‘Denel dompel werkers in nuwe finansiële krisis’

Solidariteit het sy kommer uitgespreek oor die wanbetalingskandaal wat Denel-werknemers tans verder in ’n finansiële krisis dompel.

Luidens ’n brief aan werknemers is pensioenfondsbydraes vir Junie van hul salarisse verhaal, maar nooit aan die pensioenfonds oorbetaal nie.

“Daar is steeds onsekerheid oor wat presies betaal is en wat nie. Volgens die terugvoer wat ons ontvang het, is mediesefondsbydraes oorbetaal, maar nie LBS-belasting, WVF-bydraes en pensioenfondsbydraes vir Junie nie,” sê Helgard Cronjé, Solidariteit se sektorkoördineerder van verdediging en lugvaart.

Die historiese finansiële wanbestuur en gevolglike likiditeitsuitdagings wat die wapentuigvervaardiger daagliks verder oor die afgrond stoot, bevestig net weer dat die ANC-regering onnodig sloer en nie die erns van die krisis besef nie, meen Cronjé.

Solidariteit het in April 2018 die sogenaamde Denel-dossier onthul. Daarin word talle aanklagte van wanbestuur, en selfs moontlike korrupsie deur lede van die vorige bestuur wat tot Denel se finansiële verknorsing gelei het, gedokumenteer.

ʼn Forensiese ondersoek is ook gedoen. Denel het in 2019 bevestig dat stappe teen die betrokkenes beoog word. Solidariteit het egter geen bevestiging van enige stappe ontvang nie en die skuldiges wat aan die pen moet ry, word steeds nie daarvoor aanspreeklik gehou nie.

“Solidariteit is uiters ontsteld oor Denel se onvermoë om proaktief met sy werksmag oor hierdie tipe uitdagings te kommunikeer. Die regstappe wat Solidariteit tans oorweeg, is om Denel vir dié wanbetaling aan die relevante finansiële owerhede te oorhandig,” sê Cronjé.

Denel vergader Maandag met die werknemers se pensioenfonds, Denret. “Vakbonde het reeds ʼn opvolgvergadering met Denel belê om werklike aanspreeklikheid te verseker en ons sal nie skroom om die nodige stappe te doen om die belange van ons lede te beskerm nie,” sluit Cronjé af.

Tito Mboweni, minister van finansies, het vroeër aangekondig hy gaan befondsing uit die gebeurlikheidsreserwes toewys aan Denel, die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) en die SAUK. Mboweni het nie die bedrae wat aan die staatsinstellings gegee sal word bekend gemaak nie.

Denel het verlede maand aanvanklik nie genoeg geld gehad om sy personeel te betaal nie en kon net sy verpligtinge nakom nadat ʼn lener tot sy redding gekom het. Dit was egter steeds nie moontlik om pensioenbydraes vir die maand te betaal nie.

Denel het verlede jaar ʼn verlies van R1,7 miljard gely.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Louis Boshoff ·

Dit is hartseer om sulke nuus te verneem van ń maatskapy waarop ons trots was om by te werk!
Hopelik draai dit om as meer kundige bestuurders aangestel word en die kaders by die voordeur uit is.

Hans ·

Simpatie aan die werkers wat hul dagtake onder sulke omstandighede moet verrig-en veral die nie oorbetaling van pensioen-en belastingaftrekkings met gepaardgaande finansiële implikasies.

Wielspore ·

Ek wil SAMPO en DENEL vergelyk, in hierdie vergelyking verwys ek na DENEL gedurende die 80’s en SAMPO soos dit tans is.
DENEL en Krygkor is bedryf op grond van die ontwikkeling van krygstuig met die gebruik van SA kennis en kreatiwiteit tot reuse sukses. Van die krygstuig en selfs beheerstelsels is gekoop deur groot moonthede omdat dit so gevorderd was.
SAMPO bied ook aan die gemiddelde boer of person om hulle eie kennis en kreatiwiteit ten toon te stel en te ontwikkel. Enige person wat ‘n SAMPO byeenkoms bygewoon het sal saamstem.
Die DENEL van die 20st eeu is gebruik om hierdie waardevolle kennis en ervaring van die 80’s te verkoop teen die laagste prys met ‘n reuse kick back vir die staats amptenaar. Die beste mense van die instansie is uitverkoop (verraai) vir mag aan die staatsamptenaar wat geen bydrae lewer tot die bedryf.
Jy kan die meeste medaljes besit, maar as jy nie ‘n soldaat vanuit jou hart is, het jy die oorlog verloor.

fred ·

Wielspore..ek stem saam…ons was almal trots op Denel en hulle produkte, maar het ook n slagoffer van BEE geword….en dit geld seker ook vir die res van die land of wat oorbly..

Jerry ·

Solidariteit kan hier as hero of as zero uit die stryd tree. Die situasie is 50-50 en aanduidings is dat dit net op korttermyn sal verbeter en dan weer versleg en dat dit so gaan aangaan totdat daar nie meer reddingsboeie oor is nie!

pieter ·

cr BEHOORT MOS TE WEET HOE WERK DIE SOORT VAN DING,WAS HY NIE IEWERS HOOF VAN N UNIE NIE.

Told you so ·

Nog ‘n wonderlike voorbeeld van Afrika-vooruitgang.

Ben Potgieter ·

Het altesaam amper 25 jaar by 3 Denel filiale gewerk .Wonderlike ervaring gewees.Was basies gedwing om in 2001 pakket te neem in die fleur van my loopbaan.Sou seker hart aanval gekry as ek sou aanbly met die verval wat begin intree het.So gaan alles tot niet met die huidige regime aanbewind.Dankie FW en genote wat ge-abdikeer het met wigte en teenwigte sonder resultate.Moet nie ‘n fout maak nie,apartheid was verkeerd.Wat nou gebeur onder die ANC regime is nog erger as die vorige apartheid regime.Mag God ons genadig wees met die mense wat besig is om die land in die grond in te regeer.

marous ·

Nie Denel nie . Korrupte staat .NVG kan ook nie salarisse betaal nie. Viva bankrot euforiese mishoop !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.