom se volgehoue pogings om misdaad en korrupsie te bekamp werp vrugte af, met ’n subkontrakteur van Eskom Rotek Industries (ERI) wat saam met verskeie Eskom-werknemers verlede week in hegtenis geneem is.

Volgens Botse Sikhwitshi, waarnemende hoofbestuurder vir sekuriteit by Eskom, het die subkontrakteur glo R6 000 van die toesighouer van ʼn steenkoolvervoermaatskappy geëis in ruil daarvoor dat drie van sy vragmotors steenkool by die Camden-kragstasie mag aflaai. Die kontrakteur het beweer dat die vragmotors se steenkool met klippe gemeng was en dat die steenkool gevolglik nie afgelaai mag word nie. Hy het beloof dat die steenkool afgelaai kan word indien die omkoopgeld betaal word.

“Ten spyte daarvan dat die toesighouer nie aan die verdagte se eise gehoor gegee het nie, het die vragmotors die steenkool afgelaai. Die gesprek tussen die bestuurder, toesighouer en die kontrakteur is deur die vragmotor se kamera vasgevang,” bevestig Sikhwitshi.

“ʼn Interne Eskom-ondersoek het bevind dat die subkontrakteur inderdaad omkoopgeld van die steenkoolvervoermaatskappy en sy toesighouer geëis het. Dit is ook vasgestel dat die steenkool wat gelewer is, nié met klippe gemeng was, soos die verdagte beweer het nie.”

Die verdagte het sedertdien erken dat hy omkoopgeld gevra het en is op aanklag van omkopery in hegtenis geneem. Hy het Donderdag in die landdroshof op Ermelo verskyn.

“Ons prys die bestuurder en toesighouer wat geweier het om die omkoopgeld te betaal en die saak by Eskom aangemeld het. Dit is deur sulke samewerkingspogings dat die stryd teen misdaad en korrupsie gewen sal word.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

M ·

Dankie, nog ‘n keer, aan André de Ruyter wat , die proses van “skoonmaak” van korrupsie begin het. Was dit nie vir hom nie, sou absoluut níks gebeur het nie. Hy kan trots wees op dit wat hy vermag het ” in sy afwesigheid” by Eskom. Sy nalatenskap het nog stééds invloed.

Johan ·

Korrek… al is daar vele wat hom nie krediet gee vir dit wat hy tydens sy 3 jr by Eskom vermag het nie.

Truman Burbank ·

Ag asseblief. Hy het niks daaraan gedoen nie. Hy was self by die trog. Voor dit by die NAMPAK trog. En voor dit by die SASOL trog

Wondermaarnet ·

Die wagwoord is “konstante instandhouding”. Eskom kan dit nie verstaan nie en tree slegs op wanneer dit te laat is.

George ·

Dis n probleem oral in SA, dink mos instandhouding is net deeltyds, want so kan hulle per uur charge.

Net-my-opinie ·

Te min, te laat! Skade by Eskom is onherroeplik! Hierdie ou wat hulle gevang het is ñ klein klein vissie, R6000 is niks in verhouding met die biljoene rande wat reeds voete gekry het nie. En waar nogals is die groot kanonne, die mafia, meesterbreine en hoë profiel betrokkenes? Waar is die Guptas en die ministers nou? Wonder maar net.

George ·

Sluit Andre in daai lys wat Eskom nie probeer help het nie, maar net as stepping stone vir sy boek. Of moet ek almal herhinner hy het n lys van “name” tog niks gedoen met dit nie.

Papsak ·

Ag ja jy voel trots op jouself en jou eskomkrag ek voel glad nie happy oor jou of eskom nie jy lieg ook te veel

ES ·

Stem saam met Jan… dis verkiesingtyd. Skielik word als vinnig reggemaak maar toe De Ruyter aan die stuur was het hulle hom heeltyd ondermyn. Ons sal maar sien na die verkiesing hoe lank vat dit voor ons weer beurtkrag het – en ek hoop regtig ek word verkeerd bewys.

Pierre ·

800 MW gaan nie n duik maak in die 10 000MW+ wat julle heeltyd kot het weens herstelwerk en breke (4 000 tot 6000+ MW) nie

Pieter ·

Ek kan jou waarborg dat die eenheid nie op vol vrag werk nie. Die eenhede op Medupi werk almal minder as vol vrag.

es ·

Ek was vir 11.5 jaar Quality Eng op die Medupi en Kusile projekte, en die korrupsie is skrikwekkend. Die feit dat die steenkool gemeng was/is, is inderdaad die waarheid, ekt dit self gesien, agv daarvan was die toerusting erg beskadig en het tot 1.5 jaar geneem om te herstel.

Andre ·

So skep hulle die klein visits en lei die aandag af van die werklike korrupsie wat nog floreer

SwartBees ·

Woensdag se oprskrif gaan lees: “Kusile kalf WEER ‘vroeër as verwag’.

Fanie ·

Die eenhede is nie herstel nie – die tydelike ogefilterde skoorstene is in plek – dit is al. Ons lei nou reeds onder die reuk – ons is 57km direk wes vvanna Kusile – en as die wind van daai kant af waai vrot dit nou. Baie bure kla oor bors kwale vandat die eerste eenheid weer op lyn gekom het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.