Denel hof toe gesleep

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, aan die woord gedurende vandag se mediakonferensie. (Foto: Twitter)

Solidariteit het vandag dringende hofstukke aan die sukkelende wapenvervaardiger Denel beteken om hom te dwing om werkloosheidsversekering en belasting wat van werknemers se salarisse afgetrek is, oor te betaal.

Solidariteit het ook met ʼn proses ingevolge artikel 165 van die Maatskappywet begin om wanbestuur en korrupsie van voormalige direkteure van Denel te ondersoek, met die oog op moontlike vervolging.

“Die slagoffers van roekelose bestuur en staatskaping is werklike mense met gesinne en emosies. Werknemers se salarisse word gebruik om kontantvloei te subsidieer. Denel het egter nog verder gegaan en verpligte betalings nie aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) oorbetaal nie, hoewel dit so op die betaalstrokies van werknemers aangedui is,” het Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gesê.

“Die onsekerheid oor wat hier by Denel aangaan, is iets wat ek nog nooit beleef het nie. Dit is ʼn onsekerheid wat soos die ergste kanker binne ʼn mens groei, iets wat jou nooit verlaat nie. Ons harte is seer, ons moed is gebreek en ons kan nie ons teleurstelling verwoord nie. Ons weet nie of ons volgende maand se salaris gaan ontvang nie. Hierdie ding maak ons siek,” het ʼn werknemer van Denel en lid van Solidariteit gesê.

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, aan die woord gedurende vandag se mediakonferensie. (Foto: Twitter)

Solidariteit se dringende aansoek volg nadat Denel bekendgemaak het dat hy slegs in staat is om ʼn sekere gedeelte van sy werknemers se salarisse vir Junie en Julie te betaal. Sekere statutêr verpligte betalings soos LBS, WVF en heffing op vaardigheidsontwikkeling is op betaalstate aangedui, maar egter nie oorbetaal nie.

“Ons sien ongelukkig dat dit praktyk word dat die belastingbetaler en werknemers van staatsinstellings sogenaamde finansiers word vir staatskaping en die wandade wat daar gepleeg word. Solidariteit sê genoeg is genoeg, en deur middel van hierdie saak sal instellings verplig word om aanspreeklikheid vir die wandade te aanvaar,” sê Anton van der Bijl, hoof van Solidariteit se regsdienste.

ʼn Tweede geregtelike stap volg na aanleiding van Solidariteit se Denel-dossier. In die dossier, wat reeds in April 2018 onthul is, is dit duidelik dat die wanbestuur en moontlike korrupsie van vorige Denel-bestuurslede tot die wapenreus se finansiële verknorsing gelei het. Sedertdien is ʼn forensiese ondersoek ook gedoen en Denel het vanjaar bevestig dat stappe teen die betrokkenes beoog word, maar Solidariteit het geen bevestiging van enige stappe gekry nie.

“Diegene wat verantwoordelik is vir Denel se finansiële krisis word nie aanspreeklik gehou nie en het feitlik skotvry daarvan afgekom, terwyl ons lede, onskuldige werknemers, die gevolge daarvan moet dra. Die onlangse wanbetaling van salarisse kan direk teruggevoer word na die uitwerking van staatskaping,” sê Johan Botha, Solidariteit se adjunkhoofsekretaris.

Johan Botha, Solidariteit se adjunkhoofsekretaris. (Foto: Twitter)

In reaksie op Solidariteit se artikel 165-proses en die Solidariteit-dossier het Denel se uitvoerende hoof, Danie du Toit, aan Solidariteit se regspan geskryf dat hulle verskeie forensiese ondersoeke gedoen het.

Hulle onderneem ook om voort te gaan met sivielregtelike en strafregtelike aksies teen verskeie voormalige uitvoerende direkteure en senior bestuur. Hulle onderneem dat geld wat deur siviele aksies vermors is, teruggevorder sal word en dat klagte by die Suid-Afrikaanse Polisiediens ingedien sal word voortspruitend uit forensiese ondersoeke.

Volgens Hermann plaas Solidariteit deur middel van dié regstappe die bestuur van staatsinstellings terug in die hande van die belastingbetaler. “Die belastingbetaler kan hierdie nuttige regsproses gebruik om te verseker dat die hoogste standaard van aanspreeklikheid by die instellings gehandhaaf word.

“Suid-Afrika word die afgelope ruk gebombardeer met staatskaping, sukkelende staatsondernemings en wanbestuur. Belastinggeld van miljarde rande is vermors. Dis nie staatsgeld wat vermors is nie, maar ons gewone belastingbetalers se geld.

“Die omvang daarvan is net so oorweldigend dat ons nie meer kan stilbly daaroor nie. Dit het tyd geword vir wettige belastingprotes. Suid-Afrika moet ʼn kultuur van belastingaktivisme ontwikkel. Dit is nie onpatrioties nie, maar juis patrioties. Verantwoordbaarheid is ʼn kerndeel van demokrasie. Belastingbetalers moet eenvoudig sê nee. Ons hoef nie toe te laat dat daar met ons geld gemors word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

LL ·

Stem saam i/s belasting aktivisme en baie dankie Solidariteit – ek sal hierdie ondersteun. Ons moet ook ondubbelsinnig nee sê vir nuwe en belasting verhogings terwyl belastinggeld so gemors word – nie waar nie ? Ons is reeds oorbelas en Mboweni waarsku oor nog belastings wat kom ? Hierdie denke moet gestuit word. Ek hoop van harte dat Solidariteit ook hiermee sal leiding gee. Sterkte

Elsa ·

Nie net by staatsinstansies nie, maar ALMAL. Hou asb jul betaal state wat toon dat belasting van jul salaris se verhaal is. As jy nie een kry nie, dring daarop aan om n betaal staat te kry. Bewaar almal soos goud.

Gert van Wierdapark ·

Ditsem Solidariteit!! Volgende moet jul dieselfde met Eskom doen – vir Seker!!

John ·

Dis sad as ‘n ou wapens ontwerp en maak wat ander omklits en nou is jy aan die ontvangkant en sjoe, jy bly leef en ervaar die pyn van die sterwende aan jou briljante ontwerp.

Jeremia ·

In Mei vanjaar is ‘n skrywe op MM geplaas: “Denel dryf my broer oor die rand”.
Hierdie gebeure vind al vir jare baie talle instellings plaas.
En eintlik is dit noodsaaklik dat professionele beraders ook deur vakbonde ontplooi te word om mense by te staan.
Dit is die pligsgetroue werknemers wat die spit moet afbyt.
Om staande te bly verg baie meer as net finansies.
Ek wil ‘n ernstige beroep doen op ‘n vakbond soos Solidariteit om beradering as hulp aan mense in sulke situasies te bied.

Sarel ·

Dis diefstal. Belasting – paye behoort aan sars!!!!!! Kry sars ook op hulle saak!

lewies ·

Hierdie artikel se alles oor die integriteit van Solidariteit en die manne en vroue wat daar werksaam is. Mag wit en swart in SA kennisneem van julle pogings om die kwaad bloot te le. VREESLOOS, DOELGERIG EN OMVATTEND!!

Kraai ·

Kobus, ek werk vir Denel. En dit is nie tjoef tjaf transaksie om Denel te verkoop nie, dit kan ek jou verseker. Ons nuwe GCEO (Danie) verg alles in sy vermoeë om ons te red van n gemors. Denel moet bly bestaan, hoe moeilik en stresvol dit ook al is. Ons het altyd gedink dat Denel van “GOOD TO GREAT” was, maar min het ons geweet dit is van “GOOD TO VERY BAD” Maar dit sal weer goed gaan.

jennifer ·

ek stem saam met jou kraai en om altyd sleg te prooat van DENEL gaan ook nie dinge
beter maak nie,want dink net as jy as persoon slleggepraat word wie wil met jou meng.
so groot asb dink voor julle praat van Denel

Kobus ·

Kraai, ek sê dit nie ligtelik nie. Ek is nie ongevoeilig nie. Maar ons leef in ‘n harde wêreld waar realiteite aangespreek moet word. In die privaatsektor gaan maatskappye wat sukkel deur dieselfde diep waters. Dikwels is dit buite die beheer van gewone werkers. Mense verloor hul werk. Die staat moet nou groot besluite neem, en dit gaan Denel werkers raak. Daar is geen ander uitweg nie. Die klok het lankal gelui, al probeer die CEO sy bes. Om sy voorgangers te blameer gaan nie uitkoms bring nie. Terloops, maatskappye wat groter is as Denel is, word wel verkoop.

jennifer ·

wel Kobus ons is nie net enige maatskappye nie en one werkers staan saam met Danie
om sy bes te probeer ,want die werkloosheid is al reeds te hoog en styg nog elke dag in SA.
ons werk ook meer as 20 jaar vir Denel en ons hardewerk kan nie so in die sloop gegooi
work maaak nie saak van ons land se ekonomie nie.

jennifer ·

wel Kobus ons is nie net enige maatskappy nie en sal alles in ons vermoee doen om vir Danie by te staan as dit werk goed en wel as dit nie ons het probeer om nie die werkloos heid in SA te verhoog nie en die realiteit is ook positive thinking bring positive outcome.

Kobus ·

Ek bewonder jou positiewe ingesteldheid. Goeie werkers glo altyd hul maatskappy is die beste, of soos jy dit stel ‘nie net gewoon nie’. Ekself is al deur DRIE herstruktuerings in my lewe, twee keer in SA en een keer in die VSA. Ek blameer niemand nie. Die sakeomgewings het verander. Besigheidsmodelle het verander. Swak en korrupte bestuur was nooit ter sprake nie. In een geval is ‘n maatskappy verkoop wat 80 jaar bestaan het, baie groter en kompleks as Denel. Ek het maar net besef ons is sterflinge wat ‘n nietige rol in die entiteite se voortbestaan speel, al dink ons nie so nie. Die belangrike les wat ek in die VSA geleer het is om altyd ‘n Plan B in plek te hê, al beteken dit dat ek nou in die UAE moet werk. Sonder ‘n Plan B is mens kwesbaar. Dit is wat Denel, Eskom en SABC se werkers moet doen. Feit is, die belastingbetaler kan julle nie langer dra nie. Gaan lees ook hoe het Bombardier hul probleme in die vroeë 1970s hanteer, baie leersaam.

Deon ·

Ek was ook al “geretrench”. Die Plan B waarvan Kobus praat raak al hoe belangriker in SA. Ons is te veel beskermend en dink iets of iemand sal altyd vir ons sorg. Dit werk nie so nie. Werkers moet hul gesinne en families betrek oor hoe hulle vir die volgende week, maand, kwartaal, jaar en selfs langer gaan oorleef, sou dinge suidwaarts gaan. Baie drama en hartseer word so verhoed. Ons wil nie sien dat mense hul lewens neem nie. Jou werk is nie so belangrik nie. Dit is ook nie ‘n skande om afgelê te word nie. Dit is eerder ‘n geval van een deur gaan toe maar ‘n ander een gaan oop, dikwels met beter geleenthede wat almal weer opgewonde maak. Werkgewers en vakbonde kan ook help om mense op hierdie manier voor te berei vir harde tye. Ons leef nie meer in ‘n sprokieswêreld waar dinge altyd sal uitwerk nie.

jennifer ·

Kobus jammer om te hoor wat jy deergemaak het,maar as daar eending is wat ek ondervind het vandat ek vir Denel werk het ons erger dinge deergemaak voor ons n SOE gework het en ons het dit deergemaak deer GOD se genade en ek glo hy sal ons nie in die steek laat nie en n nog n ding ons betaal ook tax en is geregtig op daardie geld wat ons bydra vir meer as 70 jaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.