DBV gryp in toe eienaar sterf, diere verhonger

(Foto: Verskaf)

Dit was ʼn hartverskeurende dag toe die Dierebeskermingsvereniging (DBV) ʼn deur by ʼn huis in Hennenman in die Vrystaat oopmaak en op meer as 70 ​​wilde diere in ʼn kritieke toestand afkom, het Reinet Meyer, die hoofinspekteur van die DBV in Bloemfontein, Maandag gesê.

Ná die dood van Marius Joubert (28), die diere se eienaar, het die DBV ʼn oproep van die plaaslike bewaringsowerheid ontvang oor ʼn groot aantal onwettig aangehoue ​​inheemse en uitheemse diere, wat besig is om stadig weens honger en dors te vrek.

Joubert het selfmoord gepleeg deur homself doelbewus deur een van sy giftige slange te laat pik.

By die spanne se aankoms het hulle bevind dat ʼn aantal diere reeds weens hongersnood en dehidrasie dood is.

“Meer as 60 diere het nog geleef en kon gered word. Die redding was egter besonder ingewikkeld omdat meeste van hierdie diere hoogsgiftige slange was,” sê Meyer.

(Foto: Verskaf)

Nog ʼn bekommernis wat geopper is, was dat vrywilligers van ʼn rehabilitasiesentrum vir wilde diere wat in Springs gesetel is die vorige dag by die huis opgedaag het en uitgesoekte diere “vir die sogenaamde doel van rehabilitasie” verwyder het.

“Hierdie diere sluit in ʼn paar frette (ferrets) – diere wat nie in die land aangehou mag word nie –  dragtige meerkatte, eksotiese tarantulas, gekko’s en drie uiters skaars, kleurvariante van rinkhalsslange.”

Volgens Meyer is ’n plan van aksie Donderdag in werking gestel waarna al die hoogsgiftige slange Vrydag sorgvuldig deur ervare slanghanteerders van Joubert se eiendom verwyder is. Die diere is daarna na die Johannesburg Wildlife Veterinary-hospitaal vir noodbehandeling gehaas.

“Ons het daarna die vrywilligers van die rehabilitasiesentrum vir wilde diere wat van die diere vir ‘rehabilitasie’ verwyder het, opgespoor en hulle het die diere aan ons oorhandig.”

Met die diere se aankoms by die Johannesburg Wildlife Veterinary-hospitaal het twee spanne hanteerders – wat spesifiek vertroud is met die identifikasie en hantering van giftige slange – elk van die diere versigtig hanteer terwyl die veeartse met gesondheidsondersoeke begin het.

Werner Botha, DBV-inspekteur, sê dit was hartverskeurend om te sien hoeveel van die diere aan ʼn  toestand genaamd metaboliese beensiekte ly. “En veral om te leer hoe algemeen dit by akkedisse en likkewane wat in aanhouding bly, voorkom.”

(Foto: Verskaf)

Meyer kon ook daarin slaag om van die diere wat by private eienaars beland het, op te spoor en te verwyder.

“Teen middernag was al die diere gered en was hulle veilig en gemaklik vir die nag.

“Hierdie diere sal vir die res van hul behandeling in kwarantyn bly en hopelik mettertyd na die natuur kan terugkeer,” sê Meyer.

Sy sê reptiele is van die mees misbehandelde diere in troeteldierhandel.

“Daar is baie min fasiliteite of individue wat aan die vereistes wat ʼn reptiel nodig het, kan voldoen. Omgewingsverryking is van kritieke belang vir gevange wild en word dikwels verontagsaam.”

Sy voer aan die internasionale handel van reptiele, amfibieë en spinnekoppe is ongereguleer, meestal onwettig en ʼn steeds groeiende bedryf in Suid-Afrika.

(Foto: Verskaf)

“Hierdie diere is dikwels goedkoop en maklik vervangbaar. Ten minste 50% van hierdie diere word wild gevang en geteel vir eksotiese wildhandel – ʼn groot bedreiging vir biodiversiteit en bewaring.”

Meyer sê die verskeie belanghebbende owerhede doen hul bes om teen wildhandel op te tree, en dié diere wat mishandel word, te red, rehabiliteer en waar moontlik weer in hul natuurlike omgewings vry te laat.

“Elke persoon se samewerking is deurslaggewend in hierdie stryd, en ons doen ʼn beroep op die burgers van Suid-Afrika om nie eksotiese of inheemse natuurlewe as troeteldiere aan te hou nie. Meld asseblief enige wildhandel by entiteite aan wat vir die wilde diere in ons land opstaan.”

Die Bloemfontein DBV het verder hul dank aan die twee slanghanteerders van Bloemfontein betuig wat met die verwydering van die diere by Joubert se huis gehelp het.

“Ons is ook uiters dankbaar vir die slanghanteerders in Johannesburg wat gehelp het met die hantering van die diere terwyl hulle deur die veeartse behandel is.

“En bowenal, die veeartse en personeel van Johannesburg Wildlife Veterinary-hospitaal, wat altyd die ekstra myl loop om die diere te help.”

(Foto: Verskaf)

(Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Olive ·

Ja baie dankie vir die engle wat weer ingegryp het. En Marius, jy moet nie in vrede rus nie. En die ander wat nog lewe en dieselfde doen wat Marius gedoen het, mag julle ook kry wat julle toekom.

Casper ·

Kry nou net ‘n wildreservaat wat bereid is om die diere te akkomdeer en moet asseblief nie die diere in hockey aanhou nie want dan is julle net so skuldig.Die genoemde diere hoort in die natuur.

Casper ·

Kry nou net ‘n wildreservaat wat bereid is om die diere te akkomdeer en moet asseblief nie die diere in hokke aanhou nie want dan is julle net so skuldig.Die genoemde diere hoort in die natuur.

Misky ·

Hoe lank was die man dan al dood voor hulle besef het van die diere? Iemand moes to geweet het van die klomp eksotiese diere en wat van hulle sou word?

Piet parys ·

Misky ja en ons sal nooit weet wat die ware storie is nie want dit word nie vertel nie. N Halwe waarheid is ook n leun.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.