Departement swyg oor hantering van Covid-19-data

(Foto: Unsplash)

Die Nasionale Inligtingsreguleerder het die nasionale departement van gesondheid na die handhawingskomitee verwys oor die kwessie van persoonlike inligting wat die departement tydens die Covid-19-pandemie ingesamel het.

“Die besluit volg ná verskeie onsuksesvolle versoeke om inligting van die departement te bekom,” sê Nomzamo Zondi, woordvoerder van die Inligtingsreguleerder. “ʼn Verwysing na die handhawingskomitee kan lei tot ʼn bevelskennisgewing, wat dieselfde effek het as ʼn hofbevel.”

Kragtens die bepalings van die Rampbestuurwet in April 2020 is magtiging verleen om ʼn elektroniese databasis op te stel om die verspreiding van Covid-19 te bestuur. Dié databasis het inligting bevat soos die voornaam, van, identiteit- of paspoortnommer, residensiële adres en uitslag van Covid-19-toetse van mense wat in kontak gekom het met iemand wat Covid-19 opgedoen het of wat self die virus opgedoen het.

“Die regulasies het verder bepaal dat die departement van gesondheid, as beskermheer van die databasis, die inligting binne ses weke ná die beëindiging van die ramptoestand moet vernietig of alle persoonlike besonderhede moet verwyder. Die inligting kon daarna slegs gebruik word vir navorsing of studie- en opleidingsdoeleindes,” sê Zondi.

Die Inligtingsreguleerder poog egter sedert Mei 2022 om bevestiging van die departement te ontvang dat alle persoonlike inligting wel vernietig is.

“Die reguleerder wou bykomend ook hê die departement moet bevestig dat hy ʼn verslag van ʼn kundige derdeparty rekenaarveiligheidmaatskappy ontvang het oor die geskiktheid en betroubaarheid van die rekenaarsekuriteit wat in plek gestel is wat betref persoonlike en gesondheidsdata wat deur of namens die regering gehou is rakende Covid-19. Die reguleerder wou toegang hê tot dié verslag.”

Die verslag is deur afgetrede regter Kate O’regan na die minister van gesondheid verwys. O’regan het gedien as die toegewyde regter wat die implementering van die naspoorprogram sou monitor om mense se privaatheid te beskerm.

“Alhoewel die departement bevestig het dat hy die reguleerder se skrywes ontvang het, het die departement tot dusver versuim om aan die reguleerder se versoeke te voldoen of bloot geweier om daaraan te voldoen. Dit is ondanks ʼn formele kennisgewing kragtens artikel 90 van die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (Popia) wat die reguleerder in November 2022 uitgereik het. Dié kennisgewing het dieselfde inligting versoek wat reeds skriftelik aan die departement gerig is. Daar was geen reaksie op die kennisgewing nie.”

Zondi sê die reguleerder het dus geen ander keuse nie as om die kwessie na die handhawingskomitee te verwys.

Adv. Pansy Tlakula, voorsitter van die reguleerder, voeg by die reguleerder het ʼn plig om die departement van gesondheid en nasionale instituut vir oordraagbare siektes (Nios) se nakoming aan die kennisgewing te monitor oor die prosessering van persoonlike inligting tydens die Covid-19-pandemie.

“Nakoming is nie opsioneel nie. Persoonlike inligting is tydens die pandemie ingesamel en daar moet aanspreeklikheid wees oor hoe dié inligting hanteer word. Ons was tot dusver toegeeflik jeens die departement, maar ons sal die data-onderwerpe versaak as ons, as die reguleerder, nie stappe doen om nakoming en aanspreeklikheid te verseker nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Chris ·

Ja? Daar het jul dit nou!!! Wat was nou so moeilik daaraan om delete te druk en die hoofraam ook skoon te maak. Vir die wat nog nie wakker is nie behoort dit darm seker verdag voor te kom?

Papsak ·

Alles omtrent Covid was lieg hoop almal se oe het oop gegaan

kragaap ·

Veral die wat oorlede is agv CV19 hulle is die hoof leuenaars.

Daisy ·

Ek is baie dankbaar ons het nie Covid opgedoen nie, het geen inligting op enige data versamelaars se dokumente gegee nie, het geen sogenaamde inentings en/of boosters gekry nie.
Ek bly maar onder die radar
En is dankbaar ek is gesond – het seker drie jaar laas verkoue gehad

Dandeleen ·

Jy hoef nie noodwendig Covid gehad het of die inspuitings gaan kry het vir hulle om jou inligting te verkry het nie. Somige mense soos ek het net gaan toets en nou het hulle dit.

Jacobus ·

Essensiële data soos bv werklike oorsaak van dood van dié wat ingeënt is sal jy nêrens kry nie. Insentiewe is reeds betaal, so dít sal nêrens te kry wees nie!

christo ·

Daar moet ons alweer hof toe. As die president nie hoe gehoor te gee aan die landswette nie, hoekom sal die Departement van Gesondheid dit doen? Hulle het dan self ‘n korrupte minister gehad wat gestaan het as ANC president kanidaat!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.