De Lille wil miljarde se staatskuld aan munisipaliteite spoedig vereffen

Die minister van openbare werke, Patricia de Lille. (Foto: Phando Jikelo/ANA)

Die minister van openbare werke en infrastruktuur, Patricia de Lille, sê die departement het in Augustus met ʼn veldtog begin om alle uitstaande skuld aan munisipaliteite te betaal.

Die departement betaal die munisipale rekeninge van alle staatsdepartemente, wat dan weer die departement vir munisipale dienste moet vergoed. Erfbelasting word ook deur die departement betaal.

Volgens De Lille is die departement se veldtog, in samewerking met die kantoor van sy hoof- finansiële beampte, ʼn proaktiewe manier om alle uitstaande kwessies uit die weg te ruim en te verseker dat munisipale rekeninge nie weer onbetaald bly nie.

Die staat besit duisende geboue landwyd en volgens die minister is dit ʼn enorme taak om te bestuur.

Teen 30 Junie vanjaar het staatskuld aan munisipaliteite – volgens munisipaliteite – sowat R3,1 miljard beloop. Uit 257 munisipaliteite skuld die staat 135 van hul geld. Die departement is egter besig om moontlike skuld aan álle munisipaliteite na te gaan, het De Lille gesê.

Sy voer verskeie redes aan vir die agterstallige skuld.

  • Munisipale rekeninge moet nagegaan word voordat betaling geskied sodat ongemagtigde en verkwistende uitgawes verhoed kan word. Die eienaars en gebruikers van grond en geboue moet ook bevestig word.
  • Die departement betaal die rekeninge namens ander departemente.
  • Talle staatsdepartemente vergoed op hul beurt nie die departement van openbare werke soos hulle moet nie en dít lei tot kontantvloeiprobleme.
  • Baie munisipaliteite dien rekeninge in wat nie veronderstel is om deur die departement betaal te word nie.

De Lille het gesê die departement se finansiële hoof lei die projek en ʼn plan is reeds saamgestel om die departement se skuld aan munisipaliteite te delg. Die uitstaande regeringskuld gaan met munisipale rekeninge versoen word, daar word met munisipaliteite ooreengekom om uitstaande geld te betaal, eienaarskap word nagegaan en aanbevelings gedoen om ʼn herhaling van dié situasie te voorkom.

De Lille sê elk van die departement se 11 streekskantore moet ook weekliks terugvoer oor hul vordering gee.

“In talle munisipaliteite moet amptenare duisende munisipale eiendom- en diensterekeninge hanteer,” het sy gesê.

Die departement het reeds met munisipaliteite vergader sodat vasgestel word hoekom uitstaande bedrae dikwels verskil en ooreengekom kan word op die bedrag wat aan ʼn munisipaliteit betaal gaan word.

“Sodra daar op ʼn bedrag ooreengekom en dit nagegaan is, betaal die departement se finansiële afdeling die munisipaliteit binne 30 dae.”

Sy sê wanneer die departement munisipale rekeninge namens ander departemente betaal, maak hulle staat op nasionale departemente om op hul beurt betyds te betaal, sodat die boeke kan klop.

“Ek het die kwessie met die tesourie aangeroer en voorgestel ʼn moontlike oplossing is dat alle nasionale departemente hul munisipale rekeninge direk vereffen,” het De Lille gesê.

Sy sê daar is wel verskeie voorbeelde wat wys dat die syfer van R3,1 miljard nie akkuraat is nie. Die Bosbokrand-munisipaliteit, byvoorbeeld, voer aan die departement skuld hom R925,5 miljoen. Dít terwyl daar reeds ooreengekom is dat die skuld R6,9 miljoen is.

Die Emfuleni- plaaslike munisipaliteit beweer die departement skuld hom R185,9 miljoen, maar kon geen stawende dokumente daarvoor verskaf nie, het De Lille gesê.

Die minister sê dit is daarom nodig dat rekeninge nagegaan word voor dit betaal word.

“Die departement gaan briewe aan munisipaliteite stuur om bewustheid hieroor te kweek en samewerking te verseker.”

Sy sê die departement is ook verbind daartoe om alle skuld – wat nagegaan is – binne 30 dae te betaal.

Provinsiale departemente van openbare werke is direk verantwoordelik vir die betaal van munisipale rekeninge.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

John ·

… dis nou net waar die lelie in die modder gaan trap. Miljarde en miljarde… Gelukkig het die president baie beleggers in die buiteland bekom wat al hierdie klein probleempies vinnig gaan help oplos. Ons almal kan gerus ontspan en ons kragte spaar en wag vir die oorlog op Sondag. Eskom kan dalk net voor 12 skielik uitgeput raak… om ons te wys wie’s baas.

Annatjie ·

Die staat moet sommer met daai geld eers die munisipaliteit se rekening by Eskom en Waterraad betaal, en die res dan aan hulle uitbetaal. Dan kry Eskom tenminste geld in.

Johan ·

Die geld-verkwisters kry te maklik weer fondse van die nasionale regering. Hulle steur hulle nie aan ‘n begroting nie en korrupteer betalings. As hulle wel verskuldigde gelde eis, lieg hulle….

Lee ·

Ek skuld jou – en jy skuld my
ek betaal – jy betaal nie
wie skuld nou vir wie – wat ?
O toggie..en Eskom het alweer beurtkrag vandag aangekondig

Sarel ·

Anti Pat moet hulle eskom rekenings eerste betaal en vir hulle die kwitansies gee.

Leon ·

Hoekom betaal die regering nie eskom namens die munisipaliteite nie. die geld kan dan nie op plaaslike vlak vir ander ‘onvoorsiene uitgawes’ aangewend word nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.