Departement het (nog) nie antwoorde oor ‘super-fêns’

Joyce Chauke, ook bekend as Mama Joy. (Foto: PHILL MAGAKOE/AFP)

Dit lyk of die departement van sport, kuns en kultuur skarrel om antwoorde te vind vir ʼn Paia-aansoek oor wat Suid-Afrika se veelbesproke en immer rondreisende super-sportondersteuners die belastingbetaler kos.

Die departement betaal Joy Chauke, beter bekend as Mama Joy, en Botha Msila om sportbyeenkomste waar Suid-Afrikaanse spanne deelneem, by te woon.

Die twee is vandeesweek in die Ivoorkus langs die sokkerveld opgemerk waar hulle Bafana Bafana gaan aanmoedig het. Die Suid-Afrikaanse sokkerspan is egter in die halfeindstryd teen Nigerië uit die toernooi geboender.

Die twee “super-fêns” se klaarblyklik knus posisies by die departement is bevraagteken nadat die twee gedurigdeur by die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Frankryk opgemerk is waar hulle die Springbokke aangevuur het. Die departement het toe gesê hul teenwoordigheid speel ʼn groot rol “om te demonstreer hoe Suid-Afrika sport gebruik om van die verdeeldheid van die verlede te herstel”.

Maar daar was beslis groot verdeeldheid oor Chauke en Msila wat op belastingbetalers se onkoste die wêreld vol reis en sportbyeenkomste bywoon. Die departement wou boonop nie vrae beantwoord oor hoe Chauke en Msila gekies is nie – en ook nie hoeveel die projek die departement kos nie.

Renaldo Gouws, ʼn DA-raadslid, het in Januarie vanjaar ʼn aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting, bekend as ʼn Paia-aansoek, ingedien in ʼn poging om die departement te dwing om die antwoorde te verskaf.

Die departement het Gouws se aansoek op 8 Januarie ontvang en moes ingevolge wetgewing binne 30 dae daarop reageer.

Hieraan is nie voldoen nie.

“Weens hangende konsultasies met die departement se interne kliënt kan die reaksie nie binne die oorspronklike tydperk van 30 dae gelewer word nie,” lui ʼn brief van die departement aan Gouws. Die departement vra nou vir ʼn verlenging van 20 dae, om teen 26 Februarie op die versoek te antwoord.

Gouws het die departement gevra vir ʼn uiteensetting van alle koste verbonde aan die sogenaamde “super-fêns” sedert die projek geloods is. Hy wil ook weet wie dit finansier, hoe mense vir die rol gekies word en hoeveel die projek tot dusver beloop het.

Gouws het op X geskryf diegene wat by hom wil weet hoekom hy so stil oor Mama Joy en die superondersteuner-inisiatief is, moet eerder die departement vra waarom hy nog tyd benodig om antwoorde aan belastingbetalers te gee oor hoeveel geld uitgegee is.

“Iets sê vir my hulle vertraag die proses omdat die werklike getal skrikwekkend is.”

Gouws is op sosiale media onder meer daarvan beskuldig dat hy kwansuis “stil” oor die kwessie is omdat Mama Joy ʼn rugbywedstryd bygewoon het. “Jy het geen probleem met haar by ʼn sokkerwedstryd nie.”

Hierop het Gouws geantwoord: “O, ek hét. Enigiets wat die belastingbetaler geld kos, is ʼn probleem – veral as dit ʼn kader is wat vergoed word vir haar dienste gelewer.”

Nog ʼn gebruiker het Gouws daarvan beskuldig dat hy ʼn “geesdriftige, swart vrou” teiken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.