Die filosoof-koning van Kaapstad is op pad terug na sy troon. Dan Plato is die DA se kandidaat om Patricia de Lille op te volg as burgemeester van die Kaapse metropool.
Dié amp word op 31 Oktober vakant wanneer De Lille uittree, en die DA, wat 154 van die 231 setels in die stadsraad het, sal Plato voorstel as kandidaat. Sy oorwinning behoort dus ʼn uitgemaakte saak te wees.
Plato is bekend as ʼn kalm oplosser van probleme eerder as ʼn flambojante moeilikheidmaker. Hy was burgemeester van 2009 tot 2011 nadat Helen Zille die ampsketting neergelê en voordat De Lille burgemeester geword het.
Hy was dus destyds ʼn soort instaan-burgemeester wat die plek vir iemand anders warm gehou het. Dit is nie seker of hy nou dieselfde rol gaan vervul nie, maar daar is baie sterk aanduidings dat die DA vir Zille wil terugbring as burgemeester wanneer haar ampstyd as premier uitloop met aanstaande jaar se verkiesing.
Plato, wat baie lof ingeoes het vir sy huidige rol as provinsiale LUR vir gemeenskapsveiligheid, gaan twee hooftake hê. Die eerste sal wees om kiesersvertroue te herstel dat die DA behoorlik en sonder kapperjolle kan bestuur, en die stad se skoon oudits kan herwin.
Die tweede groot taak vir Plato sal wees om eenheid in die Kaapse DA-koukus terug te bring. Hiervoor is Plato uitnemend geskik, want hy kom nie uit die voormalige DP (die anti-De Lille-groep onder raadslid JP Smith) of die voormalige OD (die pro-De Lille-groep) nie. Plato kom uit die voormalige Nasionale Party.
Sy eerste toets sal dus wees wie hy as DA-hoofsweep aanstel. Die pos word tans gevul deur die De Lille-vertroueling Shaun August. As hy August vervang, gaan hy die De Lille-groep ontstel. Behou hy vir August, gaan die JP Smith-groep die harnas in gejaag word.