‘Denel-werkers se volle salarisse sal betaal word’

Pravin Gordhan. Foto: Jairus Mmutle/GCIS

Denel-werknemers sal hul volle salarisse betaal word nadat ʼn lener intussen vorendag gekom het, het die minister van openbare werke, Pravin Gordhan, gesê.

Gordhan het tydens die debat oor pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede reageer op die mediaberigte dat Denel-werknemers net 85% van hul salarisse vir Junie gaan ontvang weens likiditeitsprobleme.

“ʼn Lener het intussen tot die bystand van Denel gekom en werknemers sal nou hul volle salarisse ontvang,” het Gordhan aangekondig sonder om besonderhede oor die lener bekend te maak.

Hy het Denel uitgesonder as ʼn tekenende voorbeeld van die verwoesting weens staatskaping. “Daar is geen duideliker voorbeeld van die skadelike gevolge van staatskaping as die finansiële spanning en onsekerheid wat die 3 500 Denel-werknemers en hul gesinne elke maand in die gesig staar indien die maatskappy se likiditeitsprobleme voortduur nie,” het hy gesê.

“Denel, ons vervaardiger van militêre en lugvaarttoerusting, is ʼn kritiese en strategiese staatsentiteit wat wesenlik deur staatskaping benadeel is.”

Die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping het getuienis van die voormalige uitvoerende hoof, Riaz Salojee, gehoor dat die Gupta-familie hom probeer omkoop en sy besluite probeer beïnvloed het.

Gordhan het gesê daar is stappe gedoen om die maatskappy weer op die regte spoor te kry. Daar word dus nou kontrakte ter waarde van meer as R30 miljard beoog.

Hy het daarop gewys dat die regering nie langer korrupsie by sy staatsinstellings sal duld nie en gesê die tyd wanneer moraliteit sonder gevolge agtergelaat kan word, is verby.

Danie du Toit van Denel.

Die bestuur van Denel werk intussen onvermoeid om te verseker dat werknemers se volle salarisse so spoedig moontlik betaal word, het Danie du Toit, uitvoerende hoof van Denel, gesê.

Die aandeelhouers, direksie en bestuur werk voortdurend om volhoubare oplossings te probeer vind vir die likiditeitskrisis wat Denel in die gesig staar.

Du Toit het Denel-werknemers verseker dat die bestuur altyd sal streef om die maatskappy se verpligtinge na te kom ooreenkomstig hul dienskontrakte.

Die vakbond Solidariteit het Denel intussen versoek om meer omsigtig te werk te gaan met die kommunikasie van sensitiewe inligting wat ʼn direkte invloed op werknemers se lewe het.

Dit volg nadat Denel in Desember 2018 onderneem het om teen die 15de van elke maand te bevestig of salarisse betaal kan word al dan nie. “Ons is bekommerd dat hierdie tendens nou weer sy kop gaan begin uitsteek, aangesien daar ʼn verwagting was dat die niebetaling van salarisse iets van die verlede is,” het Johan Botha, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit, gesê.

In die lig van die huidige uitdagende ekonomiese klimaat, is dit baie traumaties vir werknemers om onseker te wees of hulle die volgende maand wel ʼn salaris gaan ontvang. “Die uitwerking op werknemers en hul gesinne is kommerwekkend en lei tot onnodige spanning en druk,” het Botha gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Kediksie ·

Dit is nie net staatskaping nie. Dit is oral waar julle (die ANC) julle vieslike, vetterige, vingertjies in het.

Johan ·

Gordhan: “nie langer korrupsie by staatsinstellings sal duld nie”. Regtig !! Het julle dit dan altyd gedoen ?

fred ·

“n lener”ek wonder wie dit???
lyk vir my weer n snaakse saak en wat van volgende maande????
Die “lener” sal seker vroeg of laat sy geld soek,met rente.
Nou word skuld met skuld betaal..
vicious circle

Leon ·

Intussen maak die VSA dit onmoontlik vir Denel om wapens aan die buiteland te verkoop. Ons het dus slegs ‘n mark by die lande wat die VSA boikot.
Catch-22.

marous ·

“Lener “- ook bekend as gewone voosgeslane landsburger wie nog neer vir brandstof gaan betaal om verorberaars se sakke te vul .

Gert ·

In die ou dae moes die semi-staatsinstansies selfversorgend wees maw nooit ‘n verlies wys nie. Deesdae moet hulle net iewers genoeg geld leen.

Jerry ·

Dit is onderduims en korrup om nie die lener bekend te maak nie. Die lener (seker een of ander pensioenfonds) se dood is Denel se kaders se brood! So gaan die onderduimsheid van die ANC vir Suid Afrikaners doodeenvoudig verder verarm. In plaas daarvan om van vrotappels soos Denel ontslae te raak, word die vrotappels vertroetel! Dit lyk vir my dat die desperaatheid van die ANC, besig is om die ANC heeltemal waansinnig te maak!

BMW ·

Hoekom die geheim houding, dit is maar weer ons belastingbetalers wat moet opdok. Gedog die man is eerlik

HPV ·

Die lener is dalk ‘n buitelandse kliënt wat wag vir wapen of verwante toerusting om voltooi en afgelewer te word.

Bennita ·

Alles is opgemors deur swak bestuur en korrupsie. Nou moet Danie du Toit die kastiaangs uit die vuur probeer krap.

Perfect Storm ·

Bennita, jy is doodreg. Die wit ou moet nou red, soos op baie ander plekke, as dit byna te laat is. Niemand luister mos as die gevaarligte flikker nie, die wal moet eers breek!

Danie ·

Baie sterkte Danie Du Toit.
U KAN dit maak werk op die voorbehoud dat politiek uitgehou word. Denel was baie ‘n sukses en het ons trots gemaak.

charmaine ·

Mnr du Toit is aangestel om te help met probleme by DENEL en te help met oplossings wonder of hy elke maand sy volle salaris gekry het en nog kry? Dalk is China die lener? Binne 2 dae so n klomp geld te “leen” is baie en baie vinnig.

Anoniem ·

As ek in my persoonlike hoedanigheid my finansies bestuur soos wat die regering dit vir Suid-Afrika doen, sal my finansiële adviseur die blouapiestuipe kry.

As jy aanhou om geld te leen om skuld te betaal, verf jy jouself naderhand in ‘n hoekie vas. Die ANC sal opgeskryf word in die anale van die geskiedenis as die party wat Suid-Afrika geruïneer het. (En terwyl ek nou so konsentreer om ruïneer te spel, dink ek aan die mense wat sommer so, sonder skaamte, langs die pad urineer op die Afrika manier.)

Oom Jaco ·

En intussen gaan die Guptas heerlik aan met hul lewens in die buiteland asof hulle nog nooit in SA was nie…

Gert van Wierdapark ·

Ek wil ook graag weet wie die “lener” is. Ons ouens hier in die buitenste ruim in SA kan self mos by die vry-gewige lener aanklop vir hulp. Asseblief M/Media, kry vir ons die Lener se naam in die hande!

Johan ·

Die “lener” is seker ‘n Gupta mannetjie wie se gewete hom begin pla het. Terselfdertyd hoop hy seker om op hierdie manier vervolging vry te spring !

Zorro ·

Dis nes jy sê Karin. Ek dink natuurlik dis China!. Dis hulle wat vir Eskom geld geleen en geleen en geleen het. Wat ookal gebeur, die lener wil sy pond vleis met rente terughê.

Kraai ·

In 32 jaar in diens van Denel, het ons nooit die finansiele probleme gehad nie.
dit kan Danie du Toit tussen 2 -3 jaar vat om Denel op te bring na waar hy was. Ons weet waar die finansiele panarrie ontstaan het. Pravin het baie vure al dood geslaan in die verlede, en dit maak nie saak WIE die skenker is nie, maar baie mense daar buite wat nie vir Denel werk nie, weet nie wat ons deurmaak nie. dis slaaplose nagte, stres by die werk, en tog probeer ons ons beste om lojaal te wees. Dit kan en sal beter gaan. Dankie aan Danie du Toit wat sy heel beste doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.