Departement gemaan oor ongeplaasde dokters

(Argieffoto: Jossué Trejo/pixabay)

Solidariteit het Dinsdagmiddag ’n aanmaning aan die departement van gesondheid se direkteur-generaal gestuur omdat van sy lede steeds nie by ’n mediese sentrum, kliniek of hospitaal vir hul internskappe geplaas is nie. Hierdie jong dokters moes reeds op 1 Julie met hul internskappe begin het en is tans in die duister oor hul lot vir die volgende ses maande.

Maroela Media het vroeër berig altesaam 284 pas afgestudeerde dokters was teen einde Junie nog nie vir hul internskappe geplaas nie. Altesaam 118 poste is gevul, terwyl 170 poste reeds geakkrediteer is, maar nog gefinansier moet word.

Volgens die nasionale departement van gesondheid is daar tans ’n tekort aan poste weens ’n verhoogde halfjaarinname. Die verhoogde inname word toegeskryf aan die verlenging van die akademiese jaar te midde van die Covid-19-pandemie.

Solidariteit het in sy skrywe aan die direkteur-generaal sy misnoeë uitgespreek en daarop aangedring dat alle betrokke dokters nié later nie as 16 Julie vir internskappe geplaas word.

Volgens die aanmaning sal Solidariteit met regstappe voortgaan indien hierdie kandidate nie teen 16 Julie vir internskappe geplaas is nie.

Die nasionale departement van gesondheid en die Internship and Community Service Programme (ISCP), wat ook onder die vaandel van die departement van gesondheid bedryf word, is verantwoordelik vir die plasing van mediese interns.

Die ISCP het in Desember laat blyk dat daar verlede jaar meer aansoeke as voorheen was en dat bykomende finansiering bekom moet word.

Die vereniging vir junior dokters (Judasa) het in ʼn verklaring ʼn pleidooi aan die departement van gesondheid en nasionale tesourie gerig om geld beskikbaar te stel om die jong dokters te plaas.

“Die departement moet in ag neem dat die aantal afgestudeerde dokters jaarliks toeneem en daarom is meer fondse nodig. Indien die departement nie iets drasties aan dié saak doen nie, sal jong dokters volgende jaar in dieselfde bootjie sit,” sê dr. Tshepile Tlali, waarnemende voorsitter van Judasa.

Paul Maritz, bestuurder van jeug en loopbaanontwikkeling by Solidariteit, voer aan dat die departement van gesondheid nalatig is ten opsigte van die loopbane van dié jong dokters. “Die departement se onvermoë om hulle te kan plaas tesame met sy stilswye oor wat aangaan, is absoluut onaanvaarbaar,” sê Maritz.

Volgens Maritz sit talle jong gekwalifiseerde dokters tuis en wag terwyl die staat nie met hulle kommunikeer nie. Hy sê hierdie dokters is afhanklik van die staat vir hul internskappe omdat die staat weier om private hospitale en mediese instellings te akkrediteer om hierdie afgestudeerde dokters te kan akkommodeer.

“Nou ly hulle (die jong dokters) onder die onbevoegdheid van die staat. Hulle kan nie hul vaardighede gebruik om ’n inkomste te verdien nie en hulle kan ook nie hulle vaardighede in die werkplek gaan opskerp nie. Indien die staat nie gehoor gee nie, sal ons voortgaan met regsaksie om hom tot verantwoording te dwing.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.