Departement ontken betrokkenheid by moord

Robert “Kicks” Varrie (Foto: Facebook/Slc Magoro)

Die Gautengse departement van gemeenskapsveiligheid ontken ten sterkste dat lede van die misdaadvoorkomingseenheid op 19 Julie 2023 betrokke was in die moord op ʼn vermeende dwelmhandelaar in Katlehong.

Maroela Media het vroeër berig Robert “Kicks” Varrie het onder geheimsinnige omstandighede gesterf ná hy ondervra is deur aanbieder van die TV-kanaal Moja Love se gewilde teendwelmprogram, Sizok’thola, in samewerking met die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum, alombekend as amapanyaza.

“Die misdaadvoorkomingslede was in Katlehong-polisiëringsdistrik as deel van wykgebaseerde polisiëring, en was nie op enige manier betrokke by die ondervraging van die vermeende dwelmhandelaar nie,” sê Ofentse Morwane, woordvoerder van die departement.

“Die departement is onverbiddelik in sy pogings om die stryd teen misdaad, korrupsie, wetteloosheid en vandalisme te verstewig deur die werwing van die 6 000 misdaadvoorkomingsbeamptes. Hierdie beamptes werk saam met wetstoepassers om Gautengse gemeenskappe veilig te hou.”

Morwane sê sedert die beamptes in 361 wyke in die Township- informele nedersettingsgebiede (Tish) aangestel is, het die stryd teen misdaad versnel deur verhoogde sigbaarheid en vinnige reaksie op misdaadvoorvalle.

“Hierdie beamptes verskaf vroeë waarskuwing-misdaadintelligensie deur hul interaksie met gemeenskapstrukture en ander bronne. Enige pogings om die werk van die lede te ondermyn moet ten sterkste veroordeel word. Die departement sal nie ontspoor word in sy pogings om veiliger gemeenskappe te bou nie.”

Wat betref die moord op Varrie sê Morwane die ondersoek duur voort. Die departement doen ook ʼn beroep op die publiek om nie die reg in eie hande te neem nie.

“Die departement werk nou saam met wetstoepassers om dwelmmiddels in ons onderskeie gemeenskappe uit te roei. Dit is een van die bydraende faktore tot misdaad.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Pierre ·

en hoeveel lewens het hy verwoes met sommige wat en moontlik gesterf het hy was geen engeltjie nie, so geen simpatie nie,

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.