Departement maak stem dik oor ‘Covid-19-gerug’

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Maroela Media)

Suid-Afrikaners is die afgelope paar dae op hol gejaag nadat gerugte die ronde doen dat ʼn nuwe Covid-19-variant ontdek is.

Boodskappe wat op sosiale media versprei is, het mense opnuut aangemoedig om gesigmaskers te dra in ʼn poging om die verspreiding van dié variant te kniehalter.

Die departement van gesondheid het intussen sy stem dik gemaak nadat dit aan die lig gekom het dat dié boodskap aan die departement toegeskryf word.

“Die departement wil graag hierdie boodskap afmaak as fopnuus wat deur gesiglose bronne versprei word wie se uitsluitlike bedoeling is om onnodige paniek te saai,” sê Foster Mohale, woordvoerder van die departement.

“Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het in Oktober ʼn kennisgewing uitgereik oor die Omikron-subvariante, gekategoriseer as BQ.1 en XBB, wat oor die wêreld heen opgespoor is. Dit vorm egter deel van die WGO se voortgesette werk om variante op te spoor.”

Die WGO se aangewyse taakspan wat hiervoor verantwoordelik is, is gestig om die WGO te waarsku as ʼn variant lewensgevaarlike simptome kan veroorsaak of tot ʼn nuwe golf gevalle kan lei, juis omdat die verskyning van sodanige variant opnuut ʼn las op gesondheidsorgstelsels kan plaas en dus ʼn beduidende bedreiging inhou.

“Daar is egter tans geen epidemiologiese bewyse dat hierdie variante ʼn groter risiko sal inhou as enige ander Omikron-variante nie,” sê Mohale.

Die departement, in samewerking met die nasionale instituut vir oordraagbare siektes (NICD), is deurlopend besig om variante van die Covid-19-virus te monitor en het onderneem om Suid-Afrikaners vroegtydig oor enige bedreigings in kennis te stel.

Die departement het vroeër vandeesweek gesê dat daar kort duskant 10 000 Covid-19-gevalle in Suid-Afrika is, waarvan die meeste in die Wes-Kaap (3 778) en KwaZulu-Natal (2 128) aangemeld is.

“Verskeie Covid-19-virusvariante is steeds in omloop en ons het nog nie die greep van die pandemie vrygespring nie,” sê Mohale.

“Daarom doen ons ʼn beroep op Suid-Afrikaners om waaksaam te wees tydens die feestyd en teen die virus ingeënt te word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Nie Verbaas ·

My fellow South Africans. Steur iemand hulle nog aan die nonsens?

Antie Sarie ·

Nee. Juis daarom die loadshedding. Want ierwers moet hul die ekonomie raak.

Nie Verbaas ·

Praat hulle van COVID of griep want mense kry deesdae nie meer griep nie, net COVID?

Johan Tredoux ·

Griep het homself vererg agv al die aandag wat Covid kry, sy tassie gepak en getrek Antarktika toe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.