Dele van kerk op Redelinghuys ná brandskade gesloop

Sloopwerk aan die kerk gaan na verwagting vandeesweek al begin. (Foto: Facebook)

Talle inwoners van Redelinghuys in die Wes-Kaap is verslae nadat ʼn besluit geneem is om die plaaslike NG kerk, wat vroeër vanjaar ernstig in ʼn brand beskadig is, gedeeltelik te sloop.

Die sloopwerk sal na verwagting vandeesweek al begin, nadat Erfenis Wes-Kaap ʼn permit daarvoor uitgereik het.

Dirk van Niekerk, ʼn restourasie-en-boukenner wat die proses namens die kerk hanteer, het gesê daar was eindelik geen ander opsie as ʼn gedeeltelike sloping nie. Dele van die struktuur was ná die brand bloot net te gevaarlik.

Van Niekerk is ook ʼn alternatiewe dispuutoplossingsbeampte en sê die kerk besef terdeë dat die gebou baie mense na aan die hart lê.

Die kerkgebou is veel ouer as 60 jaar, maar is nie as ʼn nasionale gedenkwaardigheid verklaar nie, het Van Niekerk gesê.

Die kerktoring word as ʼn baken in Redelinghuys beskou en is ook een van die eerste dinge wat besoekers sien wanneer hulle die dorpie nader. Ontstoke inwoners wil nou weet waarom die bekende toring nie ten minste gered kan word nie.

Die NG kerk op Redelinghuys na die brand. (Foto: Facebook)

Van Niekerk het gesê die moontlikheid om die oorspronklike toring te behou is deeglik ondersoek, maar daar is eindelik bevind dat dit ʼn onwerkbare plan is. Die basis van die toring is veilig verklaar, maar die toring self kan net nie gered word nie.

Volgens hom is daar egter wél ʼn moontlikheid dat dit herbou gaan word. Hóé dit gedoen gaan word, sal in oorleg met Erfenis Wes-Kaap besluit word.

“Die sentiment oor die kerktoring loop diep en ek kan dit verstaan. Ek sou bitter graag die oorspronklike toring wou behou, maar ek weet wat moontlik is en jy gaan nie weer die toring só gebou kry nie. Dit is jammer, maar die materiaal en vaardighede om dit te doen bestaan net nie meer nie,” het Van Niekerk gesê.

Hy het gesê alle pogings gaan aangewend word om die kerkklok, horlosie en weerhaan ongeskonde te probeer verwyder om dit moontlik later weer te gebruik.

Sommige inwoners hou egter voet by stuk dat daar ʼn gebrek aan openbare deelname was voordat die kerk ʼn besluit oor die sloping geneem het. Van Niekerk het gesê openbare deelname was in dié stadium nie ʼn vereiste nie en weens die gevaar wat die gebou inhou, was dit nodig om die situasie op ʼn dringende grondslag te hanteer.

Van die inwoners sê in een van die ingenieursverslae wat ná die brand saamgestel is, word aanbeveel dat verdere ondersoek ingestel word vóór ʼn besluit oor die toring en ingangsportaal geneem word. “Ons is sedertdien in kennis gestel dat daar nie geld beskikbaar is om die ondersoek na die toring te doen nie,” lui ʼn gedeelte van die verslag.

Talle kenners word betrek by die gedeeltelike slopingsproses. (Foto: Facebook)

Hulle sê daar is ná die brand ʼn beroep op die publiek gedoen om geld te skenk vir die restourasie van die kerk en dat ʼn meer omvattende ondersoek gedoen moes word om ten minste die toring te red, of om dit te beveilig eerder as om dit te sloop.

Volgens Van Niekerk is verskeie ingenieurs egter betrokke by die proses om te verseker dat nét dit waarvoor Erfenis Wes-Kaap toestemming gegee het, gesloop gaan word.

Ingevolge die permit moet ʼn erfeniskenner deurlopend by die slopingsproses betrokke wees en wanneer die restourasiewerk begin word, moet dit óók deur ʼn argitek met bewese kennis en ervaring op die gebied hanteer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

liefie ·

Wat ‘n mooi gebou. Ek is seker die gebou gaan herbou word, hoe net moed.

m ·

Dit is ‘n baie sad dag om te hoor hulle gaan die kerk sloop, ons het nog as kinders daar kerk bygewoon, en dit was ‘n baie imponerende gebou. Dit klink vir my asof daar ‘n bietjie van ‘n konflik is tussen mr. Van Niekerd se opinie en die van gekwalifiseerde strukturele ingeneurs, ek wonder hoekom.
Wat het geword van die NG Kerk se gebou versekering, of het hulle dan niks gehad nie?

Stephen ·

Wat ek hier sien is so tipies van die Afrikaner. Hulle kan nie eens oor die toekoms van die Kerkgebou besluit sonder om te stry nie.
Dit kom al van die vroegste tye toe die Voortrekkers nie eens kon saamstaan en elke groep in n rigting getrek het nie.
Dis vandag nog dieselfde.

Helizna ·

Die Kennis hoe om dit te doen bestaan nie meer nie? Hoe dan so? Was die ou Kaapse Hollanders dan slimmer as die klomp vandag?

Alexz ·

Ek dink die kennis is daar, dit is die ervaring, vakmanskap en vaardigheid wat skort.
Die einste rede waarom S.A in sy kannon in is.

Jeanne Hugo ·

My hart pyn sommer. As kind daar in kerk gewees, jong meisie en my sussie daar begrawe 3 jaar terug. Baie van my vriende en familie ook daar getrou…ai!! Dit was die naaste kerk aan Elandsbaai. Ek het soveel sentiment aan daardie pragtige kerk!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.