Deurbraak gemaak maande ná man verdwyn

Hennie Venter

Die polisie het twee mans in hegtenis geneem in verband met die moord op Hennie Venter (36) nadat menslike oorskot op ’n hoewe in Northam, Limpopo, gevind is.

Venter is op 11 September verlede jaar as vermis aangemeld. Die eerste deurbraak in die saak is vroeër vandeesmaand gemaak toe ’n taakspan, bestaande uit lede van verskeie eenhede, op ’n mes, panga en byl, wat glo gebruik is om Venter te vermoor, op ’n hoewe in Northam afgekom het.

Volgens brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder, is die ondersoek op die betrokke hoewe en omliggende gebiede verskerp en dit het tot die ontdekking van menslike oorskot gelei wat vermoedelik dié van die oorledene is.

“Die ontbinde oorskot is op verskillende plekke in die omgewing van die hoewe gevind waarna twee verdagtes in hegtenis geneem is nadat hulle positief met die moord verbind is.”

Die eerste verdagte is op 17 Julie in Bloemfontein in hegtenis geneem en die ander verdagte is Saterdag in Northam in hegtenis geneem. Volgens voorlopige ondersoek was die verdagtes bevriend met die oorledene en het hy hulle besoek toe hulle hom na bewering vermoor het.

Mojapelo het gesê die verdagtes het glo Venter se liggaam opgekap en dit op verskillende plekke in die omgewing van die hoewe begrawe.

“Die motief vir die moord en presies hoe die moord gepleeg is, sal deur verdere ondersoek bepaal word.”

Die verdagtes, albei 34 jaar oud, sal na verwagting Maandag op aanklag van moord in die Northam-landdroshof verskyn.

Lt.genl. Thembi Hadebe, provinsiale polisiekommissaris, het gesê die moord op Venter is een van die skokkendste voorvalle nog in Limpopo. “Ek wil die ondersoekspan onder leiding van kapt. Du Plessis loof vir hul noukeurige ondersoek wat gelei het tot die inhegtenisneming van die verdagtes. Ons hoop geregtigheid sal geskied vir die slagoffer en almal wat geraak word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Porseleintjie ·

Elke dag dink jy dinge kan nie erger nie. Niks kan mense meer skok nie. En dan lees jy so artikel. Genade. Sy vriende!!!!!,

Frank John ·

Wat het hy hulle voor gaan besoek en word hy dan sommer net vermoor,? Nee, sal graag wil hoor hoekom hy vermoor is en wat hy by hul gaan maak het. Watse besoek?

Elize ·

Die probleem is ons hoor nooit hoekom hulle vermoor is nie.

Deidré ·

Sjoe is vreeslik wat oral om ons aangaan.
Wat het met die mense gebeur dat hulle so optree.
Sterkte aan die familie

Swerwer ·

Meng jou met semels en die varke vreet jou op lui die spreekwoord.

Maritza ·

Hoe siek moet jy wees om jou vriend op te kap en te versprei?

Groen-oog ·

Die vraag is nie WAT HY DAAR GAAN SOEK HET NIE. DIS EERDER …. WWWAT HET TUSSEN HULLE GEBEUR WAT TOT DIE MOORD GELEI HET???

ONS ALMAL KUIER BY VRIENDE EN HULLE BY ONS EN NIEMAND WORD VERMOOR NIE.

J ·

Jy kan niemand meer vertroue nie!!
Jy is nêrens meer veilig nie!!
Verskriklik wreed!!

Kldguy ·

Al wat ek aan sy ouers susters en susters-kinders kan se is Sterkte daar. En sy sussie naby my. My skouers is breed vir jou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.