Derduisende ingesamel vir verbrande wynplaas

Samantha O’Keefe en haar twee seuns. (Foto: Verskaf)

Skaars ʼn dag nadat ʼn verwoestende veldbrand ʼn wynplaas in die Wes-Kaap verwoes het, het weldoeners meer as R200 000 geskenk om dié boer weer op die been te help.

Maroela Media het Dinsdag berig dat ʼn onbeheerde veldbrand op 11 Desember bo die Greyton-tuin uitgebreek het. Die brand het op CapeNature se Vrolikheid-reservaat begin woed en ʼn week lank verwoesting gesaai. Minstens drie huise is in die brand verwoes.

Volgens Reinard Geldenhuys, hoof van Overberg se brandweer, is die vuur glo deur kwaadwillige optrede van kinders begin.

Op 17 Desember het die Lismore-wynlandgoed by Greyton ook in die slag gebly. Dié plaas word besit deur die baanbrekerboer en wynmaker Samantha O’Keefe (48). Sy woon hier saam met haar twee seuns Quinn (14) en Keenan (16). Die brand het onverwags oorbeweeg na Lismore en binne 30 minute O’Keefe se huis, kelder en alles wat sy die afgelope 17 jaar opgebou het, vernietig.

In ʼn poging om haar plaaswerkers en diere te red, het O’Keefe die vuur ingery. Die plaaswerkers het oorleef, maar ʼn hond en twee katte het in die vuur omgekom.

“In ʼn poging om O’Keefe te help om haar onmiddellike finansiële verpligtinge na te kom en te help om haar huis, wingerde en wynkelders weer op te bou, is ʼn veldtog om skarebefondsing op die digitale platform BackaBuddy van stapel gestuur,” sê Zane Groenewald, bemarkingsbestuurder van BackaBuddy.

In minder as 24 uur is R224 000 van die beoogde R500 000 ingesamel en 130 plaaslike én internasionale weldoeners het hul beursies vir O’Keefe oopgemaak.

“Hoewel Sam ontsteld is oor die tragedie, is sy vol moed dat Lismore weer tot sy voormalige glorie herstel sal word. Die familie is oorweldig deur die ondersteuning wat hulle van die Greyton- gemeenskap ontvang het, sowel as vriende en vreemdelinge uit Suid-Afrika en die res van die wêreld,” sê Groenewald.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Merrie Perd ·

Nou kyk anc. Dis nou n “good story” Sterkte vir julle Samantha

Nettie ·

@Merrie Perd, ja – dis die A en See se “no-discipline delinquents” wat hierdie verskriklike trauma, ellende en skade veroorsaak het. En @Kas, ek stem saam – hulle moet vir die res van die skoolvakansie, sonder vergoeding, op die plaas en vir Cape Nature gaan werk om fisies die gemors wat hulle veroorsaak het, op te ruim. En hulle ouers moet finansieël aanspreeklik gehou word vir die koste van die brandbestrydingsoperasie.

Kas ·

Daai kinders moet nou op die plaas gaan werk om die skade te herstel Ek glo hulle het opdrag gekry om dit te doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.