De Lille wil klaarspeel met Tottenham-borgskap

Patricia de Lille. (Foto: Armand Hough/ANA)

Patricia de Lille is alles behalwe opgewonde oor die omstrede R1 miljard-borgskap van die Britse sokkerklub Tottenham Hotspur wat sy met haar onlangse aanstelling as minister van toerisme geërf het.

Die nuutaangestelde minister het regsadvies ingewin en op grond daarvan nou aanbeveel dat onderhandelinge oor die beoogde borgskap gestaak word.

De Lille het Vrydagoggend tydens ’n mediakonferensie gesê sy het ná haar aanstelling as minister van toerisme verlede maand advies van senior regslui ingewin wat daarop dui dat die beoogde borgskap onregmatig en onwettig is.

Volgens die regsadvies is die beoogde borgskap in werklikheid ’n verkrygingsgeleentheid wat nie aan artikel 217 van die Grondwet voldoen nie aangesien die Suid-Afrikaanse regering nie die enigste bron is wat die borgskap kan verskaf nie.

Die voorgestelde borgskap is ook onwettig omdat daar nie daarvoor begroot is nie en dit op ’n “beduidende vennootskapstransaksie” neerkom wat De Lille se goedkeuring vereis voordat dit goedgekeur kan word.

De Lille het daarom Woensdag ’n skrywe aan die SA Toerismeraad (SAT) gerig waarin sy dié argumente uiteensit en onder meer vra of die borgskap al formeel gekanselleer is.

Dr. Thozamile Botha, voorsitter van die raad, het intussen teruggeskryf.

Volgens Botha het die raad voorwaardelik met Tottenham Hotspur ooreengekom dat hy die minister van toerisme en die nasionale tesourie vir die nodige goedkeuring sal nader. Dit beteken egter nie daar is al enige formele ooreenkoms aangegaan nie.

“Die raad moet kategories daarop wys dat sy besluit nie aanleiding gegee het tot ’n wetlik bindende transaksie tussen SA Toerisme en Tottenham Hotspur nie. Dit omdat die raad bewus was daarvan dat die minister van toerisme en nasionale tesourie se goedkeuring vereis word voordat die transaksie voltrek kan word en wetlik bindend word,” lui Botha se brief.

“Daarom, agbare minister, voer ons nederig aan dat daar feitelik tans geen ‘onregmatige en ongeldige’ transaksie is nie aangesien die transaksie nie bestaan nie.”

Volgens De Lille het sy ook twee weke gelede ’n skrywe aan die minister van finansies gerig om te navraag te doen of hy die voorgestelde borgskap goedgekeur het. Minister Enoch Godongwana het egter nog nie op die brief gereageer nie.

“Gegewe die omstandighede waarin ons ons ekonomies bevind, moet alles wat ons as regering doen baie versigtig oorweeg word,” sê De Lille. “Fondse moet te alle tye wys en omsigtig bestee word aangesien die publiek se geld aan ons toevertrou word .”

Lees al Maroela Media se vorige berigte oor die omstrede borgskap hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.