Deurbraak gemaak in dwelmhandel in die Wes-Kaap

(Foto: SAPD Wes-Kaap)

Die Wes-Kaapse polisie het ʼn deurbraak gemaak in dwelmhandel in die provinsie toe hulle beslag gelê het op dwelms met ʼn geraamde straatwaarde van R2,1 miljoen in Thembalethu, George.

Sers. Chris Spies, woordvoerder van die polisie, sê die Outeniekwa-honde-eenheid het Sondag gereageer op inligting oor onwettige dwelmbedrywighede. “Hulle het ʼn span ontplooi na ʼn huis in sone 8, Thembalethu. Die inwoners het die perseel verlaat.”

Beamptes het beslag gelê op 36 550 mandrax-tablette, 300 g heroïen en 532 g tik. Die dwelms is gekonfiskeer.

“ʼn Ondersoek na die vonds is van stapel gestuur. Niemand is nog tot dusver in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.”

In ʼn onverwante voorval was polisiebeamptes van Albertinia en Kwanonqaba Saterdag op patrollie op die N2 naby Albertinia. Beamptes het twee verdagte mans opgemerk en hulle deursoek. Beamptes het beslag gelê op 500 mandrax-tablette. “Die verdagtes, onderskeidelik 26 en 47 jaar oud, is in hegtenis geneem op aanklag van dwelmhandel. Hulle bly in polisieaanhouding.”

Beamptes van die Tuinroete het Saterdagaand in Mosselbaai ook sewe verdagtes in hegtenis geneem op aanklag van dwelmhandel. Hulle het 80 mandrax-tablette, 20 g tik en klein hoeveelhede heroïen en dagga in hul besit gehad.

Alle verdagtes wat in hegtenis geneem is, sal binnekort in hul onderskeie howe verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Di ·

Dwelms is die grootste oorsaak van misdaad in die land! Dit en onwettige immigrante

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.