‘Dapper motorwag’ trek rower vas

misdaadtoneel

Argieffoto

Die polisie in Port Elizabeth in die Oos-Kaap het dié week ʼn “dapper motorwag” geloof nadat hy ʼn man vasgetrek het wat oomblikke vantevore saam met twee ander verdagtes ʼn winkel beroof het.

Volgens ʼn verklaring van die polisie het drie mans Saterdag net voor toemaaktyd op ʼn winkel binne die Pier 14-winkelsentrum in dié stad toegesak.

Een van die mans het glo ʼn vuurwapen na vore gebring, dit op die personeel gerig en hulle beveel om hulself in die stoorkamer van die winkel toe te maak.

“Die verdagtes het daarna begin om klere, selfone en ander items in ʼn sak te prop,” lui die verklaring. “Hulle het met ʼn onbekende bedrag geld gevlug.”

ʼn Veiligheidswag van die sentrum is glo van die rooftog in kennis gestel en het die groep verdagtes agternagesit. ʼn Motorwag het die jaagtog sien ontvou en toe ook op een van die verdagtes afgepeil.

“Die motorwag het daarin geslaag om een van die verdagtes vas te trek. Die polisie het beslag gelê op twee sakke klere.”

Die gesteelde goedere het ʼn geraamde waarde van R16 000 wat nié die onbekende bedrag geld insluit nie.

Die 23-jarige verdagte is in polisieaanhouding en sal na verwagting Maandag in die landdroshof in Port Elizabeth verskyn.

Genl. Thembisile Patekile, Mount Road-stasiebevelvoerder, het die motorwag geprys vir sy “dapper optrede”. “Hy het sy eie lewe in gevaar gestel deur die verdagte agterna te sit en in hegtenis te neem. Sy optrede was onbaatsugtig, en dis waaroor gemeenskapspolisiëring gaan – om jou oë en ore ten alle tye oop te hou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Elvira ·

Prys die Here dat hierdie motorwag ongedeerd hiervan afgekom het. Hy behoort n medalje te kry. Dankie meneer.

Middie ·

MM kan julle nie eerder na ‘n “onbevestigde” bedrag geld verwys in plaas van ‘n “onbekende” bedrag geld nie? Onbekende beteken dat ‘n mens dit nie ken nie. Dit is nie korrek ten opsigte van geld nie.

CJ ·

Mense in PE behoort hierdie man te ondersteun deur hom n beter betalende werk (of iets dergliks) aan te bied. Iets tasbaar, dat ander dit kan sien en as vb kan ervaar. Of is ek nou weer te optimisties?

GM ·

CJ, ek stem saam. Mense moet weer kan sien dat harde werk en goeie dade, beloon word. Huidiglik werk almal hul boudjies af en gee en gee net weg vir díe wat nie wil werk nie. Mense verloor moed.
Ek wens daar was meer sulke karwagte wat nie net van iewers uit die lug uitval die oomblik as jou motor aangeskakel word nie! Goeie werk mnr. Hopelik kan MM vir ons ‘n opvolg berig skryf met ‘n naam en foto van die man?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.