Dapper kwadrupleeg is hoof van radiologie

Dr Swartbooi en sy span by Universitas Hospitaal se radiologie-afdeling. (Foto verskaf)

Die lewe was wonderlik. Hy het in sy studies en as atleet op skool uitgeblink. As student het hy ʼn gebalanseerde leefwyse gevolg.

Maar op 22-jarige ouderdom, toe hy aan die begin van sy tweede huisdokterjaar was, het alles in ʼn oogwink verander.

ʼn Motorongeluk gedurende Desember 2006 in Willows, Bloemfontein, het daartoe gelei dat dr. Ambrosius Swartbooi (tans 39) verlam is. Hy het destyds medies by Kovsies studeer.

Vandag is hy die hoof van die radiologie-afdeling by die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal (RMSH) in Kimberley. Hierdie afdeling beskik tans oor die enigste staatsgeriewe wat volledige radiologiedienste vir pasiënte in die Noord-Kaap aanbied.

Vir enigiets anders as x-strale, moet pasiënte van so ver as van Alexanderbaai/ Port Nolloth, na Kimberley reis. Pasiënte is dan amper ʼn week weg van hul huise af. Party pasiënte ry tot 1 000 kilometer vir dienste wat slegs in Kimberley beskikbaar is.

Dit was aanvanklik sy droom om in verloskunde te spesialiseer, maar omdat hy na die ongeluk ʼn kwadrupleeg was, was hierdie planne van die baan.

Dr. Swartbooi het egter nooit moed verloor nie en is vandag ʼn hoogs gerespekteerde medikus.

Vir hom het dit na die ongeluk nie gegaan oor wat hy nie kon doen nie, maar eerder oor wat hy nog kon doen.

“ʼn Mens moet eenvoudig probeer.

“Ek het nooit gaan lê nie”, sê hy. “Ek het ook lank daarop gefokus om ander, wat in dieselfde bootjie as ek is, aan die beweeg te kry.”

Voor is dr. Swartbooi saam met sy pa, Jacob (links). Agter is sy vrou Susan, haar pa, Jacob Morgan, en sy ma, Martha Swartbooi. (Foto verskaf)

Dit was vir hom hartseer om te sien hoe baie van hulle eenvoudig tou opgegooi en hulself afgesonder het.

Na die ongeluk is hy twee maande lank in Mediclinic Bloemfontein opgeneem, waarvan hy ʼn maand lank in die waakeenheid was. Daarna was hy drie maande lank in die Pasteur-rehabilitasiesentrum, ook in Bloemfontein.

Hy kon uit die aard van die saak nie sy tweede jaar internskap voltooi nie, maar het dit met die Mediese Raad van Suid Afrika uitgeklaar. Dit het hom in staat gestel om as medikus voort te gaan en het hom ook die opsie gebied om te spesialiseer.

Weens sy gestremdheid en omdat hy rolstoelgebonde is, was daar slegs drie mediese rigtings waarin hy verder kon studeer: psigiatrie, patologie en radiologie.

Hy het radiologie gekies.

Sy huwelik in 2007 met Susan Morgan, ʼn verpleegkundige oorspronklik van Kimberley, was vir hom ʼn hoogtepunt.

Dr. Swartbooi het nooit in sy lewe stil gesit nie. Hy het in Namibië grootgeword en was in 2000, op 16-jarige ouderdom, hoofseun van Mariental Hoërskool voor hy Bloemfontein toe is om aan die Universiteit van die Vrystaat te studeer.

Hy is vir die Suide-atletiekspanne gekies om van 1998-2000 op nasionale vlak deel te neem en is in 1999 en 2000 gekies vir die onder-15 en onder-16 Namibiese rugbytoerspanne om die land te verteenwoordig.

“Ek moes my plek in die span in 2000 prysgee omdat dit met die matriekeksamendatums gebots het”.

Hy is steeds ʼn sportgeesdriftige, maar ongelukkig is nie alle sportstadions rolstoelvriendelik nie.

Nadat hy en Susan getroud is, het hy in 2008 in die kantoor van die superintendent van die Universitas Hospitaal begin werk.

Hy het egter besef dat administratiewe werk nie sy keuse is nie. Vandag is hy doodgelukkig in die radiologie-afdeling.

Sy werk word deur moderne tegnologie en digitale platforms, met die interpretasie van onder meer skanderings, x-straalfoto’s, sonarondersoeke, mammogramme, CT- en MRI-skanderings, aansienlik vergemaklik.

Hy is in Desember 2021 as hoof van radiologie aangestel.

Passievol om sy kennis te deel

Dr. Swartbooi en kollegas vier Erfenisdag. (Foto verskaf)

Dr. Swartbooi is ook by die akademiese ontwikkeling van mediese beamptes in sy eenheid, die samestelling van lesings vir derde- en vyfdejaar- mediese studente aan die UV, asook die samestelling en merk van eksamenvraestelle betrokke.

Hy sou graag wou toesien dat daar permanent ten minste twee spesialiste en tien mediese beamptes in sy eenheid is wat ook in Upington kan werk.

Hy probeer tans om ten minste twee keer per jaar ʼn uitreik na die Dr Harry Surtie-hospitaal in Upington te doen. So het hy in November verlede jaar in ʼn tydperk van ʼn week lank 100 pasiëntskanderings gedoen.

“Daar is altyd ʼn aanvraag daarvoor om dienste na die gemeenskap toe te neem,” sê hy.

Hy kyk ook daarna om volle akkreditasie te verkry om deur middel van die UV met volledige spesialisopleiding in Kimberley te begin.

Is hy kwaai met die studente?

“Nee wat”, vertel hy rustig.

Dis duidelik dat dit vir hom ʼn roeping is om as medikus te werk.

Omdat pasiënte so ver ry om te kom vir beelding – soms maar vir ʼn kort ondersoek – is hy van mening dat elkeen sy tyd en aandag verdien.

Reis is nie ʼn probleem nie

Dr. Swartbooi voer ʼn baie onafhanklike bestaan en lê soms lang afstande vir sy werk af.

Hy ry in ʼn spesiaal aangepaste en omgeboude motor wat van Engeland af ingevoer is, omdat dit goedkoper sou wees as om so ʼn motor plaaslik te laat bou. Die motor is op so ʼn wyse omgebou dat sy vrou dit ook kan bestuur. Agter is plek waarin sy rolstoel gelaai kan word. Die motor word met handkontroles bestuur.

Hy skrik, tipies Namibiër, glad nie vir lang afstande soos om van Kimberley af Windhoek toe te ry nie en was juis van plan om die dag na ons gesprek saam met sy vrou Namibië toe te reis.

En ja, hy mis die woestynland. Maar die opleidingsprogram van dokters is nou na tien jaar goed op die been, dus sal dit moeilik wees om onmiddellik terug te gaan.

Liefde vir die mediese beroep

Dr. Swartbooi saam met sy vrou, Susan. (Foto verskaf)

Waar het sy liefde vir die mediese beroep ontstaan?

“My ma was ʼn verpleegster en my pa ʼn onderwyser. Om ons besig te hou het ek in die middae pille in die kliniek getel en later saam met haar gery as sy bosklinieke op plaasnedersetings gaan hou het. Soms het ek saam in die ambulans gery as daar niemand was om na my om te sien nie. Dis waar my belangstelling in die mediese beroep begin het.”

Was hy ooit moedeloos tydens sy lewensreis?

“Ek is nooit regtig op my eie gelaat nie. Die ouens van menslike hulpbronne en die mediese superintendent van die Universitas Hospitaal, waar ek gewerk het, was van die begin af ondersteunend en daar vir my. Veral met die toestaan van ʼn jaar se longkapasiteitverlof en die administratiewe pos waarmee hulle my tegemoet gekom het en waarvoor ek altyd dankbaar sal wees.

“Die hele ding is dat as jy na so ʼn ongeluk bykom, is die skok daar, maar my familie en vriende het my onderskraag. Susan was saam met my toe die ongeluk gebeur het en het my bygestaan. Sy het haar heup, stuitjie en pelvis beseer maar sy het herstel. Ons het eers later verloof geraak.

Dokters wat emigreer

Oor al die dokters wat groener weivelde oorsee soek, sê hy die uittog is ʼn groot jammerte na alles wat tot hul opleiding bygedra het. Dikwels dink hulle nie twee keer voor hulle in die privaatsektor begin werk nie. Dit terwyl hulle so ʼn kritiese rol in staatsgesondheid kan speel.

“Die ouens staan bakhand vir opleidingsposte onder die staat se vaandel en die oomblik wat hulle graad kry, gaan hulle na die privaatsektor toe. Opleidingsgeriewe stort in duie want daar is nie genoeg spesialiste om dit aan die gang te hou nie, en die wat nog funksioneer se getalle word ingekort. Druk op dienslewering neem sodoende toe en wagtye word al hoe langer vir pasiënte sowel as opleidingsposte.

“Daar is ʼn gesegde wat van die dokters gebruik wat lui: ‘Vrydag graad,  Maandag privaat’.”

Tog is daar dokters wat vir die staat bly werk. Hy dink die rede daarvoor is dat ʼn mens ondanks die frustrasies meer uitdagings in staatsgesondheid die hoof moet bied en daar groter vervulling is.

Hy het ʼn baie gelukkige gesin

Saam het hy en Susan nie kinders nie, maar hulle het haar dogter uit ʼn vorige verhouding saam groot gemaak.

Daar is egter geen sprake van ʼn stil huishouding nie.

“Daar is oorgenoeg kinders in die familie om ons besig te hou.”

Raad vir diegene in dieselfde bootjie

Dr Swartbooi en sy span vier Loslitdag. (Foto verskaf)

Daar is verskeie fases waardeur ʼn mens moet werk na so ʼn ongeluk. Sy raad aan mense wat dieselfde ervarings het as wat hy gehad het, is om te kyk hoe gou jy deur die rouproses vanaf skok tot aanvaarding kan kom.

“ʼn Mens moet ook nie voorgee dat jy oukei is as dit nie geval is nie. Praat oor jou gevoelens en moenie vir jouself en vir ander jok nie.

“Pak dinge dag vir dag aan. ʼn Mens word kwaad en depressief, maar dit is alles deel van die rouproses.” Onthou altyd dat ondersteuning ʼn tweerigtingstraat is. Doen wat jy kan, al is dit hoe min, om die las op diegene wat jou help te verlig.

Hy wys jongmense ook daarop dat geleerdheid opsies in die lewe bied en tot sukses lei.

“Moenie haastig wees vir wêreldse dinge nie. Spits jou vir twaalf jaar op skool en drie tot ses jaar op Universiteit toe.

“Daarna is daar nog tweederdes van jou lewe oor om jou hartsbegeertes te verwesenlik. Waar sou ek na so ʼn groot ongeluk beland het as dit nie was vir my geleerdheid nie?”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

minnie muis ·

wow, dankie Dr, dis nou voel goed storie so op die deur mekaar Maandag

KatjieDeKat ·

Wat n skitterende, uitsonderlike man! Werklik n inspirasie. Respek aan u, Dr. Swartbooi!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.